-deur Will Maule

10 Junie 2019

Owerhede in Oos-Indië het ’n Christen-skool laat platstoot in die nuutste vlaag van vervolging van die Christen-gemeenskap.

Volgens Morning Star News het die polisie 12 getraumatiseerde kinders weggeneem nadat die amptenare ’n Christen-skool en -koshuis naby die dorpie, Lichapeta in die Odisha-staat, gesloop het.

Verslae dui daarop dat Hindoe-ekstremiste, wat oor die afgelope paar jaar uiters gewelddadig teenoor die Christen-gemeenskap geword het, die plaaslike owerhede oortuig het om die plaaslike koshuis en skool te vernietig. Ongeveer 250 skoliere het die skool bygewoon.

Ná die gewelddadigheid het kinderbeskermingsdienste ses weeskinders en ses ander – wie se vaders deur die kommunistiese guerrilla-groep, die Naxalites, vermoor is – weggeneem.

“Die kinders het gehuil en gepleit, want hulle wou nie saamgaan nie,” het Vijay Kumar Pusuru, wat die skool gestig het, gesê. “Hulle het aan takke en bome vasgeklou, maar is genadeloos weggesleep.”

Pusuru het gesê dat sy skool die enigste een binne ’n radius van sowat 99 km was en het noodsaaklike onderrig aan die kinders van die omliggende gebiede gebied. Hy was geskok om onlangs uit te vind dat sy grondaansoek uit die plaaslike inkomste kantoor verdwyn het, nadat hy die skool in 2015 begin het.

“Die vorige inkomstebeampte wat die grond aan my toegeken het, is verplaas en met ’n nuwe beampte vervang” het Pusuru verduidelik. Met die Hindoe-ekstremiste wat druk op die plaaslike regering uitoefen, het Pusuru uiteindelik ’n swaar boete ontvang.

Hy het gehoop dit sou die einde van die storie wees, maar plaaslike amptenare het toenemend negatief geraak teenoor die bediening.

“Regeringsamptenare het die kinders besoek en hulle oor gebed uitgevra,” het Pusuru gesê. “Die kinders het gesê dat gebed elke oggend deel uitmaak van die saalopening.”

Die plaaslike owerhede het toe op die ou end aangekondig dat hulle die struktuur gaan sloop.

“Ons het gehuil en by hulle gepleit en hulle herinner dat die grond aan ons toegeken is deur die vorige beampte, maar hulle wou nie luister nie,” het Pusuru gesê. “Ek het baie in die gebou en die meubels belê – alles is nou weg.”

Die dorpenaars was net so geskok oor die owerhede se besluit om die skool te sloop, omdat hulle ook weet hoeveel werk die toegewyde onderwyser in die gebou en die bestuur van die instelling ingesit het. Die dorp se oudstes het ook elke maand ’n skenking aan die skool gemaak.

“Ek geniet die steun van die hele dorpie en hulle gee erkenning aan my werk,” het hy gesê. “Hulle het gesien hoe hard ek werk om die kinders op te hef.” Die skool is nietemin gesloop.

“Ons is aangerand toe ons vreedsaam geprotesteer het,” het Pusuru gesê. “Ek het vir hulle gesê hulle vandag amptenare omdat hulle die geleentheid gehad het om te studeer en dat hulle hierdie kindertjies ook die geleentheid moet gun, maar niemand het na my geluister nie.”

Hou aan om te bid vir alle christene wat vir hulle geloof vervolg word.

Foto: deur Atul Loke / Getty Images


Bron: faithwire.com

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.