-deur Benescke Janse van Rensburg

Wie sien jy as jy in die spieël kyk? Is dit iemand wat jy liefhet? Of haat jy haar omdat sy sukkel om daardie oortollige gewig af te skud, of vir die soveelste keer as ma opgeslip het?
“Ek het myself gehaat as ek in die spieël kyk,” vertel die vrou wat oorkant my in die
ateljee sit. Ek is geskok. Sy is beeldskoon. Haar donker hare hang glansend op haar skouers. Haar helderblou trui beklemtoon die kleur van haar oë. “’n Groep meisies op skool het my scar face genoem ná daardie ongeluk.” Dit was ’n ongeluk wat Eldine MacRobert se lewe ingrypend verander het. Haar beste vriendin het in die ongeluk gesterf. Hulle was net 16 jaar oud.
16 jaar oud.

’n Tiener in pyn
“As ’n tiener is ’n mens soekend na wie jy is en waar jy in behoort te pas.” Vir haar was die drie maande ná die ongeluk, waarin sy bedlêend was, intens. “Ek was kwaad vir God. Hoekom het Hy dit toegelaat? Hoekom het Hy my vriendin nie gered nie? Ek kon sien wat die verlies aan my vriendin se ouers doen en dit het my gebreek. In my woede, pyn en teleurstelling het ek my rug op God gekeer en van Hom weggestap.” Hierdie besluit het haar in ’n diep depressie laat verval.

Die vyand se strategie
Waar ek in die ateljee na Eldine se getuienis luister, is dit amper asof sy van iemand anders praat. Die merke op haar voorkop is nou, naby haar 40ste verjaarsdag, baie ligter en haar sprankelende persoonlikheid en selfversekerdheid ver-klap dat sy êrens in haar lewe genesing ontvang het. “Waar was die draaipunt vir jou?” vra ek.
“Dit was ’n lang en moeilike pad,”
getuig sy. “Maar ek is dankbaar vir God se geduld en genade vir my.” Terwyl Eldine vertel hoe sy na God teruggedraai het, Sy goedheid ontdek en haar identiteit in Hom begin vind het, besef ek dat dít ’n strategie is wat die vyand met soveel sukses in baie vroue se lewens gebruik. Sodra ons nie weet wie ons is nie, word ons maklik passief – en selfs depressief.

Vat die leuens vas
Die leuens strek nie net tot ons uiterlike nie. Die vyand jok vir ons oor ons vermoëns in die werkplek, dat ons nie goed genoeg as ma vir ons kinders, of vrou vir ons man is nie. As ons nie die leuens vasvat nie, beroof dit ons van ons selfvertroue en laat dit ons waardeloos voel. Wanneer ons egter die punt bereik waar ons Hom toelaat om ons te wys wie Hy ons gemaak het om te wees, verander alles.

“Hoe het dit gebeur dat die vrou wat voorheen ’n spieël gehaat het, nou elke dag as professionele stilis werk en vroue help om te weet wat om aan te trek en wat nie?”
Eldine lag. “Ek sou ook nooit kon glo dat God soveel herstel kon bring en my in hierdie rigting sou lei nie. Met Crown my Style is ek entoesiasties daaroor om vroue te help besef hoe waardevol hulle is.” Dan sê Eldine iets wat diep tref: “Voordat ek ’n kliënt sien, salf ek my spieël en bid ek dat wanneer sy haarself in die spieël sien, sy deur God se oë na haarself sal kyk.” En die terugvoer en getuienisse van kliënte wat daar wegstap met ’n ander persepsie van hulself, laat Eldine telkens met ’n knop in die keel. God hoor en verhoor haar gebede.
Terwyl ek Eldine groet en haar sien wegstap, tref dit my. God is genadig. Dit is nie Hy wat Eldine se pyn veroorsaak het nie; ons leef in ’n gebroke wêreld en daar sal seer wees. Tog, wanneer ons Hom toelaat, is Hy in staat om alles ten goede te laat meewerk. Wat haar grootste pyn was, is vandag die platform wat ander vroue vrymaak. Eldine is ’n monument van wat God kan doen wanneer ons Hom vra om ons met ander oë na onsself in daardie spieël te laat kyk!

BENESCKE
ROL BY RADIO TYGERBERG:
Omroeper (Brunch met BENESCKE, Weeksdae 09:00-12:00)

GEBOORTEDORP:
Bloemfontein

Verjaarsdag:
27 Augustus

Gunstelingkos:
Hoenderkorma of lekker lasagne
en slaai

Gunstelinggospellied &
-kunstenaar:
Daar is baie. Bethel Music.
Jesus Culture.

Gunstelingteksvers:
Psalm 37:5 “Laat jou lewe aan die Here oor. Vertrou op Hom. Hy sal sorg.”


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsluitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)