—deur David Malherbe

Ons leef in ’n tyd waar die herstrukturering van maatskappye aan die orde van die dag is. Dit beteken die aflegging van baie werkers. Mense wat dalk twintig of dertig jaar gelede laas werk gesoek het, moet nou skielik weer aansoek doen vir werk in ’n arbeidsmark wat baie anders lyk as tóé.

Pas aan by die tye
Tegnologiese veranderinge oor die afgelope 25 jaar het tot groot veranderinge gelei in die wyse waarop ons ons werk doen. Die werksoekproses het ook by die nuwe tegnologies-gedrewe manier van doen aangepas. Daarom is dit nodig dat ons ook met die werksoekproses aanpas en die hedendaagse tegnologie tot ons voordeel benut. In Lukas 16:8 sê Jesus: “Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.” Ek glo dit is nodig dat daar eerder van ons as gelowiges gepraat sal word soos van “die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan”
(1 Kron 12:31).

Onderskei jou van die res
Aangesien so baie mense hul werk verloor, bring dit mee dat besighede deesdae soveel meer werkaansoeke ontvang. Verder versoek die meeste werkgewers deesdae dat aansoeke per e-pos gestuur word. Dit veroorsaak dat al die aansoeke die werkgewer basies in dieselfde formaat bereik. Tog moet jy poog “to not only stand out, but to stand ‘way’ out” – soos Amerikaanse besigheidskrywer, Tom Peters skryf. Hoe doen ’n mens dit?

Prikkel die werkgewer se belangstelling
Veronderstel ’n werkgewer kry 200 aansoeke vir ’n sekere pos, hoe moet jou aansoek en CV lyk om tussen al daardie aansoeke uit te staan en die oog te vang? Onthou: Jy moet jouself as ’n produk bemark. Jy het net sowat 20 sekondes om jouself te verkoop. Dit is hoe lank dit ’n werkgewer neem om jou aansoek vinnig deur te kyk en dan te besluit of daar iets is wat uitstaan en hulle belangstelling prikkel om verder te lees.

Antwoord die belangrikste vraag
Daarom moet jou CV die belangrikste feite só uiteensit dat die werkgewer ’n vinnige besluit daaroor kan neem. Dit is baie belangrik om deeglik te besin oor dit wat jy nodig ag om by jou CV in te sluit. Wanneer ’n voornemende werkgewer na jou CV kyk, wil jy hê dat hy / sy aan jou moet dink as iemand wat die onderneming tyd en geld kan bespaar. Beantwoord jou CV die onderneming se belangrikste vraag: “Wat kan jy vir ons doen?”

Die nuwe werksoekproses
Die beste praktyk t.o.v. die werksoekproses moes ook met die verloop van tyd aanpas. Die voor die hand liggende werkwyse was nog altyd om koerante of ander publikasies te raadpleeg vir poste wat geadverteer word. Tog is dit deesdae die laaste plek waar werkgewers na geskikte kandidate soek. Daar word baie meer poste gevul as dié wat geadverteer word. Daarom sal dit voordelig wees om jou aansoekproses aan te pas by die manier waarop werkgewers te werk gaan om potensiële werknemers te werf. *

’n Ander platform wat deesdae ’n groot rol in die arbeidsmark speel, is LinkedIn.
Dit is tans een van die sosiale media platforms wat die vinnigste groei, met sowat 650 miljoen lede. LinkedIn is nie net voordelig vir persone wat werk soek nie. Dit is ook ’n uitstekende platform vir werkgewers wat werknemers met spesifieke vaardighede soek, besighede wat diensverskaffers vir bepaalde projekte benodig of vryskutwerkers wat hul vaardighede wil bemark.

Is jou LinkedIn-profiel doeltreffend?
LinkedIn is ’n baie doeltreffende platform in die arbeidsmark indien jou profiel reg opgestel word. Tog is minder as 5% van alle LinkedIn-profiele enigsins doeltreffend. Onthou dat sleutelwoorde (tag words), wat algemeen deur soekenjins gebruik word, ook kan bepaal of iemand jou op LinkedIn kan opspoor. Dit is dus van kardinale belang dat jou LinkedIn-profiel só opgestel word dat jy een van die 5% met ’n doeltreffende LinkedIn-profiel sal wees. Sekere afdelings van ’n LinkedIn-profiel laat slegs ’n sekere aantal karakters toe en soekenjins soek slegs op spesifieke areas van jou profiel vir sleutelwoorde. Indien jou LinkedIn-profiel werklik effektief is, sal LinkedIn ’n All Star-gradering op jou profiel aandui.

Die fyner besonderhede is nou uiters belangrik
Wanneer die voorafgaande in ag geneem word, maak dit sin dat al hoe meer mense deesdae kundige advies inwin om hulle met die opstel van hul CV’s en LinkedIn-profiele te help. Dit gaan beslis nie meer net oor jou kwalifikasies en wat jy kan doen nie. Die fyner besonderhede van hoe dit aangebied word, is nou belangriker as ooit. ’n Soekenjin gaan jou net “raaksien” as jy die regte woorde op die regte plekke ingetik het. Byvoorbeeld: ’n Werkgewer soek nie noodwendig ’n hoof uitvoerende bestuurder (CEO) nie, maar iemand wat ’n sekere werk kan doen.

Bied jouself die beste kans op sukses
Salomo het gesê: “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen …” (Pred 9:10) en “… iemand wat vaardig is in sy werk, kom in die diens van konings, nie in die diens van mense sonder aansien nie” (Spr 22:29). Hy het egter ook gesê: “Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie …” (Pred 9:11).
Laat ons dus onsself die beste kans op sukses bied deur selfs in ons werksoekproses soos Daniël met “buitengewone bekwaamheid uit te blink bo ander…” (Dan 6:3).

* Sou jy graag ’n uiteensetting van die beste werksoekproses wil bekom, stuur jou versoek na info@jedidiah.org.za

DAVID MALHERBE is ’n sake- en loopbaankonsultant, spreker en skrywer. Hy is ’n kenner ten opsigte van CV’s en LinkedIn. Hy bied ook die lewensveranderende kursus “Business by the Book / Besigheid volgens Bybelse Beginsels” vir Christen-sakelui aan en tree graag as spreker op. Besoek jedidiah.org.za


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)