—deur David Malherbe

“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” – Romeine 12:2

Elke nuwe projek of besigheid wat ’n mens aanpak, word deur ’n bepalende denkproses voorafgegaan wat dikwels reeds die kiem van die sukses of mislukking daarvan bevat. Mense met ’n positiewe ingesteldheid en denke bereik gewoonlik veel meer as dié wat voortdurend op die negatiewe fokus.

Wees versigtig waaraan jy jou blootstel
In Spreuke 4:23 sê die wyse Salomo: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Ja, daar is altyd ’n magdom stemme wat vir ons aandag wedywer. Aan wie jy jou oë en ore uitleen, bepaal inderdaad jou hele lewe. Ons het ’n keuse. Corrie ten Boom het gesê: “If you look at the world, you will be distressed. If you look within, you will be depressed. But if you look at Christ, you will be at rest.”

Die siklus van slegte nuus
Van elke openbare radio- en televisiestasie word vereis om daagliks ’n sekere aantal ure aan nuusdekking af te staan. Daarom word onaangename nuus dikwels tot vervelens toe herhaaldelik in diepte bespreek en word elke moontlike negatiewe gevolg beklemtoon. Ons het 2019 met ’n Eskom- en ’n SAL-krisis afgesluit wat ons almal die harnas ingejaag het. Ja, goeie nuus verkoop nie koerante nie en daarom word nuus wat sensasioneel of vreesaanjaend is, dikwels holrug gery. Kyk veral na die boodskap van koerantopskrifte. “Die tong is ’n vuur, ’n wêreld vol ongereg-tigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek” – Jakobus 3:6. Dit klink vir my soos baie van die nuus wat ons ore tot vervelens toe bereik.

Voed liewer jou gees
Ek is nie ’n volstruis wat my kop in die grond probeer steek om die werklikheid van wat gebeur, te ontken nie, maar ons moet ook onthou ons leef in ’n tyd waar beide “post truth” en “fake news” al as woorde van die jaar aangewys is. Jesus het vir ons gebid: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.” – Johannes 17:17

Ek kan my gees voed deur heeldag na die nuus te luister, die koerant te lees of sosiale media te verorber totdat ek depressief of beangs raak oor alles wat verkeerd kan gaan. Alternatiewelik kan ek hierdie wêreldse stemme ’n bietjie uitdoof en meer tyd aan Bybel lees en gebed bestee en ek kan na Christelike musiek en radiostasies luister wat my gees voed. Die wêreldse media laat ons moedeloos voel, terwyl die Here se Woord en Heilige Gees ons wil opwek en nuwe hoop en moed gee. Met behulp van die internet het ons toegang tot baie (Christelike) radiostasies. Ons moet egter kies waarvoor ons ons ore uitleen.

Vernuwe jou denke
Jesus leer ons bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” – Matteus 6:10. Ons kan slegs meewerk om God se koninkryk op aarde te vestig as ons denke sodanig vernuwe word dat ons die wêreld vanuit God se perspektief kan sien. Paulus skryf aan die Romeine: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” – Romeine 12:2. Aan die Korintiërs skryf hy: “Ons word (moet) al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.” – 2 Korintiërs 3:18

Dus is Paulus se oproep dat ons nie moet aanpas by die patroon waarin die wêreld ons wil vorm nie, maar dat ons moet verander sodat ons die beeld van Christus toenemend sal uitstraal. Paulus begeer dat ons “onberispelik en opreg sal kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou” (Fil 2:15-16).

Vrees oor klimaatsverandering
Daar word onder andere deesdae baie vrees gesaai oor hoe klimaatsverandering ons lewe op aarde bedreig en dat ons die laaste geslag is wat dit kan verander. Vir ongelowiges is dit vir seker die opperste antwoord. As ’n mens glo dat God nie bestaan nie, glo jy dat die mens in beheer is en self ’n plan moet maak. Dit is so dat God Adam beveel het om op die aarde te heers (Gen 1:28) en om dit te bewerk en te bewaak (Gen 2:15). Tog twyfel ek of dit enigsins in die mens se vermoë is om die aarde “reg te ruk” – al ons pogings ten spyt. Ons Skepper sit vir seker nie in die Hemel en “naels kou” oor dít waaroor die hele wêreld op hol is nie. In Genesis 8:22 sê God vir Noag: “So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.” Gemeet aan wat ons daagliks en elke jaar beleef, is hierdie Woord van God steeds waar.

Rig jou gedagtes op God
Die Woord van God sê: “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie” – Kolossense 3:2 en “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ’n mens nie; hy kan jou nie red nie – Psalm 146:3-5, asook: “Dit gaan goed met die mens wat … in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink ” – Psalm 1:1-2.
Laat ons dan in 2020 ons oë op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof, gevestig hou (Heb 12:2).


David Malherbe is ’n sake- en loopbaankonsultant, spreker en skrywer. Hy bied graag die kursus Business by the Book / Besigheid volgens Bybelse Beginsels vir Christen-sakelui aan en tree as spreker by gemeentes, manne- en vrouegroepe, skole en ouetehuise op. Kontak hom by info@jedidiah.org.za of besoek jedidiah.org.za


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)