—deur Stephan Joubert

Die koronavirus saai wêreldwyd amok. Almal is beangs, bang en onseker. Hierdie virus het geen respek vir landsgrense of enigiemand nie. Selfs al sluit talle lande hulle grense, marsjeer die virus onstuitbaar voort. Dit steek oseane ewe maklik oor.

Die virus ontsien niemand nie
COVID-19, soos dit bekendstaan, teiken ryk en arm, oud en jonk, onbekend en bekend. Die eerste minister van Engeland, Boris Johnson, is ook met die virus gediagnoseer, asook Hollywood-sterre soos Tom Hanks en sy vrou. Kort nadat 100 lande oor 6 kontinente hierdeur getref is, het die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) dit op 11 Maart 2020 as ’n internasionale pandemie verklaar. Skaars 24 uur later het nog 14 lande op die COVID-19-radarskerm verskyn. Wêreldwyd sluit skole en universiteitskampusse. Sportbyeenkomste, motorskoue en musiekuitvoerings word gekanselleer. Vliegtuie word verbied om tussen sekere lande te reis. Angela Merkel, die kanselier van Duitsland, meen dat hierdie virus die potensiaal het om twee derdes van alle Duitsers aan te steek. Dit is dus geen wonder dat regerings wêreldwyd hulle uiterste bes doen om die verspreiding hiervan te stuit nie.

Wêreldkrisisse en doemprofete
Terwyl die hele wêreld onder die impak van die koronavirus steier, het dit tussendeur die nuutste speelgrond geword vir dié wat wêreldkrisisse aan Bybelse profesieë, of die een of ander hemelse oordeel, probeer verbind.

Dit raak ons ook persoonlik
Hier in Suid-Afrika word ons almal direk en indirek deur die koronavirus geraak. Ons rand wankel hulpeloos rond. Ons aandelebeurs steier. Terwyl ek hier sit en skryf, is ons ekerk-toer na Israel sopas ook tien dae voor die vertrekdatum gekanselleer. Die rede: Israel is sedert 12 Maart amptelik onder kwarantyn. Die koronavirus is ’n internasio-nale ramp van ongekende omvang.

Harte vol medelye en hande wawyd oop
Daarom moet ons, as gelowiges, goed nadink oor hoe om in ’n tyd soos hierdie op te tree. Om mee te begin, moet ons al daardie doemprofete vermy wat COVID-19 in verband probeer bring met die een of ander hemelse vergeldingsaksie. Sulke roetes help niks nie – behalwe om almal se gemoedere net nog verder op te klits. In die woorde van Kolossense 4:5-6 moet ons juis nou met wysheid optree, veral teenoor buitestanders. Ons woorde moet met sout besprinkel wees. Ons harte moet vol medelye wees en ons hande moet wawyd oop wees.

Pandemies in die Romeinse Ryk
As navolgers van Christus moet ons onsself in hierdie tyd ook opnuut aan ons voorouers in die geloof se optrede herinner, toe húlle sulke epidemies beleef het. Dink byvoorbeeld aan daardie skrikwekkende pandemie wat van
165 tot 180 n.C. oral in die Romeinse Ryk gewoed het. Dit was vermoedelik masels of waterpokkies. Dit was so ernstig dat die Romeinse geskiedkundige, Dio Cassius (155-235 n.C.) vertel het dat tot 2 000 mense per dag in Rome gesterf het. Altesaam meer as 5 miljoen mense het hulle lewens verloor as gevolg van hierdie epidemie. In die jare 251 tot 266 n.C. het ’n soortgelyke epi-demie die Romeinse Ryk getref. Party navorsers reken dat tot 50% mense wat dit onder lede gehad het, gesterf het.

Selfopofferende liefde Siprianus, die biskop van Carthago van 249 tot 258 n.C, vertel hoe Christene ten tye van hierdie epidemie hulle harte en lewens vir die siekes en die sterwendes oopgestel het. Hulle het ook gesorg dat die dooies eer-baar begrawe is. Ander kerkleiers in daardie tyd vertel op hulle beurt hoe gelowiges die siekes in hulle huise ingeneem en versorg het. Baie Christene het self ook gesterf as gevolg van hulle ontferming oor mense in nood. Al het sommige gelowiges hulle eie lewens ter wille van ander verloor, het hulle nogtans met hulle gebede, kos, klere en liefdevolle versorging derduisende ander mense se lewens gered.

Ons volg Sy voorbeeld
Christus roep ons hier, in 2020, op tot ’n hoër standaard as ons eie – na Syne! Hy het Sy lewe ter wille van ons afgelê. Hy is ons voorbeeld. Ons volg Hom tot die einde toe. Ons doen dit ook wanneer die koronavirus orals amok maak.


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)