—deur David Malherbe

As ek jou sou vra: “Waarvoor werk jy?” wat sou jou antwoord wees? ABBA se liedjie, “Money, Money, Money” verwoord waarskynlik ons gevoelens as hulle sing: “I work all night, I work all day, to pay the bills I have to pay.” En dan die versugting: “Must be funny (and sunny) in the rich man’s world, all the things I could do if I had a
little money.”

Lukas Maree het dit ook goed gestel in sy treffer, “Miljoen”: “Ek sou kon doen met ’n miljoen, want daarmee was die wêreld vir my oral immergroen. Ek soek nie baie geld nie, net ’n klein ou fortuintjie, ’n vliegtuig en ’n seiljag dalk, ja, al is dit net ’n kleintjie. Ek dink nie ek wil ryk wees nie. Ek wil net graag genoeg hê …”

Hoeveel is genoeg?
Maar hoeveel is genoeg? Jy kan enigiemand, ryk of arm, vra hoeveel genoeg is en almal sal antwoord dat hulle graag meer wil hê as wat hulle tans het. Die Bybel waarsku ons egter teen die versoeking om geld na te jaag. “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie.” – Prediker 5:9
Paulus waarsku ook vir Timoteus: “Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking … Geldgierigheid (the love of money) is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.” – 1 Timoteus 6:9-10

Opgaar en stoor
In sy boek, When the Game is over, it all goes back in the Box, skryf John Ortberg oor die bymekaarmaak en opgaar van besittings. Hy sê, ons sien dinge en wil dit dan hê. Ons koop dit, stal dit uit, verseker dit en vergelyk dit met wat ander mense besit. Ons dink as ons genoeg het, sal ander ons as suksesvol sien en dít gee ons ’n gevoel van sekuriteit.
Volgens hom koop ’n mens ’n huis en bekom dan besittings om daarin te plaas totdat jy besef dat jy ’n groter huis benodig. Uiteindelik gaan ons sover om stoorruimtes te huur sodat ons nog meer besittings kan stoor. Daar is deesdae baie besighede wat uitsluitlik gemik is op die verhuring van stoorruimtes, ’n tipe besigheid wat 50 jaar gelede nie bestaan het nie.

Leef asof jy dit nie besit nie
Oor die algemeen is dit moeilik om van jou besittings weg te gee omdat jy ’n emosionele band daarmee vorm. Jy onthou hoe jy jare lank begeer het om ’n sekere ornament, meubelstuk of dalk ’n antieke motor te besit en noudat jy dit het, lei die sentiment daartoe dat jy nie kans sien om weer daarvan ontslae te raak nie. 1 Korintiërs 7:30 sê egter: “ … dié wat iets aankoop, [moet leef] asof hulle dit nie besit nie.”

Hoe gaan jy met jou besittings om?
Mense wat baie besittings bymekaarmaak, staan bekend as versamelaars en moet later groter store bou om hul versamelings te huisves; ons betaal selfs toegangsgeld om hulle versamelings te besigtig.
Is dit ’n sonde om ryk te wees en baie besittings te hê? Vir seker nie. Die Here het Salomo geseën en hy was sekerlik die rykste man ooit. Dit gaan nie oor hoe ryk jy is nie, maar hoe jy omgaan met die geld en besittings wat God aan jou toevertrou het. “As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie.” – Psalm 62:11
Dit blyk dat Salomo se rykdom hom nie werklik gelukkig gemaak het nie. In Prediker 2:18-22 sê hy: “Ek het alles gehaat waarmee ek my in hierdie wêreld met soveel sorg besig gehou het, want ek moet dit nalaat aan dié een wat ná my kom … een wat glad nie daarvoor gewerk het nie. Dit is nie reg nie. Ook dit kom dus tot niks. Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?” Paulus het ook vir Timoteus hieraan herinner toe hy geskryf het “… want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie.” – 1 Timoteus 6:7

Jesus het tydens die bergpredikasie gesê: “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” – Matteus 6:24
Alles behoort aan die Here Ons sien dus dat ons besittings en rykdom baie maklik vir ons belangriker kan word as ons verhouding met God. John Ortberg herinner ons daaraan dat ons besittings nooit ons eie is nie. “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here.” – Psalm 24:1

Verder sê die Woord: “… ons is soos vreemdelinge wat net tydelik hier woon, en dit was die geval met ons voorvaders ook … al hierdie goed wat ons bymekaar gebring het … het ons van U gekry, en dit behoort eintlik alles aan U” – 1 Kronieke 29:15-16 (LB). “Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan.” – 1 Korintiërs 7:31

Plaas jou hoop op God, nie rykdom nie
Ek dink Paulus som dit goed op as hy vir Timoteus sê: “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.” – 1 Timoteus 6:17-19

Wie dien jy dus met jou werk en jou geld: God of mammon?

DAVID MALHERBE is ’n sake- en loopbaan-konsultant, spreker en skrywer. Hy bied graag die lewensveranderende kursus Business by the Book / Besigheid volgens Bybelse Beginsels vir Christen-sakelui aan en as spreker by gemeentes, manne- en vrouegroepe, skole en ouetehuise op. Kontak hom by info@jedidiah.org.za of besoek jedidiah.org.za


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)