—deur prof. Gerrie Bester

As jy mense deesdae vra wat die belangrikste element van ’n land se grondwet moet wees, of wat hulle as die basiese grondslag van menseregte beskou, sal jy waarskynlik telkens dieselfde antwoord kry: “Vryheid”. Wat is die definisie van vryheid? Of miskien moet ons vra: Wie se definisie van vryheid hang ons aan?

Mensgemaakte vryheid
Mense gebruik terme soos “vryheid van spraak” om met die ingesteldheid: “Waag net om my te probeer keer,” te sê wát hulle wil, wánneer hulle wil. Nog ’n gewilde term is “vryheid van keuse”. Mense kies wat hulle pas volgens hulle eie wil – ongeag van wat Abba Vader se Woord sê. Dan is daar natuurlik godsdiensvryheid [wat opsigself goed is, maar ook volgens humanisme die mens die reg toe-eien om te glo wat hy wil]. “Ek sal besluit wié of wát ek wil aanbid en hóé ek wil aanbid. My geloof is persoonlik, privaat en my eie keuse.”
Ek kon nog nooit ’n Bybelteks vind om hierdie interpretasie te steun nie. Miskien verklaar dit waarom daar wêreldwyd bykans 41 000 denominasies is wat hulself “Christelik” noem. Hulle stry en debatteer met mekaar op die mees onchristelike manier. Die lys van hierdie mensgemaakte “vryhede” is lank.

Ironiese ‘vryheid’
In Suid-Afrika vier ons selfs Vryheidsdag as ’n openbare vakansiedag. Watter of wie se definisie van vryheid is ons veronderstel om op daardie dag te vier? Vryheid van wat? Ons land is beslis nie vry van geweld nie. Rassisme is ongelukkig ook springlewendig en ons land is besig om te versmoor weens korrupte sakepraktyke. Suid-Afrika word deur soveel dinge gebind wat besig is om die land op sy knieë te dwing. Ek vra weer: Vry presies waarvan?

Ons skoolopleiding is ’n ramp
Ons kinders word selfs goddelose gesegdes geleer soos: “Reëls is daar om gebreek te word” en dan word daar oor die manifestasie van daardie woorde gelag. Dissipline het tot in so mate agteruitgegaan dat dit bykans ’n mite in ons skole geword het en gehoorsaamheid ’n term is wat op die randjie van uitwissing staan! Maar ten minste is ons “vry”.

Wat is vrygeestigheid?
Moenie die ergste een van almal vergeet nie – die behoefte om vrygeestig (a free spirit) te wees. Wat op aarde beteken dit? My gees is vry – vry waarvan, of liewer, van wie? Vors die basiese definisie van vrygeestigheid na, dan ontdek jy dit sluit onder meer in om ongeïnhibeerd net tot voordeel van jouself besluite te neem, om slegs dié te aanvaar wat jou keuses aanvaar, of om na ander oortuigings en mense te gryp wat jou behoeftes beter kan vervul as dié wat met joune bots. Met ander woorde: “Ek wíl wat ék wil en ek sal self besluit, ek sal dit op my manier doen – en ek verwag van jou om dit te respekteer, ongeag of jy daarmee saamstem. Solank ek jou nie pla, of my dade niemand seermaak nie, sal ek doen wat ek wil!”

Die vraag is waar pas die gebed: “Here, U wil en nie myne nie” dan in? Wat van Abba Vader se wil? Die wil van die Een wat jou met ’n doel, droom en plan vir jou lewe geskape het. Waar, of wanneer draai ’n sogenaamde vrygeestige mens van eiegeregtigheid weg om ruimte te maak vir gehoorsaamheid in ’n verbond met die Groot EK IS en om Sý wil te doen?

Opstandigheid teen gesag
Die prentjie van vryheid waaraan ons gewoond geraak het, behels hoofsaaklik onafhanklik-heid van ander en om vry van enige vorm van beperking te wees. “Solank niemand mý besluite en vryhede bepaal of beheer nie, is ek tevrede.” Kan dit wees waarom so baie mense tot ’n groot mate ​tussen opstandigheid teen gesag en goedkoop genade vassit?

Bybelse vryheid
Wat leer die woord van God ons oor ware vryheid? Wat is Abba Vader se definisie van vryheid? Wat as ons die definisie heeltemal verkeerd verstaan en nie volgens die Woord van Abba Vader nie? Hoe kan ons in verbond met ons Bruidegom lewe, as ons nie eens weet wat dit beteken om in vryheid – volgens Sy wil – te leef nie? Wat beteken verse soos Johannes 8:32: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak” of, “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” – 2 Korintiërs 3:17?

Gaan terug na die waarheid
Ek nooi jou om in die volgende paar uitgawes saam met my te reis terwyl ons die Woord van Abba Vader bestudeer. Ons ondersoek die oorspronklike Hebreeuse terme en insig en bestudeer die Bybel met betrekking tot vryheid. Ek was aangenaam verras toe ek die helder, ware prentjie sien wat die Woord van God oor vryheid skilder – Sy weg. Is jy gereed, kosbare skepping van God?


PROF GERRIE BESTER PHD CA (SA) lei Roaring Truth Ministries. E-pos info@roaringtruth.co.za Hy is ook die dekaan van Emet Adacemy of Learning. Besoek emetgroup.co.za


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)