-deur prof. Gerrie Bester

Ons bestudeer vryheid om ’n beter begrip van ware Bybelse vryheid te kry. In die vorige artikel het ons gekyk na wat dit beteken om nié vry te wees nie. As ons, byvoorbeeld, mishandel of verwerp word, verskuif die meeste van ons die fokus na ’n plek waar ons nooit weer sal toelaat dat dit met ons gebeur nie. Soms fokus ons só daarop om onsself te beskerm, dat ons nie genesing kan ontvang nie en Vader se begeerte om ons van die pyn te bevry, heeltemal miskyk. Ons moet besef dat vryheid – volgens die Woord van Abba Vader – nie hoofsaaklik geanker is in die feit dat so iets nie weer sal gebeur nie, maar eerder in die feit dat Hy ons wil genees. Vryheid is nie ’n politieke mensereg nie, maar ’n geskenk waarvoor daar aan die Kruis van Golgota betaal is.

Moenie jouself isoleer nie
Soms gaan ons selfs oor tot die uiterste vorm van selfbeskerming deur ander te verwerp, voordat hulle ons kan verwerp. Dít is nie ’n lewe van vryheid nie. Om fyngevoelig te wees, word ’n gewoonte en dit is die teelaarde vir vrees. Die gevolg is dikwels dat ons onsself isoleer. Dit belemmer verhoudings met ander omdat dit nie op ’n gesonde fondament gebou word nie, want ons fokus is om nie seer te kry nie.

Wat sê die Bybel?
In die vorige artikel het ons gekyk na koning Dawid se woorde in Psalm 119 waar hy sê dat hy vryheid ervaar omdat hy die bevele van Abba Vader gehoorsaam. “Ek sal in vryheid kan lewe, want ek soek u bevele”– Psalm 119:45 (NLV). Die Hebreeuse woord, “rachav”, is met die woord “vryheid” vertaal. Hierdie woord beteken “’n wye innerlike ruimte, om aan God se bevele gehoor te gee”. Dit beteken dat die opdragte van die Vader vir ons die ruimte van vryheid skep waarbinne ons kan lewe.

Kom ons kyk na ’n voorbeeld:
Ons is in die woestyn waar die Egiptenare die kinders van Abba Vader verwoed agternagesit het. Die volk, Israel, is vasgekeer teen die Rooi See. Die see het met die opdrag van Abba Vader oopgegaan. As Moses die Vader se opdrag verontagsaam het, sou die vyand – Egipte (mitz’rayim, wat beteken “dit wat jou bind”) – die kinders van Abba Vader in ’n plek vasgekeer het waaruit hulle nie sou kon ontvlug nie. Vanweë die gehoorsaamheid aan die Vader se bevele, het die kinders van God egter in vryheid deur die Rooi See gestap. Ons moet verstaan ​​dat die bevele (Woord) van die Vader die weg baan vir Sy orde en Sy wil om te geskied.

Vryheid van verantwoordbaarheid
Psalm 119:104 verkondig dat die bevele van Abba Vader ons insig gee en veroorsaak dat ons alle valsheid haat. Vryheid van verantwoordbaarheid is nie ware vryheid nie – dit laat ons in die see van verlatenheid beland. Dink aan die volgende prentjie van ’n trein om hierdie beginsel te begryp. Vir die trein om volgens sy doel en ontwerp te funksioneer, het dit treinspore nodig. Dit kan slegs funksioneer binne die vryheid van die vasgestelde treinspore. Sou die trein “ontspoor”, sy wiele die treinspore verlaat, vernietig dit die hele bestaansdoel van die trein eerder as om dit meer vryheid van beweging te gee. Ware vryheid behels om jou deur Hom te laat rig.

Waarvan moet ons bevry word?
Is dit die rede waarom Jesus self sê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” – Johannes 8:31-32. Die Jode het dadelik geantwoord dat hulle afstammelinge van Abraham is en nog nooit slawe van enigiemand was nie. Hulle kon nie verstaan ​​waarvan hulle bevry moes word nie. Jesus het vir hulle gesê dat almal wat sonde doen, slawe van die sonde is. ’n Slaaf het nie ’n permanente plek in ’n familie nie, maar ’n seun wel. Jesus verwys beslis nie na ’n politieke definisie van vryheid nie, maar na ware Bybelse vryheid. Jesus sê verder ook: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” – Johannes 8:36. Ware vryheid!

Ware definisie van vryheid
Volgens die Woord van Abba Vader is die ware definisie van vryheid, nie om te kan kies net wat ons wil nie, maar die wete dat wat ons doen, in pas is met die wil van God. Dit bevry ons van die angs om nie te weet watter kant toe nie en ook van die druk dat ons alles op ons eie moet uitpluis. Dit bevry ons van die vrees om nie te weet wat reg en wat verkeerd is nie. Iemand sonder die Woord van die Vader is ’n slaaf van die wêreld. So ’n persoon is blind vir die pad wat die Vader vir ons aangewys het, want God se Woord is die lamp vir ons voete (Ps 119:105). Sonder die Woord van Abba Vader, het ons nie die Weg nie, want Jesus is die lewende Woord (Joh 1:14) en is die weg, die waarheid en die lewe.

Ware vryheid is in Christus
Wanneer ons ongehoorsaam is aan die Woord van God, boet ons ons vryheid in. Hoe verder ons in ons soeke na wêreldse vryheid, weg beweeg van die Woord van die Vader, hoe meer word ons gebind in slawerny en verwerp ons die Gees van die Here, wat ware vryheid bring!


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)