-deur Lourieke Haller

Die drie vriendinne, Rouchelle Liedemann, Karien Basson en Benescke Janse van Rensburg ken mekaar al ’n geruime tyd. Benescke en Karien se paaie het by Radiokansel gekruis en dié drie het sewe jaar gelede min of meer dieselfde tyd by Radio Tygerberg 104fm begin werk. Karien en Benescke het die Drive-time slot beman en Rouchelle die oggendgleuf tussen 9:00 en 12:00.
Hulle het vroeër vandeesmaand VRINNE geloods, ’n platform op sosiale media waar vriendskappe, entrepreneurs en vroue gevier word. “Ons land is ryk is aan kreatiewe vroulike entrepreneurs,” sê Benescke “en die uitdaging vir heelwat van hulle is dat hulle nie tyd of geld het om hul produk te bemark nie. VRINNE wil daardie gaping vul.” Om dít te doen beplan die VRINNE om elke Donderdag ’n resensie-episode op hul YouTube-kanaal te laai waartydens hulle gesels oor van die produkte of dienste wat hulle gaan uittoets het.

Hóé goed ken julle drie mekaar?
K: Omdat ons van die begin af saam gewerk het op projekte vir Radio Tygerberg104fm het ons werklik ook vriende geword. Ons is al deur diep waters – persoonlik en in ons vriendskap. Ons is drie totaal uiteenlopende persoonlikhede, maar baie ernstig oor ons roeping en gefokus op dit wat die Here vir ons in die toekoms beplan het. Ons het dit reggekry om mekaar heeltemal uit te sorteer, te ondersteun, vir mekaar te bid en die beste vir mekaar te wil hê. Ons ken mekaar se sterk- en swakpunte en is baie eerlik met mekaar. Ons hou nie van konflik nie, maar skroom ook nie om iets wat pla aan te roer nie, maar dit gaan gepaard met baie goeie kommunikasie en baie lag!

Wat was die katalisator vir VRINNE?
R: Ons het al soveel ervarings saam deurgemaak en wil graag van die werklikhede met ander deel.
K: Ons hartklop en visie vir vrouebediening is dieselfde. Benescke se hart is vir die onder-
steuning van kleinsakeondernemings en kinders, Rouchelle wil vroue in gemeenskappe bedien en my hart is altyd vir diere en die mamma wat twee werke doen om te sorg dat haar kind op ’n sportkamp kan gaan.
B: In die era waar ons leef het vroue ‘n plek nodig waar hulle kan lag, ontvlug en connect. Ons hoop VRINNE sal dit vir hulle wees.

Hoe beplan julle om dit te doen?
K: Deur verskeie afdelings in VRINNE – die ondersteuning en produkbekendstelling vir klein ondernemings met ’n aanlynwinkel; weeklikse sosiale media-video’s; ge-meenskapswerk en geleenthede vir vroue, tienermeisies en dogters wat ons
sal aanbied.
R: Buiten die besigheidswenke, gaan VRINNE vroue ook vermaak. Ek hou van lag en dit is wat ons saam met die vroue wil doen. Ons wil saam lag oor ons tekortkominge, maar ook gesels oor dinge wat die hart raak – kinders, ons huwelike, seks, ons gesondheid.

Hoe kan die vroue by VRINNE “aanhaak”?
K: Ons nooi kleinsakeondernemings om ons te kontak. Ons wil hulle graag ondersteun deur hul produkte te resenseer en bekend te stel. Ons gaan weekliks ’n video plaas wat vroue inlig oor produkte en raad gee oor dinge waarmee ons (en ek glo elke ander vrou) ook sukkel …
R: Hulle kan ons op Facebook, Instagram en YouTube volg. Like, share en tag ons.

Kies julle die entrepreneurs of kan mense julle nader? Moet mense betaal om op julle program te wees?
B: Ons kies vroue op grond van die kwaliteit van hul produkte en die diepte van hul stories. Ons het twee afdelings: Ons vier die entrepreneur en dan kyk ons na ander produkte op die mark wat ons resenseer.
K: Mense kan ons e-pos. Geen betaling is nodig nie, maar ons waardesisteem is vir ons belangrik. As jy ’n besigheids-persoon is wat volgens Christelike beginsels werk, sal ons aanklank by mekaar se visie vind.

Volg VRINNE op die sosiale media-skakels:
• Facebook: facebook.com/vrinne.co.za/
• Instagram: instagram.com/vrinne.co.za/
• Webblad: vrinne.co.za
• E-pos: vrinnevrinne@gmail.com

ROUCHELLE LIEDEMANN
Hoe voel jy daaroor om oor jou tekortkominge te gesels? Is jy nie skrikkerig vir oopmaak en uitpak voor vreemdelinge nie?
My vriendinne wat my baie goed ken, sal weet dat ek nie wegskram om oor my tekortkominge te gesels nie. Daar is soveel valse voorgee in die wêreld dat vroue regtig net egtheid (authenticity) wil beleef. Om veertig te word, het my laat besef dit gaan nie oor die glits en glamour nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, ons vrouens hou van ’n bietjie bling, maar ons wil ook net weet dat ander vroue deur dieselfde stryd gaan.

Wat is van die uitdagings wat jy al moes trotseer?
Een van die waarvolle en duur lesse wat ek al in my lewe moes leer, is om op te hou om myself gedurig met ander te ver-gelyk. Dis bevrydend wanneer ‘n mens jou identiteit as iets uniek in God vind.

Hoe beleef jy dit om ’n ma van tieners te wees?
Die een dag wil ek hulle nie sien nie omdat hulle so eiewys is en dan is daar baie ander dae wat ek baie trots is om hulle ma te wees. Die Here het my en Jamie regtig geseën met twee besonderse tieners. Hulle het nogal sterk persoonlikhede, maar soos my ma altyd gesê het: “Wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker.” Ek is ontsettend lief vir my twee tieners.

Wat is jou raad vir ma’s van tieners?
Ruim tyd in om alleen by hulle te wees. Dit is daardie kwaliteittyd waar hulle, en nét hulle, jou volle aandag het wat die wêreldse verskil in julle verhouding maak.

Hoe is Christenskap ’n werklikheid in julle gesinslewe?
Christenskap is ’n lewenstyl vir my en Jamie. Ons ken almal die gesegde: Kinders doen nie wat ons sê nie, maar liewer wat ons doen. Ons preek nie die heeltyd hoe ons kinders moet lewe nie, ons lewenstyl doen die preekwerk.

Hoe dissiplineer julle julle tieners?
Sodra jy toegang tot hulle digitale toestelle beperk, maak dit seer. In ons huishouding is dit maar hoe ons deesdae dissiplineer.

Wat geniet jy die meeste van jou tieners?
Oe! Die fase waarin al drie my kinders nou is. Die geselskap en interessante onderwerpe wat ’n mens met hulle kan aanknoop. En ook om net soveel pret met hulle te kan hê, of ons nou in die woud in Newlands gaan stap, tennis speel of net lekker om die etenstafel gesels.

BENESCKE JANSE VAN RENSBURG
Wat is van die uitdagings wat jy al moes trotseer waaroor julle geselsies gaan handel?
Tussen ons drie is daar baie temas wat vroue raak, wat aangeroer kan word. Ons kan praat oor uitdagings in die huwelik, minderwaardigheid, verwerping, drome nastreef, deurbrake wat ons beleef het, ouerskap en vele meer. Hou die kanaal dop om te sien wie wat moes deurstaan.

Hoe beleef jy dit om ma van jonger kinders te wees en ook te werk?
Dis róf! Maar ek dink ’n mens doen die beste wat jy kan en vertrou dat God daar is om na jou kinders te kyk wanneer jy nie daar is nie. Gelukkig help my man, Johannes, waar hy kan.

Wat is jou beste wenk vir ander werkende mammas?
Dit gaan nie oor kwantiteittyd nie, maar oor kwaliteittyd saam met jou kinders. Kom ons sit die selfoon neer tot wanneer hulle in die bed is! Hulle het ons nodig.

Wat geniet jy die meeste van ma-wees?
Ek verstaan God se karakter en liefde vir ons baie beter!

Wat is vir jou die swaarste van ma-wees?
Die moeilkste is as ’n mens opslip en van die koekverkopingdag by die skool vergeet of as jy ongeduldig raak omdat jy self totaal uitgeput is. Sulke oomblikke voel jy maklik soos ’n slegte ma. Tog weet ek dat elke ma haar laaste vir haar kinders sal gee. Ek dink ons moet onsself soms net weer herinner dat God ons spesifiek vir ons kinders uitgekies het. As ons ons beste doen, is dit goed genoeg.

Hoe leef julle jul Christenskap uit as ’n gesin?
Ek en Johannes probeer om ons kinders groot te maak met die wete dat God nie net “rympies” wil hoor as ons bid nie. Hy begeer ‘n persoonlike verhouding met hulle. Ek vertel hul ook baiekeer die getuienisse waarmee ek te doene kry in my werk. Hulle is gaande oor stories!

Hoe hanteer julle dissipline met julle kinders?
Ek is ’n teller. Johannes nie. Waar ek tot ‘n 1 000 sal tel voordat ek pakgee, trek Johannes makliker die grenslyn. Ons glo dat ons ‘n verantwoordelikheid het om ons kinders met ’n sterk karakter groot te maak. Dit beteken om soms “nee” te sê en ander kere wel ’n pakslae omdat dit al is wat die boompie buig.

KARIEN BASSON
Hoe het jy in die media betrokke geraak?
Dit was ’n goeie mengsel van liefde vir die radio, praat, vrae vra en skryf wat gelei het dat ek in die mediaberoep beland het. Ek onthou hoe ek as dogtertjie met ouma se langspeelplate “versoeke” gespeel het aan almal wat wou luister. Bles Bridges, Jimmy Swaggart en Gé Korsten was altyd bo aan die lys. Dit was onvermydelik dat ek in die mediawese sou land. En so het my pad gekruis met Radio Kansel, toe Radio Helderberg, later Radio Tygerberg104fm en nou RoepTV.com

Julle is al drie in die openbare oog. Hoe voel jy daaroor om oor tekortkominge te gesels?
Ons al drie mik nou vir 40. Ons is almal al deur diep waters. Ons het geleer dat ons ons leiding moet neem van wat ons Jesus sien doen het terwyl Hy op aarde was. Hy het nooit weggeskram van sy agtergrond of stamboom, die mense met wie Hy homself omring het of die keuses wat Hy gemaak het nie. Ons gaan God die fokuspunt maak en nie ons stories nie. Ons almal het daardie hoofstuk wat ons nie graag oor praat nie, maar tog is dit daardie spesifieke hoofstuk met die grootste letsels wat God se goedheid die meeste wys.

Wat is van die lewenslesse wat jy geleer het?
Ek het geleer: Jy is nie altyd reg nie. Jy hoef nie altyd alles te verstaan om vrede te hê nie. Jy moet verantwoordelikheid neem vir jou besluite. God bly ’n goeie God te midde van ons omstandighede. Om liefde en respek te bewys is altyd jou keuse. Vergifnis kom nie vanself nie, ’n mens moet dit kies.

Wat inspireer jou?
Gewone mense wat buitengewone dinge aanpak, inspireer my: Die Comrades atleet wat 11 uur 59 minute hardloop. Die ystermanatleet wat dit waag om oor die wenstreep te droom. Die ma wat nooit geld op haarself spandeer nie, maar sorg dat haar kind die nodigste het. Die pa wat drie verskillende werke doen om sy kind se sportkampgeld te kan betaal. Die werkgewer wat lojaal bly aan sy mense wanneer dit finansieel moeilik gaan. Die persoon wat vieruur die oggend opstaan en met openbare vervoer by die werk uitkom.
Mense wat moeiteloos moeite doen. Mense wat nie altyd dink nie, maar uit liefde en omgee reageer. Mense wat noukeurig beplan om leiding te gee. Eerlikheid. Vertroue. Broosheid. Mense wat nie skroom om die waarheid te soek en te praat nie. Onpretensieuse mense wat gemaklik is met wie hul is. Mense wat God in hul lewe eer, deur dit wat hul doen en hoe hul leef. Mense wat vertrou. Die logiese denkers. Die kreatiewe kalante. Die vurige leiers. Die diep wesens en sensitiewe siele.

Wat is jou boodskap vir vroue vandag?
Vroue is gemaak IN intimiteit. God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees het ons, voordat die wêreld nog geskep is, in gedagte gehad (Efesiërs 1:4) en het elkeen van ons ’n kopié (afdruk) van Sy beeld gemaak en alles wat in Hom is, in ons uitgeasem (Genesis 2:7). Die manlike geslag mag miskien Sy ewebeeld hê, maar vroue dra die hart en emosies van God.

 

Rouchelle Liedemann
Sangeres, rubriekskrywer vir Finesse en die Kaapse korrespondent vir Die GROOT Ontbyt-program op KykNet en aanbieder van Liedemann raak liries op RoepTV.com

Vinnige Feite
• Vol pret, eerlik en lojaal
• Gebore in Elsiesrivier, grootgeword in Northpine en gematrikuleer aan Bernadino Heights Sekondêre Skool
• Haar naam beteken: “klein rotsie” soos ’n klein Petrus. “Ek sê altyd ek is die klein klippie waarmee Goliat omgeklits is!” sê Rouchelle.
• Die gesin het twee honde: Jazz (’n Dobermann-pinscher) en Bella (’n pragtige pavement special)
• Rouchelle en James (“Jamie” ) Marais is in September 19 jaar lank getroud. “My man het gekies om in 2000 te trou sodat hy altyd sal weet hoe lank ons getroud is!”
• Kinders: Cayla (16), Liam (14) en
Samuel (9)
• Rochelle bewonder Jamie se uithouvermoë in dinge wat hy aanpak. “Of dit werk- of sportgewys is, hy pak met oorgawe aan. Ek bewonder ook hoe sy gesin altyd vir hom sy eerste prioriteit is.”
• Die gesin behoort aan Oakhill Durbanville-kerk
• Rochelle se splinternuwe album het so pas die lig gesien: Nog ’n Kans en was vir 1 week nr. 1 op Itunes.

 

Karien Basson

Redaktrise van Vroue wat Glo, lewensafrigter, topverkoper-outeur, spreker en televisie-aanbieder by Roep TV.com.

Vinnige Feite
• Gefokus, getrou, passievol en lief vir die Here.
• Grootgeword in Witbank, matrikuleer aan Hoërskool Patriot.
• Haar naam, Catharina / Karien beteken “rein, goedhartig, ligstraal, harde werker”.
• Sy het drie katte: Elvis, Clapton en Joplin – “Ek begin ’n band!”
• Sy het ’n hele paar boeke geskryf: ’n Boodskap van Hoop / A message of Hope. Wanneer God met jou praat, Kerkstories en ’n paar dagstukkieboeke saam met Carpediem media en Finesse as mede-skrywer.
• Sy was een van Benescke se bruids-meisies.

 

Benescke Janse van   Rensburg

Radio-omroeper by Radio Tyger-berg 104fm in Kaapstad, topverkoper-outeur, spreker, en televisie-aanbieder by RoepTV.com.

Vinnige Feite
• Kreatief, passievol, iemand wat moeilik stilsit.
• Die gesin het twee goudvisse.
• Benescke en Johannes is nege jaar getroud.
• Kinders: Joalé (6) en Ziva-Mari (4)
• Benescke bewonder die premie wat Johan op lojaliteit plaas en sy vermoë om die beste in ander mense uit te bring.
• Name van boeke wat Benescke geskryf het: Ontdek God in die stories van mense; God was Dáár; Wysheid, oordenkings uit Spreuke; Hoop in tye van nood – oordenkings oor Psalms; Oorkom jou vrees; 5 Minute saam met God.


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsluitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)