Ná afloop van elke toer is dit vir ons belangrik om as gesin weg te breek en kwaliteittyd met mekaar te geniet. Hierdie keer het ons ’n pragtige gasteplaas buite Robertson gekies. Omring deur bloupers berge en groen wingerde het dit vir my en Neil gevoel ons is naby die Hemel omdat ons God se grootheid veral in die natuur ervaar.

In verwondering
Láát een middag het ons ’n bietjie gaan stap om die omgewing te verken. Dit was ’n koel, maar sonnige dag, met ’n misreëntjie wat in die nabygeleë berge geval het. In ’n stadium het Neil en ons twee seuns gelyk gestop en in ’n koor “Wow!” gesê. Ek kon nie sien waaroor hulle in so verwondering is nie. Hulle het bly staar na ’n deel van die berg en gewys: “Daar! Kyk daar!”

Dit is daar, jy kan dit net nie sien nie
Ek kon steeds nie sien wat hulle bedoel nie. My oë is baie sensitief vir sonlig en ek dra altyd my sonbril. Neil het my aangemoedig om my sonbril dalk af te haal. En uiteindelik kon ek ook die pragtige prentjie voor my sien. Dit was een van die mooiste reënboë wat ek al ooit in my lewe gesien het. Die spesifieke tipe lens van my sonbril het die reënboog totaal uit my “prentjie” verwyder en onmoontlik gemaak om te sien. Ons het vir ’n paar minute die skoonheid van God se skepping ingeneem, voordat ons teruggestap het.

Verkeerde “lense”
Dit het my laat dink, is dit nie hoe ons ook soms na die lewe kyk nie? Ons word omring deur die skoonheid van die lewe maar omdat ons deur die verkeerde lense kyk, verhoed dit ons om dit raak te sien of te waardeer. Weens ervarings uit ons verlede kyk ons moontlik na die lewe deur lense van negatiwiteit, pessimisme of vrees en verloor ons die mooi wat ons Hemelse Pappa vir ons bestem het.

Laat Hy jou persepsie verander
Ek besef dit is nie altyd so maklik om van daardie aangeleerde lense ontslae te raak nie. Dit mag dalk pynlik wees, maar met jou hand in jou Pappa s’n, kan Hy jou persepsie van die lewe, een reënboog op ’n slag verander. Ons moet net ons hand uitsteek.
Ek is ewig dankbaar dat ek my hand ’n paar jaar gelede uitgesteek het, want eweskielik het die glimlag van my seuntjies, sonstrale wat op ’n bewolkte dag deur die wolke breek, die silhoeët van ’n bergreeks en die klank en reuk van reën vir my nuwe betekenis gekry. Hoewel die storms soms in my woed, gee die Here vir my steeds genoeg om oor te glimlag en “Wow!” te sê.

Die werke van God
“Wat ’n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie.”
– Romeine 1:19-20.


NEIL AND TANYA POWELL het die voorreg om met sportmanne en -vroue en toekomstige leiers in Suid-Afrika te werk. Neil is die afrigter van ons sewesrugbyspan en Tanya doseer anatomie vir eerstejaars aan die Maties se Sport-wetenskapdepartement

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)