—deur Johan Jacobs

Weens ons gejaagde, moderne lewenstyl, is dit bykans onmoontlik om genoeg rou groente (met hul antioksidante, plantchemikalieë, lewende minerale, ensieme, vitamiene, ens.) vir optimale voeding in te neem. Boonop word baie mense deesdae ook aan onnatuurlike en abnormale hoeveelhede besoedeling, spanning, tydsdruk, gifstowwe en kos sonder ware voedingswaarde blootgestel, wat veroorsaak dat hulle ondervoed en vergiftig is. Ongelukkig is baie mense reeds slagoffers, aangesien hulle ’n verswakte immuunstelsel het, erg ondervoed, gedreineer en sonder lewenskragtigheid is. Baie van hulle ly ook aan vetsug of gevorderde siektetoestande soos kanker of tipe 2-diabetes.

Waarom versapping?
1. Versterk jou immuunstelsel
Jou immuunstelsel is die sleutel om jou teen virusse, bakterieë en kanker te beskerm. Die voordeel om rou groente te versap, is dat die sap van die vesel geskei word en die grootste deel van die voedingstowwe in die sap behoue bly. Dié vars, lewende voedingstowwe kan dan vinnig in die bloedstroom en op sellulêre vlak opgeneem word, sonder die tydrowende en energieverbruikende proses van vertering. Versapping van groente is een van die beste bronne van voedingstowwe vir die opbou en regenerasie van ons liggame en selle. Ongelukkig word die meeste van die groente wat ons inneem, dikwels te gaar gemaak. Dit is noodsaaklik dat ons meer rou groente eet omdat ons die lewende ensieme (lewensvonke) daarin nodig het. Ek is glad nie teen kookkos gekant nie, maar ons eet te veel gaar groente. Met ’n versapper is dit vinnig en maklik omdat jy jou rou groente of “slaaie” drink.

2. Maak jou eie medisyne
As jy siek is, kan jy in plaas van chemiese en moontlik skadelike medisyne, iets vars soos gemmerwortel by die sap voeg en jou eie natuurlike medisyne maak. Daar is herhaaldelik bewys dat gemmer 1 000 keer meer doeltreffend as chemoterapie is.

3. Ontgif (detoks) met ’n daaglikse groentesappie
Die groot aantal antioksidante in groentesap help om van gifstowwe in jou liggaam ontslae te raak.

4. Maak jou eie versapper jou aanvullingsfabriek
Aangesien jy die voedingstofarme vesel verwyder, konsentreer jy letterlik die voedingstowwe en maak jy in werklikheid vars voedselaanvullings. Met ’n goeie versapper kan jy goedkoop, vars, tuisgemaakte, natuurlike, organiese superkos-aanvullings maak.

5. Tydsbesparing
In plaas daarvan om ure voor ’n warm stoof te staan, kan jy binne ’n halfuur ’n voedingstofryke sap maak en geniet.

OPSOMMING:
Versapping is die natuurlikste, vinnigste en mees kostebesparende manier om voedingstowwe by jou liggaamselle uit te kry. Dit:
• herwin en versterk jou gesondheid en lewenskrag
• ontgif selle
• versterk jou immuunstelsel met groot hoeveelhede antioksidante
• reinig die bloed
• versnel genesing met meer as genoeg boublokke om beskadigde selle te vervang.
• verhoog energievlakke aansienlik
• voorsien voedingstowwe in sinergie
• balanseer die pH-vlakke
• hidreer die liggaam.

Kortom, versapping is die beste en veiligste manier om die onnatuurlike gerieflikheidsleefstyl teen te werk wat ons liggame oorvoer en ondervoed. Onthou, versapping is nie jou paspoort om nou te kul en jou gesonde dieet agterweë te laat nie.

As jy siek is
Ek stel voor dat jy een vars sap ten minste een keer, maar verkieslik twee keer, per dag drink. Genesingsentrums wêreldwyd gebruik versapterapie. As jy nie ’n versapper kan be-kostig nie, improviseer! Hoe desperaat is jy om gesond te word? Oorweeg dit om luukshede wat nie noodsaaklik is nie, soos jou mikrogolf-oond of televisie te verkoop! Geen prys is te duur vir jou gesondheid nie. Ons kla vinnig oor hoe duur ’n gesonde leefstyl is en tog sal ons sonder om ’n oog te knip die nuwe, supergrootte platskermtelevisie, selfoon, digitale kamera of die nuutste moderne iPad aanskaf! Ons prioriteite is ietwat krom. Onthou, jou gesondheid is jou rykdom en dit is die moeite werd om daarin te belê.

My gunstelingresep vir herstel
• 3 Wortels
• ½ Beet
• 1 Spinasieblaar
• 2 Selderyblare
• 5 mm dik gemmerwortelskyf
• 1 Pietersielieblaar
• ’n Handvol gars, hawer of
koringspruitjies (wheatgrass)
• ½ Appel (opsioneel vir kinders)
• ½ Suurlemoen, insluitend skil

Hierdie resep is ’n kombinasie van groen, geel en rooi groente, plus kragtige kruie en vrugte (opsioneel). Onthou, dit is ’n sterk gekonsentreerde drankie. Verdun dit altyd 50/50 met suiwer water. As jy ’n diabeet is of aan kanker ly, is dit raadsaam om alle vrugte en sommige van die wortelgroente te beperk, aangesien dit groot hoeveelhede suiker bevat. Vervang bogenoemde met komkommer en / of kool.

Ons leef ongelukkig in ’n gevalle wêreld en die voedselketting het onvoldoende geraak.Die moderne, verwerkte voedsel kan nie meer ’n gesonde liggaam onderhou nie. Ek moedig jou aan om met wysheid te leef en die GO NATURAL-dieet en -leefstyl te volg. “Weet julle nie dat julle die tempel van God is … nie?” – 1 Korintiërs 3:16. My gebed is: Laat die Liggaam van Christus in wysheid leef, sodat ons mensgemaakte siektes (“dis-eases”) kan vryspring en ons goddelike roeping tot eer van ons Skepper kan vervul.

VERSAPPERS: Oor jou keuse van versapper
Nie elke versapper lewer dieselfde resultate nie. Onthou – die beste sap kom van die beste versapper. Om ’n gesonde sap te maak, het jy ’n versapper met die gepaste stadige snelheid nodig; verkieslik ’n versapper met ratte of een in kombinasie met ’n skroefversapper soos die Angel-versapper. Dit is die mees gevorderde versapper en lewer die beste sapopbrengs (bykans dubbeld en bevat ook per volume tot 300% meer minerale.) Dié versappers kan ook heerlike sorbet, neutbotter, ens. maak. Die gewone goedkoop sentrifugale versappers
(meestal vir vrugte) is beslis nie aan te beveel nie – hulle kan bv. nie groen blare, wat ’n be-langrike bestanddeel vir goeie gesondheid is, versap nie. Ek verduidelik al die versapperopsies en -tegnologieë in my boek GO NATURAL: Wisdom for Healthy Living. Go Natural hou die grootste verskeidenheid groenteversappers aan wat rattegnologie gebruik. Loer gerus by gonatural.co.za.

JOHAN JACOBS is beskikbaar as gasspreker of vir konsultasies, kontak hom by johan@gonatural.co.za


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)