—deur Karli Dürr

Sagmoedige reuse baljaar by die watergat, ’n trop sebras galop verby en die lug word rooi en oranje geverf soos die son agter die Zuur-berge verdwyn – ja, jy is in die Addo-olifantpark! Dié wêreldbekende park is sowat ’n halfuur se ry vanaf Port Elizabeth en ’n bobaas-kampbestemming vir gesinne en paartjies. Pak dus jou kamptoerusting en ontdek Addo se skatte via ’n selfryroete!

Die Matyholweni-hek
Ry die Addo-olifantpark se hoofwildkykarea deur die Matyholweni-hek binne en klok net ’n entjie vanaf die ingangshek by die SANParks Addo Matyholweni Rest Camp in. Ry daarna tot by die Ndlovu-uitkykpunt om die vallei te bewonder. Die Peasland-watergat waar grootvoete gereeld kom kuier en die Algoabaai-uitkykpunt is volgende. Volg dan die Ngulube-sirkelroete verby die Ngulube-watergat en hou links om by die Mbotyi-sirkelroete aan te sluit waar die Indiese Oseaan en duine ’n indrukwekkende teenstelling met die ruigtes en wild vorm. Keer hierna terug na die ruskamp teen die Sondags-riviermond om die eerste aand te oornag. Matyholweni beteken “in die bos” en koedoes, bosbokke, rooikatte en bosvarke word hiér
aangetref.

Matyholweni tot by Spekboom
Staan douvoordag op om die sonsopkoms te beleef en mik noord in die rigting van die hoofruskamp. Draai dan links op die Harveys-sirkelroete waar jy sowat twee kilometer verder ’n boom sal sien wat deur bye teen olifante beskerm word. Sluit weer aan by die hoofpad wat noord lei en nuttig ontbyt by die Jacks-piekniekplek voor jy die olifante by Hapoordam aanskou. Besoek dan die ondergrondse wildskuiling by die SANParks Addo Rest Camp – onthou om ’n saamrygids vir die volgende dag by dié ruskamp se ontvangsarea te bespreek! Jy kan laatmiddag die wild by die Carol’s Rest-watergat besigtig. Sorg net dat jy voor skemer by die SANParks Addo Spekboom Tented Camp aankom, aangesien dié tentkamp redelik ongerep is. Jy kan ook by die SANParks Addo Rest Camp oornag waar leeus se veraf gebrul as ’n wiegelied dien.

Spekboom tot by Nyathi
Ry vroegoggend terug na die hoofruskamp om jou saamrygids op te laai – dis uniek aan die Addo-olifantpark. Die gids weet presies hoe om ’n roofdier op te spoor en luister soggens na jakkalse – as hulle blaf en nie huil nie, kan daar ’n leeu in die omgewing wees. Kraaie kan ook op ’n vangs in die omtrek dui. Ná hierdie opwindende dag kan jy via die R342 na SANParks Addo Nyathi Rest Camp ry. Dié kamp-gebied is naby ’n watergat waar olifante dikwels kom speel en as die geluk aan jou kant is, kan jy dalk ’n luiperd gewaar. Nyathi, wat “buffel” beteken, is baie afgeleë en bobbejane, koedoes en vlakvarke is volop.

Bedrogfontein 4×4-roete
Buiten die selfryroetes in die hoofwildkykarea kan jy ook die Bedrogfontein 4×4-roete vanaf Kabouga tot by Darlington aandurf. Dis ’n eenrigtingroete wat vir ’n 4×4 of voertuig met ’n hoë grondvryhoogte geskik is en ongeveer ses uur lank duur. Daar is ’n magdom ge-
skiedenis langs die Bedrogfonteinpas, soos Anglo-Boereoorlog-grafte en oeroue bome waarop soldate boodskappe uitgekerf het. Rivieroewerstruike, ’n woud en fynbosbedekte pieke versier dié omgewing. Nadat jy dié roete voltooi het, kan jy by SANParks Addo Narina Bush Camp aan die voet van die Zuurberge oornag. Voëlsang vul die vroegoggendlug en saans kan jy langs die vuurput na die naggeluide luister.


KARLI DÜRR is ’n Swartlander in murg en been. Sy werk tans as ’n taalpraktisyn en skrywer vir LekkeSlaap.co.za.

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING
Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsluitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)