Deur: Stephan Nieuwoudt

Die volgende getuienis is ’n uittreksel uit Stephan Nieuwoudt se boek, ’n Boer uit die Oos-Vrystaat: My reis, ons storie. Hy het kragtig by ’n Mighty Men-konferensie tot bekering gekom op ’n tydstip toe sy plaas, sy huwelik en sy finansies besig was om uitmekaar te val.

JUIG! staan in verwondering oor hoe die Heilige Gees dinge bewerk, want al het Stephan se getuienis en die Senekal-artikel op bladsy 12 uit afsonderlike oorde by ons uitgekom, is daar ’n noue en persoonlike verband tussen die twee artikels. Die moord op die jong voorman, Brendin Horner, het op De Rots plaasgevind – die plaas wat Stephan toe onlangs aan sy buurman verkoop het. Vir die Nieuwoudt-gesin en vir baie ander mense het daardie plaas ’n plek van baie seer geword, maar soos die Senekal-artikel bewys, het die voorval op die ou einde tot genesing en herstel in en deur Jesus gelei!  “Ek hoop en bid dat ons getuienis en ons boek ’n instrument sal wees in daardie genesings- en herstelproses. Al die eer aan Jesus,” sê Stephan.


BO: Stephan saam met sy twee dogters, Marissa (links) en Melandie (regs)

STEPHAN SE VERHAAL VAN VERGIFNIS
Dit was altyd vir my so lekker om mielies te plant. Ek het die grond elke keer so goed as moontlik bewerk, die mielies met verwagting geplant en dit geniet wanneer hulle groen in die Iande gestaan het. Andri het altyd gesê dit lyk soos Peppermint Crisp.

’n Onverwagse terugslag
Eendag, tydens hulle tweeblaarstadium (twee duim hoog), het ’n ligte vliegtuig my buurman se koring vir hom bespuit. Op en af, al teen die lyndraad langs. Die laaste fase van die koring se groei is presies in dieselfde tyd as wanneer ons mielies begin opkom. Die gif het op ons mielies beland. Nie lank daarna nie kon ek sien dat die mielies aan die bokant van die land gevrek het. Omtrent ’n derde van die land se mielies was daarmee heen. Ek het moordgedagtes gehad vir dit wat my buurman aan my gedoen het. Ek het geweet die gif wat daardie winderige dag gespuit is, het my mielies laat vrek.

Verdere skade
Hulle het organofosfaat gespuit en dit het ook my diere aangetas. Ses-en-vyftig van my ooie het geaborteer, my bul het so agteruitgegaan dat ek hom moes doodskiet en ’n klomp koeie kon nie meer kalf nie. My ma se hoenders het gevrek en ander het heeltemal opgehou eiers lê. Toe ek my buurman bel, was sy verweer dat hy die gifmaatskappy baie geld betaal, ek moet met hulle praat. Die maatskappy het gesê dit is nie hulle gif wat die oorsaak van al my skade was nie.

Onvergifnis vat pos
Ek was toe pas gered en die aggressie en onvergewensgesindheid in my lewe was nog nie uitgesorteer nie. Ek wou my buurman, die gifmaatskappy en die spuitvliegdiens vergeld vir die skade wat hulle my berokken het. Intussen was die Heilige Gees besig om in my te werk om van hierdie onvergewensgesindheid en aggressie ontslae te raak. Ek moes hulle vergewe, maar my hele wese het daarteen geskop. Ek het gevoel my buurman en die hele gifspan moet pa staan vir die skade wat hulle my aangedoen het, maar hulle het nie.

Innerlike stryd
Dit was naderhand tyd om die mielies te skoffel. Ek het baie daarvan gehou om self my Iande te bewerk. Elke keer wanneer ek aan die bokant van die land by die dooie mielies kom, het die woede in my gebrand. Wanneer ek aan die onderkant van die land draai waar die mielies mooi is, het ek die Here geloof. Wanneer ek weer bo draai, was ek bitter. Ek kon seker my buurman gedagvaar het, maar ek het nie. Die Gees het vir my gesê ek moet vergewe. Ek het verskriklik daarmee geworstel.

‘Ek spreek hom vry’
Ek het die hele voorval onder die mat probeer vee, maar die Here wou hê ek moes totaal en al vergewe. ’n Maand later moes ek weer die land skoffel en kunsmis gooi. Ek het was opnuut smoorkwaad vir my buurman. Ek het in ’n stadium aan die bokant van die mielieland by die dooie mielies uitgekom en van die trekker afgeklim, want toe kon ek nie meer nie. Ek het in die land op my knieë gegaan en vir die Here gesê ek vergewe my buurman, ek spreek hom vry. Ek het daar ’n besluit gemaak om nie net vir hom nie, maar ook die vlieënier en die gifmaatskappy te vergewe.

Omdat ek hierdie wilsbesluit gemaak het, het die Here my vrygemaak van die gees van onvergifnis. Ek het nooit weer gesukkel om iemand te vergewe nie. Gif gespuit vir ’n tweede keer
’n Paar jaar daarna, het dieselfde vlieënier by ’n ander buurman grond gehuur en mielies aangeplant. Hy het die mielies bespuit, maar hierdie keer het hy ’n verbode onkruiddoder gespuit. Dit was totaal onwettig.

Vergifnis en ’n moeilike vergadering
Toe dit nou die tweede keer gebeur en hy hierdie keer ’n deeI van my veld doodgespuit het, het ek en ander bure wat ook skade gely het, ’n vergadering met hom gehou. Ek het vir hom gesê ek vergewe hom en gaan hom nie hof toe vat of skadevergoeding eis nie, maar ek wil hê hy moet sy woord gee dat hy nooit weer met ’n vliegtuig teenaan my grenslyne sal spuit nie. Die saak is daar opgelos.

Dit was vir my goed om klaar te maak met onvergifnis. “Dankie, Jesus, dat U my geleer het om te vergewe. Dit was so nodig.”


BO:Vreugde in die mielies

STEPHAN EN ANDRI NIEUWOUDT woon nou in Yzerfontein en is beskikbaar vir bediening. Kontak hulle by derots.sa@gmail.com


21 April 2021

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)