Deur: Lourieke Haller

Die kranige rugbyspeler, atleet en onderwyser, Heinrich Gabler, het in 2019 bekendheid verwerf toe hy as die nuwe Mnr. Suid-Afrika aangekondig is. Spoedig het talle artikels verskyn wat vertel hoe hy as ’n tienjarige seuntjie sy ma in ’n motorongeluk verloor het en as ’n weeskind in ’n kinderhuis grootgeword het. Daar is egter baie meer agter hierdie verhaal en Heinrich het ’n kragtige getuienis oor sy diep ontmoeting met die Here en God se beskuttende hand in sy lewe. Hy vertel self hier dié roerende verhaal.


BO: Heinrich as buitesenter vir die Lumberjacks by die Kaapstad 10’s.

Moeilike kinderjare
Voorheen het ek altyd net vertel dat my ma verongeluk het en ek kinderhuis toe is. Dit was makliker om die gebeure rondom dit te ignoreer. Ons het in Somerset-Wes in ’n minder gegoede buurt gewoon. My pa was ’n wit man van Duitse afkoms en my ma ’n bruin vrou. My kinderjare was nie maklik nie; grootliks omdat my pa nie in God geglo het nie en aan drank verslaaf was. Hy het probeer om vir ons te sorg. Hy was die wonderlikste pa wanneer hy nugter was, maar as die drank oorgeneem het, was hy aggressief. Hy het my en my twee ouer broers mishandel. My oudste broer, Larry, was as 12-jarige die pa-figuur vir ons. Dikwels wanneer ons pa ons uit die huis gejaag het en ons buite moes slaap, het Larry vir ons gesorg. Hy het ons agterop iemand se bakkie laat slaap of in ’n bos onder ’n kombers, wat hy gou gegryp het voordat ons verjaag is. As my ma ingemeng het, is sy ook geslaan. Ek het swaarkry geken en moes van jongs af veg om te oorleef. Ons het blikkies opgetel vir geld om kos te koop of het ietsie by die bure gaan bedel. Die band tussen ons drie broers is baie heg. Dit is gevorm tydens daardie swaarkryjare. Ek kan vandag verstaan waar my pa se pyn en aggressie vandaan kom. Hy was ’n produk van die Tweede Wêreldoorlog – sy oupa en pa-hulle was Nazi’s; daar was diep wonde.

Welsyn gryp in
Die bure het die welsyn op die ou einde gekontak. Die eerste keer toe die welsyn ons kom haal het, was ek agt. Ons drie en my ma is na ’n plek naby Vishoek geneem. Daar het is ons van ons ma geskei – sy moes na die vroue-afdeling gaan. Al was ek die jongste, was ek altyd die leier en planmaker. Daardie aand het ek gesê: “Hier hoort ons nie, ons gaan terug Somerset-Wes toe. Ons het ons swart sakke gevat en ek het ons na die treinstasie gelei wat ek op pad in, gesien het. Ons het die laaste trein Kaapstad toe gevang.

’n Barmhartige Samaritaan
Daar sit ons toe gestrand op Kaapstad-stasie, want die laaste trein Somerset-Wes toe was reeds weg. Ek het na die King Pie-kiosk gestap met die R3 wat ek gehad het en vir die oom die situasie verduidelik. Ek wou weet of daar nie vir ons iets te ete was nie. “Natuurlik!” het hy gesê en vir ons pasteie en koeldrank gegee. Maar waar sou ons die nag slaap? Die oom het ons blyplek vir die nag aan-gebied. Ons wou eers nie, maar toe ons by die stasie uitstap, ry dieselfde oom toevallig by ons verby en stop en nooi ons weer. Hy het vir ons skuiling gebied daardie nag. So het die Here gesorg. Ek het gevoel solank ons almal saam is, kan ons alles trotseer – al is Pappa dronk. Ek kon nie verdra dat ons geskei word nie, want dis al wat ons gehad het – mekaar.


(Links) Dawn Bradnick, Heinrich se pleegmamma en sy suster, Donna

REGS BO: Christa Brittz, die huismoeder by Huis Andrew Murray REGS: Lizel Visser, Heinrch se “aanneemmamma”. LINKS ONDER: Dawn Bradnick, Heinrich

Die Visser-gesin is Heinrich se aanneemgesin. V.LN.R: Pieter, Niena, Lizel, Stefan (agter) VOOR: Heinrich en Jean

KINDERHUIS TOE
Na die kinderhuis in Tulbagh
’n Tydlank het dit goed gegaan, maar toe was dit maar weer dieselfde storie. Hierdie keer het die welsyn ons drie boeties na ’n kinderhuis in Tulbagh geneem. My ma het saamgery toe die maatskaplike werker ons kom haal om in Tulbagh te gaan aflaai. Ek was stukkend. Ons het mekaar darem gehad, maar ons is geboelie en geslaan. My ma kon nooit kom kuier nie, maar ons buurman, oom Basil, het nou en dan ingeloer, want hy het daar naby gewerk en kon boodskappe oordra.

Sport bring aanvaarding
Ek was baie lief vir sport, veral rugby. Ek het ’n talent ontvang en dit gebruik en só van die werklikheid vergeet. Ek was deel van ’n span en omdat ek talent gehad het, gewild. Ek het aanvaarding gekry. Skielik was ek iets werd en dit was lekker.

Na Huis Andrew Murray
Die probleme met die geboelie het egter so vererger dat Larry se lewe in gevaar was. Hy was ook goed in sport en gewild onder die meisies – iets waarop die ander ouens jaloers was. Hulle het letterlik hulle mes vir hom ingehad. Oom Basil het my ma vertel en daar is plan gemaak om ons by Huis Andrew Murray (HAM) in te kry. My sussie was vir ’n tydjie daar toe ons nog baie jonk was.

Ons sou daardie Januarie HAM toe gaan. Ek het geweet daar sal dit goed gaan, want ek het eenkeer saam met my ma vir ons sussie daar gaan kuier. Dit was mooi daar en daar was ’n parkie! Ek het my broers moed ingepraat en gesê: “Kom ons gaan probeer dit.”

Dit was soos ’n hotel in vergelyking met waaraan ek gewoond was. Ek het elke dag lekker kos gekry en ’n bed en klere in my kas gehad. Jy kon klerestoor toe gaan en vir jou klere gaan haal. Dit was tweedehands, maar vir my was dit soos goud. Hoe kan dit wees dat die Here my so seën en so na ons kyk! Hier hoef ek nie bang te wees vir ’n harde klop aan die deur en dat ek nou geslaan gaan word nie. Ons moes egter nog al daardie trauma verwerk en ek en my middelboetie het gereeld nog die bed natgemaak. Dit was aaklig.

Die toekoms was vol hoop
Weer eens het sport my deurgedra. Ek dink nie Shaun Doubell, die rugbyafrigter, besef wat hy vir my beteken het nie. Ook Winston Baard, wat talle toprugbyspelers opgelewer het. Hy het my rugby leer speel en so ’n tweede kans in die lewe gegee. Deur dit alles was die Here se hand oor my. Naweke het ek huis toe gegaan na my ma toe. My pa het intussen in Duitsland gaan werk met die plan dat ons almal later by hom sou aansluit. Die toekoms was vol hoop – Pappa het maandeliks geldjies gestuur. Ons sou net ’n jaar lank in die kinderhuis wees en dan sou almal Duitsland toe gaan.

VERLIES VAN SY OUERS
Die een vir wie ek die liefste is
In Augustus 2001 daag my tannie-hulle by die kinderhuis op. Ons was bly om hulle te sien en wou weet waar Mamma is. “Ons gaan nou-nou praat,” sê hulle. Ek dink sy is seker siek.

“Ons het vandag vir julle kom sê dat Mamma oorlede is …” Ek kon die woorde nie verwerk nie. Hoe kon dit wees? Dit sou net ’n jaar wees, nou is die persoon vir wie ek die liefste op aarde is, dood. Dit was die eerste en laaste keer dat ek Larry sien huil het, hy was 14. Niks het daardie man laat breek nie, maar daardie dag …

Lughawe toe
Ek dog toe: Toemaar Pappa is nog daar. Hy het vir die begrafnis teruggekom. Die dag toe hy moes vertrek het ek sy tas vir hom gepak, want hy was dronk. Ek het hom wakkergemaak om betyds gereed te wees en ek en Karl is saam agterop die bakkie lughawe toe. Ek onthou nog hoe ek my pa ’n drukkie gegee het vir hom gewaai het terwyl hy wegstap. Maar dis oukei, want hy sou ons mos binnekort kom haal. Maar hy het nie. Hy het een of twee keer briewe geskryf. Toe nie weer nie. Tot vandag toe weet ek nie waar hy is en of hy nog lewe nie. Die verwerping was erg. Ek was kwaad, baie kwaad.

Mense wat ’n verskil gemaak het
Die verwerping het in kattekwaad gemanifesteer. Ek was kwaad vir die wêreld. Ek het gereeld detensie gekry. Dit was in hierdie tyd dat Dawn Bradnick my wou aanneem. Ek het baie naweke by hulle gesin op die plaas deurgebring waar hulle my met liefde toegevou het. Ek het daarvan gehou om naweke en vakansies saam het hulle deur te bring, maar ek wou nie aangeneem word nie, ek het gevoel my plek is tussen die ander kinders by die kinderhuis wat my nodig het.

Die ander persoon wat toe ook ’n groot rol in my lewe gespeel het, was “mamma” Christa Brittz, ’n huismoeder by HAM. Sy het in my geglo en my wêreld verander. Sy het my altyd aangemoedig en verseker dat daar ’n blink toekoms op my wag.

DIE REIS NA BEKERING EN GENESING
Die dag toe alles verander
As 16-jarige het ek die lewe bevraagteken. Bestaan God regtig? As Hy goed is, hoekom is my ma dood? Hulle sê Hy is ’n God van liefde, maar is Hy? ’n CSV-kringleier het eendag die saalopening waargeneem. Sy het vel papier opgefrommel en gesê: “Baie van julle voel seker soos hierdie stuk papier.” Ek het gevoel sy kan maar eintlik die papier uitmekaarskeur! Ek het ’n pa wat my nie wil hê nie, ek is ’n weeskind. Sy het ’n tweede vel skoon papier opgelig en gesê: “As jy jou hart vir die Here gee, kan dít jou lewe wees.” Ek het die trane weggesluk. Ek wou nie hê ander moet dit sien nie, want ek was ’n tawwe man en in die rugbyspan. Terug in my enkelkamer in die kinderhuis het ek my my tas in die hoek gesmyt en gehuil. Ek sê: “Here, bestaan U rêrig? Daardie meisiekind sê as ek my hart vir U gee, kan ek ’n nuwe lewe begin.” Ek het onbedaarlik gehuil.

‘Ek is lief vir jou!’
Toe raak die Here aan my. Ek het Sy aanraking fisiek gevoel. Ek het op Sy skoot gesit, ek kon nie Sy oë sien nie, maar Hy het my vasgehou. “Ek is lief vir jou, ongeag wat ook al. Jy is dit werd. Ek is ’n God van liefde,” hoor ek Hy sê vir my. Sestien jaar van onderdrukte depressie, is net daar genees. Ek kon nie glo wat gebeur het nie. Ek het soos ’n nuwe mens gevoel. Teen die muur wys Hy my hart vir my. Dis soos olieverf wat teen die muur afloop, my hart is flenters, stukkend, verwerp. Hy sê vir my: “Kan ek jou My oë gee?” Ek verstaan nie. “Sal jy nou jou pa kyk deur My oë?” Ek kyk. Ek breek en ek huil weer. “Jesus, ek is jammer dat ek hom gehaat het. Is dit waardeur hy moes gaan en hy ken U nie eens nie? Asseblief, gee my die hart om hom te vergewe.” En ek vergewe my pa net daar. Die wêreld het van my skouers afgeval. Nou kon ek lewe, op daardie dag, in daardie kamer, is die kettings verbreek.

‘Ek sal jou nooit verlaat nie’
Nog was die Here nie klaar met my nie. Hy sê: “Ek wil vir jou ’n vers gee – Hebreërs 13:5.” Ek het ’n Bybel, maar ek lees dit nie, ek ken dit nie. Ek soek en blaai soontoe: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Dit is Sy belofte aan my. “Ek sal na jou kyk, Ek sal jou nooit verlaat nie. Ek het nog ’n vers vir jou,” sê Hy. “Jeremia 29:11.” Ek blaai. “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” Hy sê: “Jy gaan eendag ’n organisasie hê en vir ander sorg.” Ek begin lag. Ek maak my kas oop; ek ken die verhaal van die vyf broodjies en twee vissies. Hier hang twee broeke en vyf hemde. Hoe gaan ek dit doen? Die Here herinner my aan ’n dag toe ek tien was en op Dorspdag dorp toe gestap het om vir my ’n pastei en ’n koeldrank te koop. Ek het ’n straatkind gesien en iets in my het vir my gesê ek moet die helfte van my pastei en my koeldrank vir de kind gee. Die Here sê vir my: “Ek sal jou seën vir wat jy gedoen het. Ek het ’n hart vir die armes en behoeftiges en het iemand wat blymoedig gee, lief. Wanneer jy gee, moenie dat die regterhand weet wat die linkerhand doen nie. Hou jou lewe vry van geldgierigheid.”

My lewe het daardie dag verander. Onderwysers kon agterkom iets het gebeur. Hulle het gesê: “Jou oë blink. Jy sparkle!” Die gevoel van leegheid het verdwyn en ek het ’n innerlike vrede ervaar soos nog nooit tevore nie. Ek het nou die vaste wete gehad dat ek behoort.

Sport maak deure oop
Die sportveld ’n plek geword waar my drome bewaarheid is met die sporttalent wat ek van die Here ontvang het. Ek het provinsiale kleure vir atletiek ontvang, vir verskeie Bolandspanne rugby gespeel en was deurentyd bewus dat eer vir enige prestasie net aan Hom behoort. Nádat ek my skoolloopbaan voltooi het, het ek ’n studie- asook ’n sportbeurs ontvang om aan die Kaapse Skiereiland- Universiteit vir Tegnologie te studeer.

’n Groot liefde vir kinders
As student het ek hard gewerk aan my droom om ’n professionele rugbyspeler te word en goeie geld oorsee te gaan verdien. Ek het aangebied om intussen rugby by die Hugenote Laerskool te help afrig, en terug te gee aan die skool waar ek as weeskind self baatgevind het by die afrigters se liefde. Ná die eerste afrigtingsessie het ek gevoel die Here vra my om die droom van professionele rugby te laat vaar en ’n loopbaan in die onderwys te volg. My eerste formele pos as onderwyser was by Van Riebeeckstrand Primêr. Ek wou net soos my eie afrigters ook ’n impak op kinders se lewens maak.

Die pa wat ek nog altyd wou hê
Dit was hier waar my pad met die van die Visser-gesin gekruis het. Jean was een van die rugbyspelertjies wat ek afgerig het. Hy is ’n diabeet, maar was vasberade om rugby te speel. Ek het myself in die vasberade seuntjie gesien wat homself langs die veld inspuit en met sulke deursettingsvermoë vasgebyt het. Deur hom het ek sy ouers, Pieter en Lizel Visser leer ken en mettertyd het ’n hegte vriendskap ontwikkel. Eendag het Pieter gesê hy wil my as ’n seun aanneem. Ek was 22 jaar oud en het hier die pa ontmoet wat ek nooit gehad het nie, maar altyd voor gewens het. Die Here het vir my ook ’n aardse pa gegee.

MNR. SUID-AFRIKA
In my matriekjaar het Dieter Voigt (Mnr. Suid-Afrika 2007) ons skool besoek en my aangemoedig om eendag aan die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie deel te neem. Hy het ’n mentor in my lewe geword. In 2017, toe ek ’n onderwyser by Hugenote Laerskool in Wellington was – die einste skool wat ek bygewoon het – het ek aan die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie deelgeneem en was een van die 14 finaliste. Dit was ’n groot verrassing en het my aangespoor om weer deel te neem. Ek het op 8 Junie 2019 die titel vir Mnr. Suid-Afrika gewen. Ek kon daardie aand op die verhoog staan as ’n groot aanmoediging dat drome bewaarheid kan word. Ek moes as onderwyser bedank om hierdie titel op te neem en die platform te gebruik om kinders te inspireer en al my verpligtinge na te kom.


Danksy UpcycleSA kan ek minderbevoorregte kinders help om sporttoerustijng in die hande te kry en aan sport deel te neem

UpcycleSA
Danksy die blootstelling van Mnr. Suid-Afrika kon ek 13 jaar na die visioen wat die Here my gegee het dat ek vir mense gaan sorg, Upcycle -SA begin. Dit is ’n organisasie sonder winsmotief wat sporttoerusting vir minderbevoorregte skole en kinders skenk. Ek lewer praatjies by bevoorregte skole en vertel hulle wat ’n rugbybal vir my beteken het en nooi hulle dan om ou balle, kolwe en sporttoerusting, wat by die huis rondlê, te bring sodat ons dit aan ander kinders kan skenk. Ek gee nie omdat ek het nie; ek gee omdat ek weet wat dit beteken om nie te hê nie!


Heinrich by sy twee broers, Karl (tweede oudste) en Larry (oudste broer)

My verhaal is een van hoop, een wat ander hopelik aanmoedig om te volhard en bo hulle omstandighede uit te styg met die hulp van ’n liefdevolle, betrokke hemelse Vader.

Pieter Visser, die pa wat hy nog altyd wou hê. Hy het ’n monumentale rol in sy lewe gespeel.

2 September 2021

 

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)