Deur: Suné Joubert

“Ek glo glad nie.

Ek glo nie daar is ’n God nie.
Ek glo nie daar is ’n geestelike
dimensie nie. Ek glo nie daar is ’n
hoër perspektief om die lewe mee
te verklaar nie.

HELP, asseblief help!”

En daar is niemand.

Net drie mense met kalm oë wat saggies gestrooi is in my lewe (2000-2005)

Dít was my uitroep in vyf jaar van desperate soeke. Ek was ’n uiters gewone kerkgaande mens. Vroeg in my lewe reeds het die gepleisterde mure van godsdienstige pretensie egter my oog gevang. Ek onthou hoe ek as 12-jarige om my in die kerk rondgekyk het en nie kon verstaan hoekom alles so stowwerig dood was nie. Hoekom het die werklikheid van God in die kerk so radikaal verskil van wat ek in die Bybel en mense se wedervaringe gelees het? Ek het in my vroeë tienerjare besluit dat dit alles ’n fnuikspel is. Die pyn van mense om jou wat dit ook so ervaar, is eg en uiters ontnugterend.

Soekend na ’n geestelike werklikheid
Wat sien jou kinders? Wat sien jy? Hoe lank sien jy dit al? Wag jy ook vir ’n ware verhaal? Dalk wag jy ook vir iemand se getuienis aan wie se lyf die werklikheid van God se goedheid gevat het … soos dit in die Bybel beskryf word. Waar is daardie werklikheid dan? Ís daar so ’n geestelike werklikheid? Is daar ’n God?

Hierdie vrae lê ’n halwe sentimeter diep onder die oppervlak in die meeste mense se twyfelende harte, insluitend kerkgangers – dalk ook in joune. Die verhaal van my werklike vrae, ontnugtering, soeke en antwoord sal ander soekendes hopelik aanmoedig om aan te hou soek. En as jy reeds die antwoord ontdek het, hoop ek die storie motiveer jou om vrymoedig te begin wys-en-vertel!

Van vormgodsdiens tot ateïs
My leë vormgodsdiens het op die ouderdom van 30 tot ’n einde gekom. Sewe mense ná aan my het almal binne ’n kort tydjie die een ná die ander gesterf – die bodem het uit my lewe geval. Ek het nie meer geestelike verduidelikings vir die sin in die lewe gehad nie. Ek moes die werklikheid aanvaar: Ek was ’n volslae ateïs. Die woordeboek verklaar ’n ateïs as “iemand wat nie glo in die bestaan van God of gode nie”. Dit was ek.

Geen ware ontmoeting met God nie
My reis as uitgesproke ateïs het my geleer dat daar presies dieselfde vertwyfeling en sinisme oor God en godsdiens by die meerderheid mense rondom my is. Kerkgangers was amper die ergste. Min van hulle het die moed gehad om dit egter openlik te erken. Ons kan nie bloot aanneem dat mense wat hulleself Christene noem (of kerk toe gaan) daarom ook ’n ware ontmoeting met ’n lewende God gehad het nie. Indien dit wel so was, sou die lewe rondom ons drasties anders gelyk het.

Daar ís meer
Die werklikheid van een vriendin se ware ontmoeting met God het my oortuig om Hom nog één maal te gaan soek. Haar lewe het handomkeer verander. Daar was ’n onmiskenbare vrede in haar oë wat nooit voorheen daar was nie. Ek het by ’n Heilige Gees-geleide Bybelstudie en gebedsgroep beland waar ek die eerste keer in my lewe die kragdadig gemanifesteerde teenwoordigheid van God in aksie gesien het. Teen die vyfde keer wat ek die groep bygewoon het, was ek gereed om ook op te staan en vir gebed te vra.

Ek ervaar God soos ek nooit verwag het moontlik is nie
God sê in Sy Woord ons moet glo, want Hy is ’n beloner van dié wat Hom soek (Heb 11:6). Ek sou nooit kon dink dit sou so werklik in my lewe afspeel nie! Drie Geesvervulde vroue van die gebedspan het vir my gebid en die Here het op bonatuurlike wyse ingegryp; daar het fisies iets met my begin gebeur. Dit bly tot vandag toe een van my grootste vreugdes om die gebeure van daardie eerste gebedsnag in herinnering te roep.

Die gebed het begin met die voorbidders wat spesifieke woorde van kennis van die Heilige Gees ontvang het oor uiters spesifieke worstelinge in my lewe – dinge waarvan net God kon weet. Daarna het God my fisies aangeraak met enersyds Bybelspesifieke bevrydings en andersyds ’n fisiese ervaring van hoe ek volgemaak word met Sy liefde. Ondenkbaar!

Gaan dieper en verwag meer
Indien jy wel ’n gelowige is, maar nog nooit werklik die bonatuurlike dinge van God beleef het nie, is my noodsein aan jou: Gaan dieper en verwag meer! Die vreugde om God tydens ’n genesing of bevryding in aksie te sien; om Hom direk deur Sy Heilige Gees te hoor praat met woorde van insig en openbaring oor iemand se lewe of ’n lewensomstandigheid; dinge wat Hy in ons ore fluister voordat dit nog gebeur en dan te beleef hoe dit ’n werklikheid word … dit is ervaringe wat kenmerkend van ons alledaagse lewe en wandel saam met Hom behoort te wees.

Dié wat die pad saam met God stap
Ek kan terugkyk oor die afgelope 15 jaar en met dankbaarheid vertel dat God se pad in baie mense se lewens presies so gebeur: van die mees gewone mense tot die uitsonderlikste hooggeplaastes. Van jong studente tot 82-jarige vroue wat aan die brand is vir die Here. Van finansieel gestrooptes tot uitvoerende hoofde van maatskappye. Ek het sulke Geesvervuldes wat ’n ware ontmoeting met die lewende God gehad het, al op alle vlakke van die lewe teëgekom. God se opregte padstappers duik op die mees onverwagse plekke op. Dit laat my hart van vreugde sing om te sien hoe slim Hy hulle posisioneer – die onwrikbare padstappers van Sy paaie.

Hou net aan met soek
Indien die vertwyfelende vrae en onsekerheid oor God en Sy dinge by jou spook, wees getroos – dit is beter om die vrae te hê as om net onder die narkose van vormgodsdiens aan die slaap te wees. As ek as volslae ateïs ’n lewensomwentelende ontmoeting met God kon hê, is dit vir almal moontlik! Hou asseblief net aan met soek. 

SUNÉ JOUBERT is die ma van twee volwasse seuns en werk voltyds in Stellenbosch by ’n tegnologiegroep. Sy tree as gasspreker op, praat oor God en Sy werklikheid en bied Bybel-gefokusde kursusse aan. Kontak haar by sune.pulse@gmail.com


18 Februarie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)