-deur Lourieke Haller

Johan Jacobs van Go Natural is ’n sakeman wat aan Veelvuldige Sklerose (MS) gely het en wonderbaarlik genees is. Vanjaar is in vele opsigte ’n mylpaal vir hom. JUIG! het by hom gaan kuier om te hoor wat in die nege jaar verloop het sedert ons sy
getuienis die eerste keer gepubliseer het.

Johan, waarom is 2019 so ’n betekenisvolle jaar vir jou?
Dit is my geestelike mondigwording – die 21ste jaar vandat ek wedergebore en grootgedoop is. Dis die 15de jaar sedert ek medies ongeskik verklaar is en my pad na herstel begin het. Ek word vanjaar ook 50, dit is my Jubeljaar én dit is die 25ste jaar dat ek my vroutjie ken – ek het reeds die helfte van my lewe met my “beter-helfte” deurgebring.

Jy het Go Natural in 2004 begin en intussen het jy menige mense al gehelp om hulle gesondheid terug te kry. Is daar gevalle wat jou bybly?
Een van die getuienisse op ons webblad is dié van Anna Harrington. Sy het haar nier weens kanker verloor en die konvensionele roete van chirurgie en chemoterapie gevolg. Die kanker het toe na haar blaas versprei. Ek het van die begin af vir haar gesê daar is altyd ’n kernoorsaak vir kanker en die gevare van wortelkanale en amalgaamstopsels met kwik verduidelik, maar sy was nie oortuig nie. ’n Maand later wou die dokter haar blaas verwyder. Sy het na die grashalmpie gegryp en besluit om eers haar wortelkanale en stopsels te laat verwyder. Die kanker is reeds vir meer as ’n jaar weg, sy is blakend gesond én sy het haar blaas behou.

Wat van MS-gevalle soos joune?
Onlangs was daar twee MS-gevalle. Dietrich Reid, wie se getuienis julle reeds gepubliseer het en Janco Moolman, ’n jongman in sy dertigs. Sy ma het hom van my boek vertel en my getuienis en ander artikels in JUIG! Tydskrif vir hom aangestuur. Die res is geskiedenis. Hy het glad nie meer simptome nie, het meer as 20 kg verloor en het weer baie energie.
Nog ’n geval is Tiaan Swart (28) wat met chroniese moegheidsindroom (CMS) gediag-noseer is. Hy kon net een uur per dag wakker wees, só moeg was hy. Hy is met ’n gesplete verhemelte gebore en moes weens die talle operasies baie antibiotika gebruik.Dit het tot ’n lekkende dermkanaal (leaky gut) gelei en daarom was hy ondervoed. Dit, plus die minderwaardige mo-derne voedsel, het op sy beurt gelei tot slegte tande en wortelkanale en amalgaamstopsels. Die wortelkanale en kwik het sy immuunstelsel só onderdruk dat hy CMS ontwikkel het. Hy het by my uitgekom en van die wortel van die probleem ontslae geraak. Ses weke later, is die energie skielik terug. Nou het hy ’n gesondheidsbesigheid aan die gang en is die eienaar van Canamere, wat hennep-olie (hemp) en ander kruieformules versprei.

Hoe voel jy oor jou aandeel om soveel mense te kon help?
From a curse to a blessing. Die Here het my siekte ten goede laat meewerk en vandag is ek, ondanks die woestynpad wat ek moes stap, baie dankbaar vir die GO NATURAL-roeping en -passie in my lewe. Die vrug wat ek sien, maak dit vir my 100% die moeite werd. Ek het onlangs ’n konsultasie gehad met iemand wat van Pretoria af gevlieg het om my te kom sien. Hy het Parkinson se siekte en hy is na twee ure hier weg met ’n glimlag op sy gesig. Hy verstaan nou die beginsels van natuurlike genesing en om die wortel van die probleem te verwyder. As ek mense tydens so ’n konsultasie, seminaar of ’n werkswinkel kan wys hoe God ons met ’n wonderbaarlike bekwame innerlike dokter geskape het, loop my beker oor van dankbaarheid. Ek weet dan dat die kanse op totale herstel, baie goed is.

Wat van die volgende tien jaar?
As die Here nog nie teruggekeer het voor dan nie, sal ek hopelik ’n Go NATURAL-winkel in elke provinsie hê wat mense kan bedien met waarheid, inligting en true foods. Daar is ’n oorlog teen God se skepsels. Ek sien daagliks “slagoffers van die oorlog”. Ons het die antwoord om dit te voorkom. My visie laat my broek bewe, maar dit is dat daar ’n GO NATURAL-boek in elke huis en ’n GO NATURAL-winkel in elke dorp sal wees.

Jy wil ook hande vat met kerke?
Ja! In Hosea 4:6 staan daar: “My volk gaan ten gronde weens ’n gebrek aan kennis,” dis hoekom ek by die dood omgedraai het. Christene bid vir genesing, maar hulle eet en leef vir siekte. Die vyand het ons mislei. Ek weet dat MS, kanker en al die moderne siektes heeltemal voorkombaar is. Dit is lewenstylsiektes gekoppel aan toksikologie. Die immuunstelsel word vergiftig en kan nie kop bo water hou nie. Ek wil my broers en susters help om nie op dieselfde landmyne te trap as ek nie. God skape ons elkeen met ’n doel, maar partykeer knip die vyand ons lewensdraadjie voortydig af.

Ek tree met groot graagte as spreker op.
Ek het al op ’n Sondagoggend kerke of instellings met ’n gesondheidsboodskap bedien om hulle bewus te maak van hoe ons liggaam se innerlike dokter werk – ons besef nie hoe wonderbaarlik God ons geskape het nie.

Jy noem dat belangrike vaardighede verlore gaan.
Ons leef in ’n kitssamelewing en dit het ongelukkig ook by die voedselketting ingeglip. Nou word die brood vir ons gebak en selfs vir ons gesny! As jy 200 jaar terug brood wou hê, moes jy die koring met die hand maal. Die vrou kon nie gis by die winkel gaan koop nie, sy moes dit self maak en insuur. Ons het die vaardigheid verloor hoe om ons eie suurdeegplantjie te kweek. Die giskulture is hier om ons, dis so maklik om dit te oes, maar mense weet nie meer hoe nie. Ons het oor die jare honderde sulke vaardighede verloor en dis hoekom men-se die inligting moet kry, ons werkswinkel bywoon, die boek lees en dan gesond begin lewe.

Wat is jou slotwoorde vir ons?
Ek het nie siek gewórd nie, ek was siek gemaak. Amper al die moderne siektetoestande kan voorkom word. As jy asem in jou het, het jy ’n innerlike dokter wat leef en wil werk, jy moet hom net nie boei met gifstowwe en swak voeding nie. Ek wil hierdie boodskap elke dag uitbasuin, want ek weet hoe dit voel om die dood in die oë te kyk. Ek is die Here so dankbaar dat ek genees is en kan help om ander mense se lewens ook ten goede te verander. Moet nooit opgee nie, hou aan klop, God sal die deur oopmaak en jou help.


Mense wat Johan wil uitnooi, kan hom by johan@gonatural.co.za kontak.

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)