-deur Elza Meyer

In Esegiël 13 waarsku die profeet teen die vals profete in Israel, wat die volk gerus- gestel het met woorde wat hulle graag wou hoor. Hulle het die mense se gevoelens in ag geneem, sagkens te werk gegaan met dié wat God se wil verontagsaam het en trooswoorde uitgedeel aan almal wat dit moeilik gevind het om hulle gedrag ondergeskik te stel aan hul verhouding met hul Here. Hulle het mense gepaai oor die feit dat hulle nie kans sien om hul eie begeertes neer te lê ter wille van God nie. Die profete was miskien gewild op aarde, maar beslis nie in die hemelse ryk nie. En dan skryf Esegiël onder leiding van God se Gees in vers 5: “Hulle het nie gegaan na waar die muur omgeval het en weer ‘n muur om Israel gebou sodat hy staande kan bly in die oorlog wanneer die oordeelsdag van die Here kom nie.”

Mure wat niks beteken nie
Dis fassinerend om te sien hoe kinders binne ’n paar minute ’n kasteel uit boublokkies kan bou. Daardie einste kasteel kan egter nog vinniger weer in klein blokkies opgebreek word. Hoewel hierdie aktiwiteit opvoedkundig van groot waarde is, het boublokkiemure nie veel waarde nie. Hulle sal nie staande bly wanneer daar ’n “oorlog” uitbreek nie.
Mooi praatjies en trooswoorde wat nie op God se Woord gegrond is nie en nie ooreenstemmig Sy wil is nie, is waardeloos. Tog is dít presies waarmee te veel geestelike leiers dié probeer sus en paai wat afgedwaal het en gebroke is. Tot in so ’n mate dat baie ouers nie eens meer weet of hulle hul kinders behoort tereg te wys wanneer hulle God se voorskrifte vir ’n lewe in oorvloed ignoreer nie. En wanneer “oorlog” uitbreek, verbrokkel die mure om ons en het ons geen beskerming nie.

Die muur wat omgeval het
In Suid-Afrika het groot stukke van die muur reeds omgeval. Dit help nie ons troos mekaar met leë woorde nie. Dit help nie ons verduidelik vir mekaar hoekom die vyand kon inkom en roof nie. Die tyd het aangebreek om mekaar soos Nehemia in hoofstuk 2:17 te bemoedig met die woorde: “Julle sien self in hoe ’n benarde posisie ons is. Die stad is verwoes en die stadshekke is verbrand! Maar kom ons begin die mure van Jerusalem herbou sodat ons nie langer verleë hoef te wees nie.”
Voor Nehemia die volk opgeroep het om die stadsmure te herbou, het hulle dekades lank tussen vervalle mure gewoon terwyl hulle besittings geplunder is. Nadat die inwoners van Jerusalem egter elkeen die stuk muur voor hulle huis herstel het, is die muur binne slegs 52 dae herbou!

Herbou jou huishouding se mure
Bou en herbou jou huishouding se mure. Moenie bang wees om te sê wat die Here op jou hart druk nie. Die lewens van jou geliefdes is op die spel! Maak seker dat almal binne jou gesinsmure die Here kén en Sy stem kan onderskei. Wette en regulasies verander nie lewens nie. Slegs die lewende teenwoordigheid van God stel ons in staat om in volkome herstel te funksioneer. Saam met Hóm kan ons staande bly in tye van “oorlog,” want Hy veg vir dié wat in Sy skaduwee stap.


DR. ELZA MEYER is stigter van Turn2God-bedieninge wat landwyd en internasionaal geloofsgemeenskappe oproep en toerus om hulle na God te wend. Kontak haar by elza@turn2god.co.za

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsluitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)