Deur: Prof. Stephan Joubert

In 2016 het die navorsingsgroep, Forrester, 120 000 mense se tevredenheid met ’n paar bekende maatskappye se produkte getoets. Hulle moes op ’n sewepuntskaal hulle tevredenheid met die produkte aandui. Al die maatskappye wou toe natuurlik dadelik weet hoe hulle die “diep ongelukkiges” meer positief kan kry. Dit is nou daardie mense wat een, twee of drie uit sewe op die skaal van tevredenheid omkring het. Op die een of ander manier kry sulke omgekraptes altyd die meeste aandag. Dit gebeur van die kerk tot by die werk!

Ontevrede mense is veeleisend
Maar hier is ’n belangrike feit: Om mense wat erg ontevrede is een of twee vlakke meer tevrede te kry (vanaf een, twee en drie na vier en meer op die skaal), sal volgens Forrester ongeveer 80% inspanning verg. Hierteenoor gaan dit 20% inspanning verg om mense wat reeds baie tevrede is tot hoër vlakke (vanaf vyf tot sewe op die Forrester-skaal) te verskuif.

Soms ontneem omgesukkeldes die res van nodige aandag
Maatskappye, kerke en gelowiges staan te veel tyd af aan kronies omgesukkelde mense ten koste van doeltreffende en wyse mense. (Is dit dalk hoekom maatskappye slegs klagte-afdelings het, maar nooit dankie-sê-afdelings nie?) Om iemand wat altyd ontevrede is, ’n bietjie meer tevrede te kry, beteken eintlik maar net dat jy hulle van “diep ongelukkig” na “middelmatig ongelukkig” verskuif het. Ons probeer regtig te hard om mense wat altyd beswaard is se menings en gedrag te verander – ook in die kerk. Dikwels is dit die moeilike mense wat die meeste aandag kry, terwyl die Here se kinders wat ernstig is om in hulle geloof te groei, afgeskeep word.

Oppas vir volbloed dwase
Op hierdie punt moet ons Spreuke weer nadertrek. Dit roep ons op om ons aandag aan dié te wy wat besig is om in die Here se wysheid te groei, eerder as aan dwase wat glad nie leerbaar is nie. Spreuke sê dit is tydmors om opperste dwase te wil verander. Om hulle te probeer leer, is futiel (Spr 15:5; 27:22). ’n Mens ken sulke volbloed dwase aan hulle aanhoudende kwaadstokery uit (10:12; 29:8), ligsinnigheid (13:16), spoggery (14:33), leuens (15:7), onbeheerbare tonge (18:6-8), verdraaide idees (15:7), hardkoppigheid (18:1), skynheilige woorde (15:1,4); rusie (20:3; 27:3), wraakgierigheid (24:29) en verwaandheid (27:2).

Dwase verander nooit en doen dieselfde ding herhaaldelik
Ons almal maak ons soms skuldig aan bogenoemde dwaashede, maar wyse mense is nie soos honde wat gedurig terugloop na hulle eie braaksel toe nie (22:3; 26:11). Wyses herhaal met ander woorde nie dieselfde dwaasheid oor en oor nie. Volbloed dwase doen dit egter. Hulle verander nooit. Hulle pak gedurig die skuld vir hulle foute op ander. Hulle is altyd reg in hul eie oë (12:15). Hulle sê wat hulle wil, wanneer hulle wil en trap gedurig op ander mense. Hulle luister nooit na enige teregwysings nie (9:8). Daarom sê Spreuke ons moet katvoet loop vir dwase. Hulle is onleerbaar.

Hoe gemaak met volbloed dwase?
Stel duidelike grense met hulle. Sê vir hulle dat hulle gedrag onaanvaarbaar is. Roep hulle op tot dieselfde standaard as waarby ons almal moet hou – die van Christus. Sy standaard is om God en ander mense lief te hê en om mekaar te respekteer. Sê dit ferm en padlangs vir hulle. Lê duidelike reëls neer waaraan hulle ook moet voldoen. Moenie vasval in eindelose gesprekke, redenasies of rusies met hulle nie. Vermy enige verdere gesprekke met hulle as sulke reëls nie help nie. Anders gaan hulle die laaste lag en jy op die ou end die gefrustreerde een wees!

Bestee meer tyd aan wyses
Bestee meer van jou tyd aan wyse mense. Terloops, dit is nie net goeie raad nie; dit is ’n opdrag van God. Leer mense van jongs af die regte roetes van wysheid. Gebruik Spreuke 1 tot 9 as jou riglyn. Dit bied tien kosbare onderrigsessies aan vir jongmense waar hulle vroeg-vroeg die Here se wysheid aangeleer word. Doen groot moeite om wyse mense te onderrig en om tyd in hulle geselskap deur te bring. Dan gaan jy groot vrug ervaar. Wyses steur hulle graag aan opbouende menings en aan gesonde kritiek. Hulle luister altyd. Hulle leer gedurig. Hulle erken as hulle die slag verkeerd is. Hulle sê dan jammer en stel dinge reg.

Wyse mense wat die Here se hart bly maak, is nederig en inskiklik. Hulle groei gedurig nader aan die Here en aan ander. Hulle weet lewensgeluk voor God en tussen ander mense beteken om in liefde, onderskeidingsvermoë en wysheid te groei. Daarom drink hulle graag die regte onderrig uit die Woord in. Daarom steun hulle swaar op die woorde en vriendskap van ander wyse mense.
Hoor hier, dit is maklik, vreugdevol en ook reg om in wyse mense te belê. Doen dit! Moenie al jou energie op dwase uitmors nie.

PROF. STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk en hoogleraar in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, die Noordwes-Universiteit en die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland. Vir meer inligting: ekerk.org of info@ekerk.org


1 Augustus 2021

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)