-deur Werner Joubert

“Wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy
sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.”
– Johannes 16:13-14

Die dag toe ek wedergebore is, staan vir my uit en inspireer my steeds om uit te reik en ander van Jesus te vertel.

Sonde, vrees en hartseer
Aan die einde van my matriekjaar het ek gestoei met sonde wat my vasgehou het. Ek was bang dat ek nie eendag Hemel toe sou gaan nie. Hoewel ek ’n flambojante jongman was, het ek soms nagmerries gekry en was daar ’n hartseer diep in my hart.

Op my knieë voor Jesus
Eendag het ek by ’n gemeente met die naam, First Love, ingestap. Dit was nie vooraf my doelwit nie en ek het dit beslis nie so beplan nie, maar daar het ek op my knieë voor die Here beland en my hart vir Jesus oopgemaak. Ek het die Heilige Gees gevra om my te vul en my te wys wie Jesus werklik is.

Van kopkennis na my hart
Voor daardie dag het ek geweet wie Jesus was, maar ek was nog nie ’n Christen volgens die Bybel se riglyne nie. Maar daardie oggend in Wellington, in die Wes-Kaap, het Jesus in my hart, van ’n “katjie” in ’n “brullende leeu” verander. Voorheen het my verstand geweet van Jesus, maar daardie dag het my hart voor Hom en Sy liefde gesmelt. Vroeër het ek geweet God is liefde, maar daar het Hy my met Sy liefde gevul en toe ek daar opstaan, wou ek ander liefhê.

Jesus se teenwoordigheid kom rus op jou
Wat het daardie dag gebeur? Die Heilige Gees het Jesus aan my kom openbaar. Dit het soos ’n gewig op my liggaam, siel en gees kom rus. Die woord vir “verheerlik” in Johannes 16:14 betrek ook die betekenis van “gewig”, “om swaar te word”. Die Heilige Gees openbaar Jesus aan ’n mens en dan is dit asof die “gewig” van Jesus op jou volle wese kom rus. Dit verander jou.

Die Gees gee lewe, nie ons nie
Wat beteken dit vir evangelisasie? Wanneer ek en jy na mense uitreik, moet ons onthou dat God ons die voorreg gee om Sy boodskap te verkondig en dat die oomblik van redding slegs deur die werking van die Heilige Gees gebeur. Hy blaas Sy Gees oor ons woorde en getuienis, en openbaar dan die werklikheid van Jesus aan die individu na wie ons uitreik. Net die Heilige Gees kan ’n mens so diep aanraak.

Gebed en evangelisasie
Dus, as God ons lei om na ander uit te reik, laat ons diep delf in gebed. Kom ons respekteer en prys die Heilige Gees vir Sy wonderlike werk. En – laat ons volhard in gebed en in evangelisasie.

WERNER JOUBERT is die pastoor van Shofar Secunda. Kontak hom by secunda@shofaronline.org


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)