Onderhoud deur: Lourieke Haller

Ek kyk na “Hartsliedere” van Rina Hugo wat sy en haar man, Johan van Rensburg, tydens die inperking aanlyn beskikbaargestel het. Sy nooi ons by haar huis in, steek ’n lamp aan en sing “Genade”: “Ek pleit U bloed oor my, o Heer! U leef in my, o Heer, en ek sal sing … van al die wonders wat U liefde vir ons bring.” Vrede spoel saam met haar stem oor mý hart soos ek seker is dit vir menige persoon gedoen het. Dié gedig van Rien Joubert, wat ook in die program opduik, is sprekend van Rina se ingesteldheid:

Terwyl ek kan
Ek gooi my hart se luike oop
om liefde op te vang
Ek laat my hart die Sonpad loop
terwyl ek kan.
Laat my ’n woord van vreugde spreek
as droefheid harder praat.
Laat my vergewe en verstaan
terwyl ek kan.
Ek wil vergeet van eie nood,
ek gee my broer my hand.
Ek deel met hom U liefdesbrood
terwyl ek kan.
Want
Sou ek eendag kniel voor U –
my kort lewe verby –
vergewe my
as ek moet sê:
Ek het nie,
toe ek kon.

Van ligte liedjies soos “Kom dans Klaradyn” en “Troepie Doepie” tot meer gewyde liedere en opera (en talle genres tussenin) is Rina een van ons veelsydigste en mees geliefde sangers. Ons het met Rina gesels oor haar en Johan se herstel van COVID, hulle aanlyn konsert en hulle pragtige huwelik.

COVID
Jy en Johan het onlangs met COVID in die hospitaal beland. Hoe het hierdie groot skrik jou uitkyk op die lewe verander?
Dit was die mees traumatiese ervaring van my lewe om my man deur die hospitaaldeure te sien gaan sonder dat ek by hom kon wees. Hy is iemand wat sy hele lewe lank nooit eintlik siek geword het nie en skielik lê hy twee en ‘n halwe weke lank in die ICU.
Toe hy uit die hospitaal kom en ons twee mekaar sien, het Johan sommer in trane uitgebars. Hy het my vasgehou en verskriklik gehuil. Ek het op daardie oomblik besef watter voorreg dit is om mekaar te hê. Ek dink nie ons besef dit altyd nie. Jy weet, ’n mens het nodig om partykeer ’n bietjie in die bek geruk te word sodat jy net weer die waarde van die lewe kan besef. Dat jy dankbaar is vir die feit dat jy lewe, dat jy kinders en kleinkinders het. Ek het opnuut besef hoe ek alles moet waardeer – veral my mense.

Hoe het hierdie ervaring jou geestelike lewe geraak?
Omdat ek self so verskriklik siek was, het ek deurentyd met die Here in my kop gepraat, maar vir veel meer het ek nie krag gehad nie. Die wonderlike ding is dat so baie mense gehoor het van my en Johan wat siek was en duisende het boodskappe op Facebook gestuur en gesê hoe hulle vir ons bid. Dit is die een ding waarvan ek kan getuig – toe ek te swak was om dit self te doen, het ander mense my gedra.
Ek het bewus geword hoe belangrik die gemeenskap en samesyn van gelowiges is. Mense wat sê dat hulle nie nodig het om kerk toe te gaan nie, loop dit mis. Dit is juis in sulke tye wat ‘n mens die samehorigheid van gelowiges verstaan. Hoe die gelowiges, jou vriende om jou – selfs dié wat jy nie ken nie – vir jou bid en jou deurdra.
Dankie tog ek ken die Here! Ek dink nie ek sou dit gemaak het sonder Hom nie. Die hele ervaring het ons gesin nader aan mekaar en nader aan die Here gebring.

Het jy al herstel? Kan jy sing of tas dit nog jou vermoë om te sing aan?
Ná die COVID-storie is ek nie meer so sterk as voorheen nie; ek raak gou moeg. Ek kan ook nie vinnig besluite neem nie, my brein is nog deurmekaar. Johan het ook maar dieselfde probleme. My longe was so swak ná die siekte, ek het nie gedink ek sal ooit weer regkom nie. Ek was uitasem en my stem was weg, maar stadig maar seker is dit besig om te verbeter. Ek sal maar sien wat hou die toekoms vir my in.

Wanneer ’n mens so ernstig siek is, neem jy jou lewe in oënskou. Was daar enige dinge wat jy gewens het jy het gedoen of gesê – onafgehandelde dinge?
Weet jy, dit het nie eintlik by my opgekom nie, want wat my kinders betref – en hulle asook my kleinkinders is tog maar vir my die belangrikste mense – is ons gelukkig baie na aan mekaar. Ons is ’n drukkerige familie, ’n soenerige familie. Ons sê die heeltyd vir mekaar hoe lief ons vir mekaar is – en ons bedoel dit. As ek dus iets moes oorkom, sou my kinders weet ek is lief vir hulle. Daar is nie dinge wat ongesê gelaat is nie.

HUWELIK


Jy en Johan lyk nog so verlief. Wat is die geheim van julle goeie huwelik?
Ek en Johan was vanjaar in Maart 50 jaar getroud. Dis darem maar ’n baie lang tyd, né. Die feit dat ons in dieselfde beroep is, was in ons geval ’n goeie ding. Ons het mekaar goed aangevul. Hy het my toegelaat om my loopbaan te volg en het nooit gekla dat ek te veel weg is nie. Ek dank die Here daarvoor. Ek is baie geseënd om so ‘n man te hê. Hy het my baie gehelp in my loopbaan. Ek het nog altyd geweet hy is die ou wat ek kan vertrou. As hy kritiek het, dan luister ek na hom.
Nadat Johan teruggekom het van die hospitaal af en ek sien hoe hy stadig maar seker sterker word en sy oë weer begin lewe kry, het ek besef hoe ongelooflik groot die Here se genade is. Hy het Johan gesond gemaak en vir my teruggegee. Ek was van voor af dankbaar dat ek vir Johan het.

Watter raad het jy vir jonggetroudes wat nog ’n paar sakke sout saam sal moet opeet?
Ons praat met mekaar oor dinge. Ons is nie mense wat in ’n hoek gaan sit en nie praat oor wat ons pla nie. Praat met mekaar as iets nie reg is nie. Ek dink dit is iets wat jonggetroude pare maar moet aanvaar – hartoopmaak laat ’n verhouding werk. ’n Mens móét eerlik met mekaar wees en mekaar kan vertrou.

Wat is ’n lewensveranderende oomblik in jou lewe wat vir jou uitstaan?
Een is baie jare gelede toe ek nog opera gesing het. Ek het die rol van Pamina in die Towerfluit van Mozart aanvaar. Dit was in daardie stadium vir my ’n baie moeilike rol en ek was baie senuweeagtig daaroor. My sangonderwyser, Werner Nel, het ook in die opera opgetree. Ons het in die woonstelle by SUKOVS in Bloemfontein gebly en in die aande het ons saamgekuier. Ek sê toe: “Die Here moet my regtig help, want ek is so bang vir hierdie rol.” Werner het my so gekyk en gesê: “As jy nie jou kant bring nie, kan jy nie net vir die Here vra om jou te help nie. Jy moet baie oefen en hard werk.” Dit is so ’n eenvoudige les, maar daardie aand het ek besef: As ek nie my kant bring nie, kan ek sekerlik nie verwag dat die Here my help nie.


Rina en Johan by hulle kinders en kleinkinders: AGTER: Christien en Riaan (seun), Etienne en Enzo VOOR: Anri (dogter), Johan, Annabella, Rina (kleindogter), Rina en Ella

SANG EN KONSERTE
Julle het verlede jaar Hartsliedere aanlyn aangebied. Sal julle weer so iets doen?
Dit was heerlik, maar ons sal dit nie sommer weer doen nie. Dit was ’n verskriklike groot taak. Dit is in ons huis opgeneem. Elke hoekie en draaitjie in ons huis is benut. Dit was ’n uitdaging, hoor! Gewapen met ’n lig, selfoon, selfiestokkie en driepoot het ons die taak aangepak. Tussen die twee van ons was ons kameraman, klank- en beligtingsman, haarkapper, grimeerder en het sommer ook die meubels rondgestoot.

Waarom het julle dit gedoen?
Ons wou onsself besig hou tydens die inperking en tog ook mense bemoedig met van die liedere wat vir my spesiaal is. Ek het byvoorbeeld “Hoe troos ek nou?” ingesluit vir hierdie moeilike tye waar mense so swaarkry. Ek het ook “Genoeg vir vandag” gesing. Jy weet, gister is ’n tyd waaraan ons niks kan doen nie en ons weet nie wat lê môre vir ons voor nie. Ons kan net vra vir wysheid en krag vir vandag.
Ons sou nie in hierdie pandemie kon aangaan sonder die krag van die Here nie, en Hartsliedere was ’n program van vertrou, dankbaarheid en nuwe hoop.

Jy tree graag vir Sondageredienste op. Waarom is dit vir jou iets wat jy graag doen?
Die kerkoptredes was nog altyd vir my baie spesiaal. Dit kom uit my liefde vir die Here en om uit dankbaarheid terug te gee en die boodskap van die liefde van die Here met mense te deel. Dit is nogal belangrik vir my.
Weens my sekulêre loopbaan kon ek dit maar net hier en daar doen, hoewel ek in die negentigs twee baie suksesvolle gospel-CD’s opgeneem het, Jerusalem en Wat ’n vriend het ons in Jesus. So ’n paar jaar gelede het ek besluit om nie meer groot, gewone vertonings te doen nie. Ek het ’n bietjie moeg geraak vir die spanning wat daarmee gepaard gaan en het besluit ek wil aangaan, maar wou dit met so min spanning in my lewe as moontlik doen.

Hoe lyk so ’n program? Watter tipe liedere sing jy?
Ek het die programme begin skryf saam met ’n baie goeie vriendin van my, Rien Joubert. Sy is my sielsvriendin van meer as 40 jaar en het baie van my lirieke vir my geskryf in my sangloopbaan.
Vir die kerkprogramme het ek ’n tema uitgedink, liedere uitgesoek en sy het gedigte daarvolgens geskryf. Dit was vir my belangrik dat dit nie net ’n klomp los liedere moet wees nie, maar dat die hele program ’n diens kan vervang en ’n boodskap moet hê. Ons het deur die jare ’n hele paar sulke programme gedoen.
My kerkprogram het ’n definitiewe tema en kan die erediens vervang, dit is ’n mengsel van Afrikaanse en Engelse liedere, maar die gedigte is almal in Afrikaans.

Jy steun die Christelike Seemans-organisasie en het al meer as 400 vertonings ten bate van die CSO gedoen. Is jou optredes steeds ten bate van hierdie sendingorganisasie?
Ek en Gé Korsten het meer as 20 jaar gelede saam begin om die CSO te ondersteun. Ek het al gesien watter wonderlike werk hierdie manne in die hawens doen om die saadjie van die Here se liefde in seemanne se harte te plant en hulle pastoraal te bedien.
Ek gaan steeds voort om die CSO aan mense bekend te stel en die optredes is ten bate van hulle wonderlike werk.

Rina deel met sang en lied, in woord en daad die Here se liefdesbrood en dien as inspirasie vir elkeen van ons om ook te vergeet van eie nood en ons broer die hand te gee – terwyl ons kan.


17 Oktober 2021

 

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)
More quality content if you check those pages xxx; filme porno; xnxxfr.org; xxnxx; xvideosxnxx.org