Deur: Johan Jacobs

As gevolg van die onnatuurlike, stresvolle en besige lewenstyle wat die meeste van ons se lot is en met werk wat behels dat ons meestal die hele dag sit, beteken dit dat ons stadig maar seker al hoe meer onfiks, swakker en – ongelukkig ook – siek en vol gifstowwe raak. Die meeste mense besef nie hoe belangrik dit is om aan die beweeg te bly en wat ’n gebrek daaraan tot gevolg het nie.

Tweehonderd jaar gelede was die mense baie meer aktief. Om rond te beweeg en natuurlike oefening in te kry, was deel van ’n mens se daaglikse aktiwiteite. Neem jou daaglike kos as ‘n eenvoudige voorveeld, vandag is alles so maklik en loop die meeste stedelinge loop nie naastenby so ver as vorige geslagte om hulle voedsel in die hande te kry nie. Sedert die wiel uitgevind is en met die koms van motors, ry ons oral waar ons wil wees. Dit is nou so maklik dat dit feitlik geen fisieke inspanning kos om benodighede in die hande te kry nie. Ons koop aanlyn wat ons nodig het – net daar waar ons sit. ’n Rit in ons motor bring ons tot vlak voor die deur van die plek waar ons ons kos gaan koop – of dit word sommer by ons huis afgelewer! Nie so lank gelede nie het dinge heeltemal anders daarna uitgesien. Dit het altyd werk, inspanning en arbeid geverg om ’n maaltyd op die tafel te sit.

HOEKOM MOET ONS BEWEEG EN OEFEN?
Dit is belangrik om te beweeg of te oefen om:
1. sterk en fiks spiere, wat ons skelet ondersteun, te ontwikkel en sterk te hou.
2. een van ons primêre skoonmaakstelsels te aktiveer – die limfstelsel.

Jou limfstelsel reinig jou liggaam
Daar is ’n onsigbare stelsel wat die liggaam reinig en ontgif. Die limfstelsel bestaan uit ’n netwerk buise met eenrigtingkleppe. Die buise is vol deursigtige limfvloeistof wat die triljoene selle in jou liggaam voortdurend was en reinig. Die limfstelsel vervoer die gif- en afvalstowwe aanhoudend na spesiale filtreerders – limfkliere – waar die selle ontgif kan word. In teenstelling met die bloed in ons liggame, wat ’n pomp het om dit deur die liggaam te laat beweeg, hang die sirkulasie van die limfvloeistof van beweging en swaartekrag af.

Beweging is noodsaaklik vir ’n optimaal funksionerende limfstelsel
Hoe minder jy beweeg, hoe meer staan die limfstelsel stil. Gifstowwe bou en hoop op, wat daartoe lei dat die liggaam meer giftig en sieker word; jou immunniteit word aangetas en dit raak traag. Baie mense het trae en/of verstopte limfstelsels en besef dit nie eers nie. Geswelde limfkliere is ’n duidelike teken hiervan.

Sommige ander algemene klagtes wat moontlik gekoppel is aan ‘n verstopte limfstelsel is allergieë, chroniese sinusitis, hoë bloeddruk, gebrek aan energie, artritis en hoofpyn.

GO NATURAL SE VOORSTELLE

Gesonde dieet
Vir ’n behoorlike ontgifting en reiniging, gebruik GO NATURAL se protokol vir herstel in die resepte afdeling wat die volgende insluit:
1.Volg ’n suiwer warevoedseldieet en -lewenstyl.
2. Verwyder die bronne van onsuiwerhede en vergiftiging uit jou liggaam: wortelkanaalbehandelde tande, kwikstopsels, margarine, aluminium in sout en water, fluoriedtandepasta, ens. Meer oor al die onnatuurlike bronne word in ons boek GO NATURAL Wisdom for Healthy Living uitgewys.
3. Begin terselfdertyd oefen om die limfstelsel aan die gang te kry sodat dit al die opgeboude onsuiwerhede uit jou selle “was”.

Nou is die tafel gedek vir genesing en herstel.

Oefening
Maak dit ’n gewoonte om te oefen en onthou – “sukses is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie, dit is ’n gewoonte”. As jy eenvoudig nie ’n halfuur tot een uur per dag het om te beweeg, te hardloop, fiets te ry of jou gunstelingoefening te doen nie, is daar ’n wonderlike, doeltreffende en volhoubare alternatief – rebounding.
Dit is ’n drie-in-een-oefening: beweging, limfdreinering en om te balanseer. Rebounding is waarskynlik die maklikste manier om binne vyf tot tien minute jou hele liggaam te laat oefen, maar terselfdertyd help dit ook jou limfstelsel om gifstowwe uit te spoel, bou dit jou immuniteit en verhoog dit jou energievlakke. Terwyl jy op die mini-trampolien spring, oefen jou hele liggaam en kry elke sel energie en suurstof – in jou spiere, bene, oë, hart, longe, niere, ore, kliere – jou hele liggaam! Binne twee minute word die hele limfstelsel uitgespoel en verdriedubbel die witbloedseltelling, wat ’n beter verdedigingstelsel bied om kankerselle te vernietig.

Ander voordele van rebounding
1. Oefening vir die hele liggaam
2. Kostebesparend
3. Tydbesparing, jy benodig net vyf tot tien minute per dag
4. Dit versterk jou kernmaagspiere
5. Help met balans en koördinasie
6. Sagkens op gewrigte, dit is ’n lae-impakoefening
7. Verhoog immuniteit deur jou witbloedselle te aktiveer
8. Help kankerpasiënte om te ontgif en te herstel
9. Gewigsverlies wanneer jy opgestoorde energie begin verbrand

’n Mini-trampolien is die beste, doeltreffendste en mees bekostigbare manier om die limfvloeistof aan die beweeg te kry. Dit is ’n doeltreffende oefening omdat jy sweet en jou vel ook gifstowwe kan uitskei.

’n Rebounder is beslis aan te beveel. Daar is baie mini-trampoliens op die mark. Toets hulle gerus, maar neem kennis dat professionele trampoliens gemakliker vir gewrigte is, nie tot beserings sal lei nie en langer hou. Lekker oefen!


23 Mei 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)