Saamgestel deur: Gillian Fraser

As Christene is dit ons roeping om die sout en lig vir die samelewing te wees. Ons moet dié wees wat geskiedenis maak en die wêreld verander. Ons is geroep om vrug te dra en baie vir die Koninkryk van God te vermag. Ons mandaat op hierdie aarde is om die Evangelie aan alle nasies te verkondig. Ons lewe met die ewigheid voor oë en wil almal graag eendag dié wonderlike woorde van ons Koning hoor: “Welgedaan, goeie en getroue dienskneg …” Iemand wat hierdie roeping beslis uitleef, is pastoor Raymond Lombard. Van sendingwerk in Afrika-lande tot opleiding van huiskerkleiers in China, rig Jesus elke tree wat Raymond gee. Sy lewe getuig van nederige gehoorsaamheid aan Jesus, Sy Leidsman.

’n Lewe toegewy aan Christus
Raymond Daniel Lombard is op 18 Mei 1960 in Harare, Zimbabwe, gebore. Hulle gesin het in 1965 na Suid-Afrika teruggekeer en hy het die grootste gedeelte van sy kinderlewe in Benoni deurgebring. Vandag woon Raymond in Durbanville, Kaapstad, en is hy getroud met sy pragtige vrou, Amanda. Die egpaar het vyf kinders en is met ses kleinkinders geseën. Hy is die senior pastoor by die Volle Evangelie Kerk, Lewende Woord, in Parow – ’n bediening waarby hy reeds byna veertig jaar lank aktief betrokke is. Raymond word deur die Here Jesus gelei en wy sy lewe daaraan om ’n toegewyde dienaar te wees. Hy lê hom daarop toe om, soos Paulus ons in 2 Timoteus 2:15 beveel, die suiwer Woord van waarheid te verkondig.

Raymond en sy vrou Amanda

’n Diep soeke na antwoorde
As jongmens het Raymond die betekenis van die lewe bevraagteken en gewonder wat sy doel op aarde is. “As jong sewentienjarige het ek gesukkel met die eksistensiële vrae oor die betekenis van die lewe. Hoekom bestaan ek? Waarom is ek gebore? Ek het na die antwoorde gesoek; daar was ’n verskriklike leegheid in die diepte van my siel. Soms het ek by my bed gekniel en gebid, maar niks het gebeur nie en niemand het my ooit geantwoord nie. Die leegheid was steeds daar … Dit is hoe my soeke na God begin het. Die vrae het my bly teister – waar sou ek God kon vind, of vind God ons?”

Diensplig in die vloot
Toe Raymond 18 jaar oud was, het hy ’n brief in die pos ontvang – hy is vir nasionale diensplig opgeroep. Hy het by Saldanhabaai gaan aanmeld, waar hy sy twee jaar nasionale diensplig in die vloot begin het. Raymond onthou hoe hy in Augustus 1979 saam met drie van sy vriende, wat saam met hom diensplig gedoen het, oor godsdiens gesit en praat het. Hulle het gewonder of hulle Hemel toe sou gaan. Een van Raymond se vriende het gesê in die Bybel staan daar dat ’n mens wedergebore moet word om die Koninkryk van God in te gaan. Dit het Raymond laat bevraagteken of hy gered is. Vier dae lank het hy geestelik geworstel oor die kwessie van wedergeboorte. Op die vierde aand, toe hy nie kon slaap nie, het hy sy vriend wakker gemaak om oor hierdie brandende vraag in sy hart met hom te praat.

’n Damaskus-ervaring
Buite onder ’n boom het Raymond sy vriend gevra hoe ’n mens wedergebore word. Tot sy verbasing het sy vriend ook nie geweet nie. Raymond het besef dat net die Here hom die vrede kon gee wat hy so graag wou hê. Hy het die Here gevra om sy sondes te vergewe en is op daardie oomblik wedergebore. Raymond het toe sy vriend gevra of hy ook sy hart vir die Here wou gee. “My Damaskus-ervaring was ’n betekenisvolle gebeurtenis in my lewe. Toe ek daardie aand in die maanverligte nag opkyk, het ek gevoel asof ’n lig uit die Hemel direk in my hart skyn. Ek het geweet dat Jesus Christus by my en ook in my hart was. Op daardie oomblik het ek besef: Ek is wedergebore!”

’n Lewe wat aan Christus opgedra is
Hierdie lewensveranderende oomblik was die begin van ’n lewe van diensbaarheid, een wat aan die werk van Jesus gewy is. Raymond het by die Irene Teologiese Kollege van die Volle Evangelie Kerk van God teologie gaan studeer. Hy het in Maart 1982 met voltydse bediening begin en is op 5 Januarie 1985 as ’n pastoor georden. Op 18 Mei 1998 is Raymond ook deur die Church of God Cleveland, Tennessee in Amerika, georden.

Pastoor Ray het Raymond Lombard Ministries begin om pastore, evangeliste, kerkleiers en alle Christene in die Woord van God te onderrig en te verryk. Hy is by indrukwekkende sendingprojekte in lande oral in die wêreld betrokke. (Jy sal in die volgende paar bladsye meer daaroor lees.)

COVID-19 het tot nuwe geleenthede gelei
Buiten sy primêre bediening bied Raymond ook ’n weeklikse Bybelskool by sy kerk in Parow aan. Voor die inperking het hierdie Bybelskool elke week byna 500 studente verwelkom! Sedert die inperking stroom die Bybelskool sy opleidingsessies oor die internet. Verskeie onderwerpe word in die Bybelskool behandel. Raymond word deur ’n proaktiewe personeel- en leierskapspan bygestaan wat dit vir hom moontlik maak om aktief betrokke te wees in sendingwerk in Suid-, Oos-, Sentraal-, Noord- en Wes-Afrika, Asië, Indië, Suidoos-Asië, Sentraal- en Suid-Amerika.

Pastoor Ray praat oor die uitwerking van COVID-19 op die Bybelskool:
“Die week toe pres. Ramaphosa ons nasionale inperking aankondig, het ek met dié vraag voor die Here geworstel: Wat staan my nou te doen? Ons Bybelskool het in daardie stadium elke Dinsdagaand ongeveer 500 studente gehad wat by ons kerk opgedaag het, maar nou moes ek volgens die inperkingsreëls die deure sluit.
“Terwyl ek met die Here hieroor praat, het ek die woorde ‘Carpe Diem!’ gehoor. Ek het verstaan wat die Here sê – ‘Gryp die dag aan!’ Toe hoor ek in my hart die Here sê die woord ‘krisis’ in Chinees. Ek het dadelik verstaan ​​wat Hy bedoel. ’n Paar maande tevore, terwyl ek besig was met sendingwerk in Beijing, het my Chinese vriend en broer in Christus die woord aan my verduidelik deur dit op ’n stuk papier neer te skryf. Hy het my gewys dat die woord uit twee komponente bestaan – ‘gevaar’ en ‘geleentheid’. Ek het onmiddellik ’n openbaring in my gees gehad. Die Here het gesê: ‘Ja, dit is ’n gevaarlike tyd, maar dit is ook ’n tyd van geleenthede. Gryp die dag aan!’

“Ons het dadelik die video-opnames van ons Bybelskool en Sondagdienste op die internet begin laai. Ons het ons eie YouTube-kanaal – Raymond Lombard Ministries. Met meer as 460 000 digitale besoekers teen die einde van September was dit duidelik dat ons video’s baie lewens aangeraak het. Ons kykergetalle groei steeds daagliks! Prys die Here!”

DOELTREFFENDE SENDING- EN UITREIKWERK

Wheels for God’s Word
Op 5 September 1995, om 05:00 die oggend tydens sy gebedstyd, het Raymond ’n aanraking van die Here in sy lewe ervaar oor ’n spesiale roeping in die sendingveld
(1 Kor 16:9). Dit het gelei tot die totstandkoming van Wheels for God’s Word (WGW).

Vandag is dit ’n sendingorganisasie wat werk doen in 38 lande op die Afrika-kontinent, naamlik: Suid-Afrika, Lesotho, Swaziland, Mosambiek, Madagaskar, Botswana, Malawi, Zimbabwe, Zambië, Namibië, Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Burundi, Uganda, Tanzanië, Kenia, Ethiopië, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Soedan, Suid-Soedan, Sierra Leone, Tsjaad, Kameroen, Nigerië, Benin, Niger, Togo, Ghana, Burkina Faso, die Ivoorkus, Senegal, Mali, Egipte, Gambië, Liberië en Rwanda.

Sedert die stigting van hierdie organisasie het Raymond meer as 22 000 predikers en kerkleiers in Afrika opgelei. Danksy hierdie bediening is meer as 4 000 fietse en baie motorfietse aan pastore en evangeliste gegee. Dit het daartoe bygedra dat die Evangelie tien keer vinniger versprei is.

Hierdie predikante en evangeliste is met behulp van die Hart van die Mens-kaarte opgelei. Meer as 20 600 groot Hart van die Mens-kaarte, 65 000 Hart van die Mens-boekies, 5 000 sakgrootte Hart van die Mens-kaarte en duisende Bybels is in hierdie lande versprei.

As die direkteur van Wheels for God’s Word dien Raymond die Kerk in Afrika al meer as 25 jaar lank op die sendingveld.

Vind aanlyn meer uit oor Wheels for God’s Word: wheelsforgod.org.za

Hart van die Mens-kaarte
Een van die aspekte van die bediening wat Raymond baie na aan die hart lê, is die Hart van die Mens-kaarte. Wheels for God’s Word het ’n toep (app) ontwikkel om die Evangelie van Jesus Christus met behulp van ’n slimfoon te deel. Die Hart van die Mens-toep is op die gedrukte weergawe gegrond en is ’n doeltreffende hulpmiddel vir evangeliste en predikers.

Die Hart van die Mens-kaart is in meer as 300 tale beskikbaar. Die hoofdoel van die toep is om onbereikte (en die minste bereikte) bevolkingsgroepe in die 10/40-venster te evangeliseer – veral in lande waar gedrukte media met die Evangelie-boodskap verbode is. Die sending-aksie werk ook aktief in lande buite die 10/40-venster, waar die Evangelie eweneens nie welkom is nie, en waar godsdiensvervolging steeds plaasvind.

’n Video van die Hart van die Mens-kaart, met onderskrifte beskikbaar in 21 verskillende tale, is op www.raymondlombard.com/heartofman beskikbaar.

Dien die Kerk in Afrika
Raymond se sendingbediening het in die Demokratiese Republiek van die Kongo in Noord-Kivu (Oos-Kongo), in die Ituri-reënwoud begin. Oor baie jare heen is daar 1 420 kerke in pigmee-nedersettings in die reënwoud geplant. Die gevolg was dat duisende nuwe kerke in afgeleë plekke ontstaan ​​het en dat tienduisende siele tot die Koninkryk van God bygevoeg is.

Fokus op die Woord-radioprogram
Sedert 2002 is Raymond bevoorreg genoeg om ’n radioprogram te hê wat toegewy is aan die bediening en sendingwerk waarby hy betrokke is. Fokus op die Woord word op Radio Tygerberg, die grootste Christelike distriksradiostasie in Suid-Afrika, uitgesaai. Dit is een van die gewildste weeklikse Bybel-radioprogramme wat die breë gemeenskap in die Wes-Kaap bedien, asook die internasionale gemeenskap via regstreekse stroming. Alle programme is as ’n potgooi beskikbaar. Skakel Woensdagaande om 19:30 op Radio Tygerberg 104FM in om na Raymond te luister.

Uitbreiding van huiskerke in China
Dit is geen geheim dat China teen die Evangelie gekant is nie. Die regering van hierdie nasie is toenemend onverdraagsaam teenoor Christene en evangelisasie is heeltemal onwettig. Baie kerke moet noodgedwonge in die geheim bymekaarkom. Sedert 2010 bedien en lei pastoor Raymond honderde predikante van die huiskerke in China op. Ses van Raymond se boeke is in Mandaryns (Chinees) vertaal, gepubliseer en in China versprei.

Firewall Africa Project
Sedert 2014 het nog ’n missie, genaamd die Firewall Africa Project, ten doel om ’n vuurmuur (firewall) van God se Gees en genade in Afrika op te rig. Daar word aanvanklik op die lande vanaf Senegal tot Ethiopië en suidwaarts na Mosambiek gefokus.

In Sy genade het God vir Raymond gebruik om in verskillende lande in Afrika evangelisasiewerk te doen. As gevolg hiervan het die Church of God World Missions Africa Council hom as die koördineerder van hierdie Firewall-projek aangestel. In Oktober 2019 is Raymond deur die Church of God World Missions Africa Council as die direkteur van evangelisasie en kerkplanting oor Afrika aangestel.

Sedert 2016 het die Firewall-projek tot ’n wêreldwye inisiatief, Global Fire Advance, ontwikkel. Raymond is een van die stigterslede van die Global Fire Advance. Hulle doelwit is om evangelisasie, dissipelskap en kerkplanting oral in die wêreld strategies te beplan en te bewerkstellig met spesifieke betrokkenheid in Suid- en Sentraal-Amerika. Tot op hede is strategiese opleiding in Panama (Sentraal-Amerika) gedoen, asook in Chili, Ecuador, Peru en Argentinië (Suid-Amerika).

Pastoor Raymond het al duisende pastore opgelei in vier groot stede van Indië (Ranchi, Hyderabad, Mumbai en Nieu-Delhi), asook in Suidoos-Asiatiese lande soos Mianmar, Thailand, Viëtnam, Kambodja, Sri Lanka en die Filippyne.

Re-Forma: Ontwikkeling van globale bedieningsresultate
Navorsing toon aan dat 93% van alle predikante nie ’n formele teologiese opleiding het nie. Volgens statistiek is dit gelyk aan meer as 2 miljoen Protestantse pastore wêreldwyd. Daarbenewens word daar elke jaar duisende nuwe Protestantse kerke gevestig, dikwels sonder ’n opgeleide predikant of prediker. Die grootste krisis waarmee die evangeliese kerk vandag wêreldwyd te kampe het, is die feit dat die meeste leraars, sendelinge en Christen-leiers ondergeskool of glad nie opgelei is nie. Re-Forma se doelwit is om hierdie situasie fundamenteel reg te stel.

In Augustus 2017 is Raymond in die leierskapspan van Re-Forma aangestel. Hy dien op die Adviserende Raad. Vir dié internasionale organisasie is Bybelse opleiding baie belangrik, met die fokus veral op die 93% van die bedienaars van die Evangelie wat nog nooit formele opleiding ontvang het nie.

Raymond Lombard Ministries
Op 30 November 2018 is die Raymond Lombard Ministries-webtuiste bekendgestel. Dit bevat verskeie boeke en artikels wat deur Raymond geskryf is asook klankopnames in MP3-formaat. Digitale eksemplare van gedrukte media kan in pdf-formaat afgelaai word. Die webwerf bedien die hele Kerk van Jesus Christus. Die doel van hierdie webwerf is om predikers, evangeliste, kerkleiers en alle Christene in die Woord van God op te voed, te onderrig en te verryk.

“Ons begeerte is dat die roeping en bediening van alle Christene deur hierdie webwerf in die genade en kennis van ons Here Jesus sal groei. Ons hoofdoelwit is dat Bybelse opleiding vir die bediening wêreldwyd sal plaasvind en ’n oplossing vir die wesenlike behoefte aan Bybelse opleiding in suiwer Skrifgefundeerde leerstelling sal bied.”

Besoek raymondlombard.com om toegang tot boeke, artikels, oudio- en video-opnames te kry.

’n Geïnspireerde skrywer
Raymond het tien boeke geskryf.
Dit sluit die volgende in:
• Die Boek Openbaring (vers-vir-vers-kommentaar)
• Die Boek Daniël (vers-vir-vers-kommentaar)
• Die Geesteswêreld
• Koninkryk Teologie
• Die Name van God
• Jesus Christus in die Ou Testament
• Sinopsis van die Nuwe Testament
• Was sê die Bybel? Volume 1
• Wat sê die Bybel? Volume 2
• Die Getuienis

Al tien die boeke is in Afrikaans geskryf, waarvan nege in Engels vertaal is, vyf in Mandaryns-Chinees, ses in Frans, vier in Spaans en een elk in Mongools, Arabies, Sotho en Xhosa. Tot op hede is meer as 19 000 boeke gedruk. Raymond is ’n uitstekende leraar in die profetiese geskrifte, veral met die boeke Openbaring en Daniël. Hy het ‘n diep insig in die uitleg van eindtydprofesie. Al hierdie kragtige boeke asook hulle vertalings, is op Raymond se webtuiste beskikbaar.

Vir meer inligting, kontak die kerkkantoor by 021 939 1898 of e-pos media@raymondlombard.com

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Weekly Newsletter

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


1 November 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)