Deur: Lita Cosner

Moderne genetiese studies het getoon dat alle mense, oor die hele breë spektrum van menslike diversiteit, tog meer as 99% geneties ooreenstem. Dit dui daarop dat daar slegs een ras is – die mensdom.

Jy sou kon dink dat ons vandag, meer as ooit tevore, nader aan die einde van rassisme moes wees. Min mense voel gemaklik met rassistiese sienings, laat staan nog om rassisties op te tree. Daar is wette wat amptelike rassisme op belangrike gebiede soos verhuring en behuising verhoed. In sommige lande is daar selfs wette wat rassisme as haatspraak verbied. Daar is meer huwelike tussen mense van verskillende rasse as ooit tevore. Die gemiddelde individu is van mening dat iemand se etniese agtergrond niks met sy / haar intrinsieke waarde of gelykheid met enigiemand anders te doen het nie.

Daar is steeds rassespanning
Tog sien ons dat rassespanning deesdae steeds hoog is. Mense wat as bevoorregtes beskou word, word onder druk geplaas om te verklaar: “Swart lewens maak saak”. Korporatiewe maatskappy gee gehoor en staan tou om te verklaar wat presies húlle doen om die saak te bevorder. As Christene behoort ons egter nie besorg te wees oor mense se persepsies oor ons of oor politieke korrektheid nie. Dit is nie genoeg om net te sê dat rassisme verkeerd is nie. Ons moet dit van ’n Bybelse grondslag benader; een wat ons dikwels met ‘n kultuur sal laat bots wat oënskynlik dieselfde oortuigings as ons huldig.

Waarom maak alle lewens saak?
Die idee dat alle mense gelyke waarde het, word deesdae algemeen aanvaar. Tot in so ’n mate dat dit vir die gemiddelde individu moeilik sal wees om te verduidelik waarom dit so is, selfs al voel hulle sterk oor die geldigheid daarvan. Maar dit is ’n historiese en geografiese afwyking. Slawerny bestaan vandag in sekere dele van die wêreld steeds en in die geskiedenis was die ongelykheid van verskillende bevolkingsgroepe net so ’n gegewe feit soos hul gelykheid vandag is. Selfs tot laat in die twintigste eeu was daar klassegroepe onder mense in “beskaafde lande” op wie basiese menseregte nie van toepassing was nie.

Rassisme is steeds met ons
Toe twee wetenskaplikes van Creation Ministries International (CMI) onlangs hul artikel, “Racial mixing is perfectly biblical! Debunking the anti-biblical racist arguments of ‘Christian Identity“ gepubliseer het, het dit ongelukkig onthul dat rassistiese idees vandag nog bestaan. Dit bevestig slegs wat baie van ons sprekers gereeld hoor wanneer hulle bedien, veral in Amerika. Daar is geen verskoning daarvoor nie. Moderne genetiese studies het getoon dat alle mense, oor die hele breë spektrum van menslike diversiteit, meer as 99% geneties ooreenstem. Dit dui daarop dat daar slegs een ras is – die mensdom as geheel.

Geskape na die beeld van God
As Christene glo ons dat elke mens se lewe kosbaar is – vanaf die moederskoot tot die natuurlike dood – ongeag etnisiteit, ekonomiese status of enige ander veranderlike. Dit is omdat mense, anders as diere, na die beeld van God geskape is. Dit is hierdie oortuiging wat tot die afskaffing van die slawehandel in Engeland en Amerika gelei het. Dit is moeilik om iemand as jou besitting te hanteer wanneer jy hom of haar as jou gelyke beskou, wat ook na die beeld van God geskape is.

Evolusie se geraamtes in die kas
Daarteenoor het evolusie baie rassistiese geraamtes in die kas. The Descent of Man, Charles Darwin se minder bekende boek, wat ná The Origin of Species geskryf is, is ’n uiters rassistiese manifes. Hierdie evolusionêre rassisme is nie uniek nie, maar duik oral in evolusionêre literatuur op. Dit steek selfs subtiel in ’n paar onlangse voorbeelde kop uit. In CMI se dokumentêre rolprent, The Voyage That Shook the World, is daar onderhoude met Darwin-historici gevoer wat dit openlik erken het.

Begin by die Bybel, dit is die beste benadering om rassisme te hanteer
Christene voel soms geïntimideer deur sensitiewe onderwerpe soos rassisme en onttrek uit die debat. Die laaste ding wat enigeen wil doen, is om onsensitief te wees of die onreg wat plaasgevind het, te minimaliseer. Ons glo die beste benadering is, om by die Bybel te begin, want dit bied ons die waarheid wat die huidige gebeure oorkoepel.

Verandering begin tuis!
Ek is van mening dat die Bybel die enigste antwoord op rassisme is, omdat dit duidelik is dat die hele mensdom na God se beeld geskape is en vir Hom kosbaar is. CMI se uitvoerende hoof, Gary Bates, het gereeld daarop gewys dat Christen-sendelinge honderde jare gelede na derdewêreldse lande gegaan het om die Evangelie daar te verkondig. Hulle het niks van die wetenskap van moderne genetika geweet nie. Hoewel die mense dalk anders gelyk het, het die sendelinge God se Woord vertrou en geglo dat die ganse mensdom in God se oë kosbaar en die moeite werd is om te red. Die sendelinge se oortuiging is natuurlik geregverdig. Dit is nutteloos om vir grootskaalse verandering te wag as ons nie bereid is om by onsself en ons eie gesin te begin nie. En ’n goeie eerste stap is om ingelig te wees en in die huidige omgewing ’n positiewe ’n positiewe invloed te hê.

Darwin: The Voyage that Shook the World – R200
Dit is nou 161 jaar nadat Darwin sy teorie oor evolusie bekendgemaak het. Kan sy teorie nog staande bly? “The Voyage” bevat dramatiese historiese uitbeeldings en asemrowende natuurtonele, verweef met onderhoude met wetenskaplikes (kreasioniste asook evolusioniste) wat hul perspektiewe oor die man en die omstrede teorie deel. Dit is ’n fassinerende DVD met baie stof tot nadenke.

Skandeer die QR-kode om ‘n voorskou van die DVD te sien.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

5 Augustus 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)