Onderhoud deur: Ymile Kennedy

Pickard en Nadia Henn, van Christ in Action, is ’n jong egpaar wat “soek eers die Koninkryk” met hart en siel uitleef. Die woorde op Pickard se T-hemp som dit mooi op: “All day, everyday, Jesus”. Jesus is nie bloot ’n aspek wat deel uitmaak van hulle lewe nie – Hy is hulle hele lewe en elke dag is Syne om hulle te gebruik soos Hy wil. Daarom ervaar hulle ook dikwels wonderwerke wanneer hulle die kanaal word vir God om Sy liefde of genesing op iemand uit te stort. JUIG! se skakelbeampte, Ymile Kennedy, het in Upington by Pickard en Nadia gaan kuier.

PICKARD
Hoe het jy by Jesus uitgekom?
Ek het op 12 April 2015 my lewe vir Jesus gegee. ’n Maand lank voor dit was elke dag vir my een wat ek nie meer wou lewe nie. Die wêreld sal ’n beter plek wees as jy nie meer hier is nie, was al wat ek gedink het. Die oorsaak vir dit alles was dat ’n meisie met wie ek ongeveer vyf jaar lank uitgegaan het, met my uitgemaak het. Ek wou nie meer met my lewe aangaan nie. Ek het op 11 April 2015 drie keer probeer selfdood pleeg. Met die derde poging – met 15 slaappille in my liggaam – het ek kwaad vir God by my huis uitgeloop en geskree: “God van liefde! Mense sê daar is ’n God van liefde. Hoekom lyk my lewe dan so? Hoekom is alles wat ek ooit liefgehad het nou weg?” In daardie oomblik het Jesus Homself aan my openbaar en gesê: “Jy is kwaad vir My, maar jy ken My nie.” Die volgende dag is ek na die naaste kerk toe met een missie: om my lewe vir Jesus te gee. Ek het daardie dag alles neergelê, alles oorgegee en my lewe was daarna nooit weer dieselfde nie.

NADIA
Wat is jou getuienis?
Tydens my tweede jaar op universiteit het ek aan angsaanvalle begin ly. Dit was naderhand so erg dat ek glad nie meer normaal kon funksioneer nie, selfs ’n winkelsentrum was te oorweldigend vir my. Ek het sterk kalmeermiddels gebruik en drie keer per week ’n sielkundige gaan besoek, maar niks het gehelp nie. Ek was verlam deur ’n gees van vrees (2 Tim 1:7). Ek het ’n maand lank omtrent niks geslaap nie en skaars geëet. Ek het in my bed uitgeroep: “God, as U daar is, moet U my help, anders gaan ek dood.” Ek het geweet ek sal my eie lewe neem as ek nie hulp kry nie, want ek kon nie meer so aangaan nie. Daardie nag het Jesus Hom in ’n droom aan my openbaar. Ek het die volgende dag my lewe vir Hom gegee en is ’n paar dae later gedoop. Toe ek uit die doopbad kom, is ek bevry van angs! Dit is tot vandag toe die grootste wonderwerk wat God in my lewe gedoen het.

Hoe het julle twee ontmoet?
P: Ons het aanvanklik deur ’n gemeenskaplike vriendin ontmoet. ’n Maand later het Nadia een van haar profetiese kunswerke op haar Instagram-blad geplaas en ek het kommentaar gelewer. Dit is toe waar alles begin het. Ons het mekaar daardie Desember in die Kaap ontmoet – ek was daar vir ’n begrafnis en sy met vakansie. Ons het deur Seepunt gestap en mense tot vieruur in die oggend bedien.

N: Ons is ’n paar maande later verloof en het in September daardie jaar getroud. Ons troudag is eintlik een groot getuienis. Ons is totaal en al afhanklik van God se voorsiening en ons troue was geen uitsondering nie!

Wat het gebeur?
P: Kort nadat ons begin uitgaan het, het iemand ’n verloofring vir ons geskenk, as deel van hulle manier om in God se Koninkryk te saai. Kort daarna is ons verloof en kon ons aan ons troue begin beplan.

N: Op die dag van ons verlowing het iemand die koste van die trouvenue as ’n vroeë trougeskenk vir ons gegee. Daarna is alles – die dekor, die trourok, troupak, verblyf, fotograaf – vir ons geskenk! Al die eer kom die Here toe, ons het dit soos kinders van Hom ontvang.

Nadia, jy het die Here vir nog een ding vertrou. Wat was dit?
N: Ons wittebrood. Pickard het my die heeltyd gespot en gesê hy het net genoeg geld in sy rekening oor sodat ons, as hy afslag vir ’n tweemantent kan kry, vir ons wittebrood in Upington langs die Oranjerivier kan kamp. Ons het die Here vertrou vir ’n wittebrood in Mauritius.

P: Ons het stilletjies saam vertrou daarvoor en die baaikostuums in geloof gekoop en ingepak. Niemand behalwe ons gesinne het daarvan geweet nie. ’n Week voor ons troue het iemand vir ons gesê die Here het met hulle oor ons wittebrood gepraat en dat hulle daarvoor wil betaal. Daar bespreek hulle toe vir ons ’n vyfsterwittebrood vir sewe dae in Mauritius, vlugte ingesluit en alles betaal!

Hoe het julle by die bediening betrokke geraak?
P: Toe ek pas tot bekering gekom het, was ek vuur en vlam, wilder as die wildtuin. Ek het nie veel geweet nie, maar die dag nadat ek tot bekering gekom het, het ek mense na die Here toe gelei. Vir my is dit eenvoudig; as jy nie weergebore is nie, sal jy nie die Koninkryk van God sien nie. Niemand het dit vir my vertel nie, toe besluit ek om almal te vertel. Ek is vir die eerste agtien maande deur ’n Christen-leier onder die vlerk geneem en ek het saam met hom bedien. Oorlede Daru de Wet was ook ’n vriend en mentor vir my. Twee maande na my bekering het die Here my vir die voltydse bediening geroep. Ek is maar net ’n jongman wat ’n vriendskap met God gesluit en besef het dat almal om my ’n ewigheid het. Sommiges gaan die ewigheid in die hel deurbring en ander in die Hemel.

N: Die oomblik toe ek uit die doopwater gekom het, het daar ’n enorme verandering in my gees gebeur. Dit is net soos die liedjie sê: “I once was blind but now I see.” Die week toe ek tot bekering gekom het, is nog drie mense gedoop nadat ek hulle my getuienis vertel het. Ek wou mense net van Hom vertel en doen dit nog steeds, maar ek werk tans voltyds en gaan net soms saam met Pickard wanneer hy bedien.

MENTORS, ROEPING EN MISSIE
Wie is mentors in julle lewe?
N: Tans is Jacques Malan en Scott en Melody Lee groot stemme in ons lewens. Scott en Melody Lee is van Zion, Illinois in Amerika. Scott Lee was een van die sprekers by Reinhard Bonnke se School of Evangelism die jaar toe Pickard daar was. ’n Jaar later het die Heilige Gees bevestig dat Scott en Melody in ons lewens moet inspreek. Jacques Malan is ’n kragtige stem in Pickard se lewe. Verder leer ons steeds baie by Daru de Wet se kinders en sy vrou, Elize. Al mentor hulle ons nie, speel hulle ’n enorme rol in ons lewens. Hulle is familie vir ons. Ons is baie bevoorreg om sulke generaals in ons lewens te hê.

Wat doen julle? Wat is julle roeping?
P: Siele is al wat ’n honderd jaar van nou af gaan saak maak. Ons wen siele oral waar ons kom. Vulstasies, restaurante, winkelsentrums en kerke. Mense hoor maar van my evangelisasiewerk of sien my op Facebook en nooi my dan om by hulle te bedien. Vandag bedien ek internasionaal en Nadia reis en bedien soveel as moontlik saam met my. God het vir my ’n vrou gegee wat net so vurig is om die Koninkryk te sien kom as wat ek is.

Oral waar ons kom, genees die Here siekes, vlug die duiwels, word die (geestelike) dooies opgewek en kom mense tot bekering. As ons beweer dat ons in Jesus woon, dan moet ons wandel soos Hy (1 Joh 2:6).

Wat is julle missie?
P: Ons het een missie – siele! Breedweg is die missie om die Liggaam van Christus te bedien sodat Christene in hulle identiteit as seuns en dogters van God, vol van krag en die Heilige Gees kan begin lewe. Baie mense sit nog in hulle verlede vas, soos Matteus 22:29 sê: “… omdat hulle nie die woord of die krag van God ken nie.” Ons wil graag sien dat die Woord ryklik in mense woon en dat dit uit hulle vloei sodat hulle rein en heilige lewens lewe wat gelei word deur die Heilige Gees. Dat oral waar hulle kom, siekes genees word en mense Jesus ontmoet omdat Christus in hulle die wêreld om hulle aanraak.

Is daar wonderwerke waarvan julle wil getuig?
N: Toe ek so ’n paar jaar gelede in Handelinge lees, besef ek: Sjoe, maar daar is iets groot fout! Hierdie wonderwerke volg my nie en ek het dit ook nog nie binne die kerk gesien nie. Ek het toe begin soek om mense te vind wat só met God wandel. My soektog het my na Bethel Kerk se School of Creativity gelei, waar ek die eerste keer wonderwerke sien gebeur het. Ek is self van ’n skulpvisallergie genees nadat my vriendin vir my gebid het! Die ervaring by Bethel het my geaktiveer om die Here se liefde met krag te demonstreer. Ek het daar besef: Dit is maklik om vir mense se genesing te bid, want ek hoef hulle nie te genees nie. Ek bid en Hy doen dit. Ek het ook profeties begin skilder en gesien hoe die Here my inspireer om kuns te skep wat mense se lewens aanraak.

Is daar so ’n hoogtepunt vir jou, Pickard?
P: Ek sien regtig daagliks wonderwerke, maar die mooiste is wanneer iemand Jesus in ’n openbare plek ontmoet. Van al die dowe ore wat ek al sien oopgaan het, van al die kanker wat verdwyn het, die rolstoele wat leeg raak, die bene wat teruggroei en die onmoontlike wat moontlik raak, is dit vir my die mooiste wanneer iemand wat nou net ge-effin, -zeffin, -flippen en -zippen het, ’n sigaret aansteek en terwyl hy rook, bid ons vir hom en die Here raak hom aan. “The cross is deadly, but effective!”
Een van die kosbaarste wonderwerke wat ek egter onthou, was toe ek vyf keer vir ’n oom se ore gebid het. Hy was doof in sy linkeroor en die regteroordrom was verwyder. Ek het gebid, maar niks het gebeur nie. Toe vra ek een van die kinders in die kerk om vir Jesus te vra om asseblief die oom se ore oop te maak. Soms sluip kennis en twyfel by ons grootmensharte in, maar nie by kinders nie. Sy vra toe: “Ag, liewe Jesus, kan die oom asseblief net weer mooi hoor?” In daardie oomblik gaan die oor wat geen oordrom gehad het nie, toe oop. Ek het die oom onlangs weer gesien en hy sê die oor is nog steeds oop!

Julle skryf op Facebook dat julle vir die eerste keer in maande alleen in die huis is, want julle huis is ’n veilige plek vir mense. Wie kom bly by julle en hoekom?
P: Drie jaar gelede het ek ’n woonstel “gesaai” en vir my broer gegee. Kort daarna ontvang ek toe eendag die boodskap van iemand af: “Die Here het gesê ek moet vir jou ’n huis gee.” Die dag toe ek daar intrek, het ek die Here gevra dat die huis altyd ’n veilige plek vir Sy mense moet wees. Ons huis is oop. Elke dag is daar mense. Sommige kom kuier, sommige kom net vir gebed en ander kom eet by ons. Ons huis is oop vir dié wat hoop nodig het. As Jesus nie mense weggewys het nie, dan wil ons ook nie. Ons werk is om mense uit die vuur te ruk. Soos die evangelis Bonnke altyd gesê het: “Ek sal my huis twee meter van die hekke van die hel af bou sodat ek die mense uit die vuur kan ruk.”

PICKARD EN NADIA HENN kan gekontak word via hulle webtuiste ciam.co.za of via e-pos
by info@ciam.co.za Jy kan hulle ook op Instagram vind by @pickardhenn & @instaklang


11 Junie 2022

 

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)
More quality content if you check those pages xxx; filme porno; xnxxfr.org; xxnxx; xvideosxnxx.org