Deur: Riekert Botha

Ek skop vandag af met ’n analogie. Dit is ’n verduideliking van wat in ons harte aan die gang is “agter die gordyn”. Daar is belangrike dinge wat daar lê; magte en kragte wat ons lewens in ’n rigting dring en dryf en dit bepaal hoe ons optree, ons emosionele toestand, ons wêreldbeskouing en ons reaksies. Ter verduideliking gaan ek ’n landskap skets wat bestaan uit ’n baie diep afgrond aan die een kant en ’n baie hoë koppie aan die ander kant. Tussen die koppie en afgrond lê ’n plato.

Die Vallei-van-opgee
Kom ons praat eerste oor die afgrond. Ek noem dit die Vallei-van-opgee. Dit is ’n aaklige plek in enigeen se lewe. Jy sak teen die hange van hierdie vallei af; daardie trog is geweldig diep. Dit is waar ’n mens in jou hart opgee, waar jy hoop laat vaar, opgee op alles – insluitend die waarheid.

Vegkoppie
Aan die ander kant van die vallei is daar ’n baie hoë koppie. Ek noem dit Vegkoppie. Dit is die plek waar jy oortuig is dat as jy hard genoeg veg, hard genoeg baklei, jy gaan regkry wat jy wil vermag. Jy glo as jy hoog genoeg teen hierdie koppie kan uitklim, sal jy die afgryslike afgronde van die Vallei-van-opgee kan vermy. Dikwels is die raad wat ’n mens hoor: “Moenie opgee nie! Veg!” Of dit nou gebruik word in ’n morele sin van die woord, as ’n lewensfilosofie of in ’n politiese sin, is dit wat ’n mens dikwels teëkom.

Die Plato-van-oorgee
Die ruimte tussen hierdie twee uiterstes is die veilige, vaste Plato-van-oorgee. Dit is die belangrike boodskap van die Bybel, van die hele Evangelie; dit is die boodskap oor Christus Jesus. In oorgee lê ons heil, verlossing en lewe.

Gee ons ore om te hoor
Snaaks genoeg is dit baie makliker om opgee en veg te verstaan as om te begryp wat oorgee beteken. Ons almal beleef dit. Ons bevind onsself in party plekke in ons lewe in die Vallei-van-opgee en in ander dalk op Vegkoppie. Vir iemand wat op Vegkoppie hand en tand baklei om te oorleef, is dit baie moeilik om ’n boodskap van die Plato-van-oorgee te hoor wat sê: “Die geheim is om oor te gee.” So ’n persoon hoor dikwels daar van sy posisie op Vegkoppie af dat daar van “opgee”: gepraat word en sê driftig: “Ek sal nooit as te nimmer opgee nie!” Die ou op Vegkoppie verstaan nie ’n woord van wat oorgawe beteken nie. Hy grawe hom met sy bakleiery net al hoe meer in die verdrukking in. Díe einste dinge waarvan hy graag wil wegkom deur so te baklei, grawe hy homself net nog dieper in.
Dit is ook nie net die ouens op Vegkoppie wat hierdie boodskap nie mooi hoor nie. Dit is die ou in die Vallei-van-opgee ook. As so ’n persoon hoor dat die enigste manier om uit die vallei te kom, is om oor te gee, hoor hy net hy moet veg. Hy lê en kerm, want hy het net nie meer die energie nie: “Ek kan nie meer nie …” Die boodskap is: Gee oor!” Maar hy hoor:
“Veg! Veg net!”

Die boodskap van oorgee
Die boodskap van Christus is die boodskap van oorgee en daarin lê die lewe. So baie van ons hardloop heen en weer van Vegkoppie na die Vallei-van-opgee. Ons is op Vegkoppie en veg vir al wat ons werd is, maar voel dan ons het niks bereik nie en gly in die dieptes van opgee af. Nie te lank nie, dan probeer ons weer, veg ons weer. En Jesus sê: ”Stop net! Gee oor!”

Die futiele resies
Afhangend van waar ons is, voel ons daar is nie nou die energie om te veg nie, want ons is te besig om op te gee, of ons voel ons kan nie oorgee nie, ons is te besig om te veg. Dis vir ons so moeilik om te stop. En ons word so moeg van veg en opgee, dat ons iemand soek om ons net ’n bietjie moed in te praat sodat ons weer met die futiele resies kan aangaan. Ons werf mense op WhatsApp-groepies: “Help ons veg! Bid saam met ons.“ (Ek verwys natuurlik nie hier na voorbidding soos gelei deur die Heilige Gees nie.) Dit is soos mense wat by ’n marathon koeldrankies uitdeel vir die ouens wat hardloop, hulle hou ons aan die gang van veg tot opgee en terug. Hulle gee versies en koeldrankies om ons gemotiveer te hou in ons resies, maar Jesus wil ons juis laat ophou hardloop. Natuurlik wil mense bemoedig word – en daar is die tyd en plek daarvoor. Maar die moed wat ons dikwels wil hê is die heel verkeerde soort moed. Jesus het al die hoop en al die moed in die wêreld vir ons. Maar dis hier op hierdie plato waar vastigheid is. Dit is egter nie wat ons wil hê nie. Ons wil moed ingepraat word om aan te gaan met die heen en weer hardloop. Daardie moed gaan jy nie by Jesus kry nie. Jy kan dit vergeet.

Jou vlees gaan jou mislei
Jesus wil ons leer wat dit is om oor te gee. Net Hy ken die inhoud van die boodskap van oorgee. Die vlees is of op Vegkoppie of in die Vallei-van-opgee. Die vlees is totaal onbelese met die boodskap van oorgee.

Leer by Jesus wat oorgee beteken
Waar is jy in hierdie landskap? Veg gaan jou nie help nie. Opgee gaan jou nie help nie. Die antwoord is: Gee oor. Een van die mees liefdevolle dinge wat Jesus kan doen, is om ons te dwing om op ’n plek te kom waar ons stil staan en hoor wat oorgee beteken. Ek onthou die oomblik in my lewe waar ek gevoel het God dwing my in ’n hoek. Waar ek so moeg gehardloop was tussen veg en opgee en ek nie meer kon nie. Op daardie hulpelose plek het ek die heerlikheid en krag van Jesus ontmoet wat my geleer het van oorgee. Daar is die deurbraak in my lewe.

Dit is hoekom ons baie keer sê jy vind Jesus juis in die krisis. Die krisis van stilstaan en besef dat jou lewensdoel van veg en opgee verkeerd is. Die geheim lê in oorgee. Dit is die ware aanbidding van Jesus wat op die troon sit. Daar lê ons lewe. ’n Krisis is nie altyd ’n krisis nie. Om stil te staan, is glad nie die einde van die wêreld nie – en om te leer by Jesus wat oorgee beteken, is die sleutel tot die lewe.

RIEKERT BOTHA is ’n leraar, outeur en gasspreker. Hy is te sien op RoepTV. Besoek gerus sy webblad riekertbotha.co.za of sy Woordskool, Vita Dei, op YouTube


27 Mei 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)