Deur: Julita Kok

Gedurende my avonture met die Here, leer ek baie dinge. Een daarvan is dat ek nooit regtig weet wat Hy wil doen en bereik nie. Daar is altyd ’n verrassing iewers vir my. Tydens my afgelope reis van agt weke deur Suid-Afrika, het ek langs die pad baie sulke verrassings gehad. Een daarvan het in die Transkei gebeur.

Nuwe vriende in Madwaleni
Tydens my tyd in Madwaleni het ek aan huis van een van die dokters, Johan Ganzevoort, op die hospitaalgronde gebly. Dit was die eerste keer wat ek vir Johan en Mia ontmoet het, maar ons het soos ou vriende gevoel.

Met my aankoms het dit begin reën en die modder het naderhand dik gelê. Johan wou my baie graag hulle beroemde rotspoele gaan wys, maar die reën was ’n uitdaging. Tog het hy besluit dat dit veilig sou wees. Ek het spoedig uitgevind wat dit beteken het! Die modderige grondpaaie (die enigste paaie daar), was lewensgevaarlik. Gly-gly het ons ons bestemming bereik en die poele het inderdaad my asem weggeslaan.

Ons sit vas
Maar toe moet ons terug, die bulte uit. En dit was ook nie ver nie, toe sit ons vas. Hoe meer Johan probeer, hoe stewiger sit die Ford vas. Wonder bo wonder het ons toe wel ’n selfoonsein en kon Johan hulp ontbied. Ek en Mia en die drie dogtertjies het besluit om solank die bult uit te loop om dit makliker te maak vir ons redders wat ons eers huis toe sou neem en dan vir Johan met die trekker kon gaan help. Maar ons was skaars tuis toe stop Johan met die bakkie!

’n Sterwende vrou in ’n rolstoel
Hoe dan nou? En so hoor ons ’n verhaal van ’n God wat Sy eie planne maak en sorg dat Sy kinders op die regte oomblikke op die regte plekke is. Ons was skaars weg, toe daar vier mans en twee vrouens by Johan aankom. Hulle het ’n derde vrou in ’n rolstoel gestoot – in daardie vreeslike modder! Dokter Johan kon sien dat die vrou sterwend is. Hy het die mans gevra om hom te help om die bakkie uit te stoot. Daarna het hy hulle almal op die bakkie gelaai en hospitaal toe gebring.
Twee dinge om hier op te let. Menslik gesproke moes dit nie moontlik vir die bakkie gewees het om teen daardie modderige bult uit te kom met al daardie passasiers nie. Tweedens sou dit daardie groepie ongeveer twee en ’n halwe uur geneem het om die siek vrou by die hospitaal uit te kry. Teen daardie tyd sou sy reeds ’n lyk gewees het.

Maar daar is ’n God wat hoor wanneer mense na Hom uitroep. Ons het gedink ons is op ’n avontuur na die rotspoele toe, maar God het dit bewerk dat ons paaie op die regte tyd met dié van die vrou in die rolstoel kruis. Sy is betyds gehelp en is die volgende dag na Umtata oorgeplaas waar sy spoedig herstel het.

Sy liefde laat my in verwondering
God maak bemoeienis met mense en as dit beteken dat een in die modder moet vassit sodat ’n ander gehelp kan word, dan is dit hoe dit sal wees. Sy liefde vir mense laat my elke keer in verwondering. Hy wil nie hê een mens moet verlore gaan nie. Hierdie verhaal het soos ’n veldbrand versprei en soveel mense aangeraak. Dit is hoe Hy werk, sommer so in ons alledaagse gang van die lewe. Ek het ’n avontuur in die Transkei gehad en iemand se lewe is ook gered. God is so goed!

Julita Kok is die uitvoerende hoof van NueLight, ’n musiekpublisiteitshuis wat omsien na Christelike kunstenaars wêreldwyd. Sy is egter eerstens kind van God en gaan waarheen Hy haar stuur. Kontak haar by julita@nuelight.co.za


22 Maart 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)