“Waarom het die mense in Genesis so lank geleef?”

Dit is ietwat van ’n geheimenis waarom die mense in Genesis so oud geword het.
Bybelse geleerdes het baie teorieë daaroor. Die stamboom in Genesis 5 bevat die bloedlyn van die godvresende nageslag van Adam – die bloedlyn waaruit die Messias uiteindelik sou kom. God het moontlik hierdie bloedlyn met buitengewoon lang lewens geseën weens hulle godvresendheid en gehoorsaamheid. Hoewel dit ’n moontlike verduideliking is, beperk die Bybel nêrens spesifiek die lang lewensduur tot slegs die individue wat in Genesis 5 genoem word nie. Behalwe vir Enog, identifiseer Genesis 5 nie enige van die ander mense as buitengewoon godvresend nie. Dit is moontlik dat almal in daardie tydperk honderde jare oud geword het. Verskeie faktore het waarskynlik hiertoe bygedra.

’n Beskermende watergewelf
Genesis 1:6-7 noem die water bo die uitspansel – ’n gewelf water wat die aarde omring het. So ’n watergewelf kon ’n kweekhuis-effek geskep het, waardeur baie van die straling wat die aarde tans tref, nie sou kon dring nie. Dit sou ideale lewensomstandighede tot gevolg gehad het. Genesis 7:11 dui aan dat die watergewelf tydens die Sondvloed op die aarde uitgegiet is, wat die ideale lewensomstandighede beëindig het. Vergelyk die lewensduur voor die Sondvloed (Gen 5:1-32) met die ná die Sondvloed (Gen 11:10-32). Onmiddellik ná die vloed het die ouderdomme dramaties afgeneem.

Sonde verdorwe die genetiese kode
Nog ’n oorweging is dat daar binne die eerste paar geslagte ná die Skepping ’n paar gebreke in die menslike genetiese kode ontwikkel het. Adam en Eva is volmaak geskape. Hulle was sekerlik hoogs immuun teen siektes. Hulle nageslag sou hierdie voordele geërf het, hoewel in ’n mindere mate. Met verloop van tyd het die menslike genetiese kode toenemend meer foute ontwikkel het as gevolg van sonde, en het mense toenemend vatbaar vir siekte en die dood geword. Dit kon ook bydra tot die drastiese verkorte lewensduur.

“Wat is die oorsprong van die verskillende rasse?”

Die Bybel verskaf nie uitdruklik die oorsprong van die verskillende rasse of velkleur van die mensdom nie. In werklikheid is daar net een ras – die menseras. Binne die menslike ras is daar ’n verskeidenheid in velkleur en ander fisieke kenmerke.

Het dit by die toring van Babel begin?
Sommige mense reken dat toe God die taalverwarring by die toring van Babel veroorsaak het (Genesis 11:1-9), het Hy ook rassediversiteit geskep. Dit is moontlik dat die Here genetiese veranderinge binne die mensdom teweeg gebring het sodat hulle oor die vermoë kon beskik om in verskillende habitatte te oorleef.
Volgens hierdie uitgangspunt het God die taalverwarring veroorsaak wat daartoe gelei het dat die mensdom linguisties van mekaar afgeskei het en genetiese rasseverskille geskep het gebaseer op die plek waar elke rassegroe-pering hulle uiteindelik sou vestig.
Hoewel dit moontlik is, is daar geen uitdruklike Bybelse bevestiging vir hierdie uitgangspunt nie. Die rasse van die mensdom word nêrens in die Bybel met die toring van Babel verbind nie.

Verskillende kulturele groepe is gevorm
Toe die verskillende tale by die toring van Babel ontstaan het, het die groepe wat dieselfde taal gepraat het, wegbeweeg saam met ander wat dieselfde taal gepraat het.
Sodoende het die genetiese poel vir groepe dramaties gekrimp omdat hulle nie meer met die hele menslike bevolking gemeng het nie.
Ondertrouery het plaasgevind en mettertyd is sekere gelaatstrekke in hierdie verskillende groepe beklemtoon (waarvan alles reeds as ’n moontlikheid in die genetiese kode teenwoordig was).
Deur die geslagte heen het die genetiese poel kleiner en kleiner geword, totdat mense van een taalfamilie almal dieselfde, of soortgelyke gelaatstrekke gehad het.

Kleurvolle gene
Nog ’n verduideliking is dat Adam en Eva oor die gene beskik het om swart, bruin en wit nakomelinge te hê (en alle ander skakerings tussenin). Dit sou soortgelyk wees aan ’n paartjie van verskillende rasse wat soms kinders het wie se velkleur van mekaar verskil.
Omdat dit duidelik God se plan was dat die mensdom divers in voorkoms moet wees, maak dit sin dat Hy Adam en Eva die vermoë sou skenk om kinders van verskillende velkleur te kon hê.
Later was die enigste oorlewendes van die sondvloed: Noag en sy vrou, Noag se drie seuns en hulle vroue – agt mense altesaam (Genesis 7:13). Miskien was Noag se skoondogters van verskillende rasse. Dit is ook moontlik dat Noag se vrou van ’n ander ras as Noag was.
Miskien was al agt van hulle van gemengde rasse, wat sou beteken dat hulle oor die genetiese inligting beskik het om kinders van verskillende rasse te hê. Wat ook al die verduideliking, die belangrikste aspek van hierdie vraag is dat ons almal mense is, almal deur dieselfde God geskape, almal vir dieselfde doel – om Hom te verheerlik.

“As God geweet het dat Adam en Eva sou sondig, hoekom het Hy hulle geskape?”

Die Bybel sê dat God alles vir Homself geskape het – insluitend ons. Hy word deur Sy Skepping verheerlik. “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” Romeine 11:36.
Dit mag moeilik wees om in te sien hoe Adam en Eva se sondeval eer aan God kan bring. Sommige mense mag selfs wonder hoekom Hy hulle geskape het as Hy geweet het hoeveel moeilikheid hulle sou veroorsaak.

Die Here se plan
God is alwetend (Psalm 139:1-6) en Hy weet wat die toekoms inhou (Jesaja 46:10). Hy het dus beslis geweet dat Adam en Eva sou sondig. Tog het Hy hulle steeds geskape en hulle ’n vrye wil geskenk. Ons moet daarop let dat Adam en Eva se sondeval nie beteken dat God die outeur van sonde is of dat Hy hulle in versoeking gelei het om te sondig nie (Jakobus 1:13). Die sondeval dien egter die doel vir God se oorkoepelende plan vir die Skepping en die mensdom.

Die narratief van die Skrif
As ons die oorkoepelende narratief van die Skrif in ag neem (of wat sommige teoloë die ‘meta-narratief’ noem), sien ons dat Bybelse geskiedenis in breë trekke in drie hoofdele verdeel kan word:
1. Paradys (Genesis 1-2)
2. Verlore Paradys (Genesis 3- Op 20)
3. Herwonne Paradys (Openbaring 21-22)
Die grootste gedeelte van die narratief word aan die oorgang van die verlore paradys terug na die herwonne paradys gewy. Die kern van hierdie meta-narratief is die Kruis, wat van die begin af reeds beplan was (Handelinge 2:23).

God is altyd in beheer
Wanneer ons die Skrif sorgvuldig bestudeer, kom ons tot die volgende slotsom:
1. God het vooruit van die val van die mensdom geweet.
2. God het oor die kruisiging van Christus en die versoening vir Sy volgelinge beskik.
3. Eendag sal alle mense God verheerlik – en dus ook Sy doel met alles (Ps 86:9; Ef 1:10).

Die doel is Sy verheerliking
God se bedoeling was om ’n wêreld te skep waar Sy glorie in alle volheid openbaar kon word. Die heerlikheid van die Here is die oorkoepelende doel van die Skepping. Dit is die oorkoepelende doel van alles wat Hy doen. Die heelal is geskape om God se heerlikheid ten toon te stel (Ps 19:2), en die toorn van God word openbaar aan diegene wat Hom nie verheerlik nie (Romeine 1:23). Die wêreld wat die heerlikheid van die Here die beste ten toon stel, is die wêreld wat ons bewoon – ’n wêreld wat toegelaat is om te val, ’n wêreld wat besig is om verlos te word, ’n wêreld wat herstel sal word na oorspronklike volmaaktheid.

Ons desperate behoefte aan genade
God se toorn en genade demonstreer die rykdom van Sy heerlikheid, maar ons kon nie een van die twee karaktereienskappe waarneem sonder die sondeval van die mens nie. Ons sou nooit barmhartigheid ervaar het as ons dit nooit nodig gehad het nie. God se hele plan – insluitend die sondeval, verlossing en versoening van die mensdom – is dus om Hom te verheerlik. Toe die mens gesondig het, is die Here se genade onmiddellik openbaar gemaak omdat Hy die mens nie op die daad laat sterf het nie.
God se genade was onmiddellik sigbaar in die bedekking wat Hy vir hulle skaamte voorsien het (Genesis 3:21). Sy geduld en verdraag-saamheid is later betoon toe die mensdom in dieper sonde verval het. God se geregtigheid en toorn is onthul toe Hy die sondvloed ge-stuur het, en Sy barmhartigheid en genade is weer eens gedemonstreer toe Hy Noag en sy gesin gered het. God se heilige toorn en volmaakte geregtigheid sal in die toekoms gesien word wanneer Hy eens en vir altyd met satan afreken (Openbaring 20:7-10).

Die grootste betoning van liefde
God se heerlikheid word ook deur Sy liefde openbaar (1 Johannes 4:16). Ons ontvang ons kennis van God se liefde deur die Persoon en reddende werk van Jesus Christus in hierdie sondige wêreld. “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God Sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.”
Sou God besluit het om Adam en Eva nie te skape nie omdat Hy voorkennis van hulle sondeval gehad het – of as Hy hulle outomate gemaak het met geen wil van hulle eie nie – sou ons nooit werklik geweet het wat liefde is nie.
Die grootste vertoon van God se heerlikheid het aan die Kruis plaasgevind, waar Sy toorn, geregtigheid en genade verenig het. Die regverdige oordeel van alle sonde is aan die Kruis uitgevoer, en God se barmhartigheid is in Sy Seun se woorde geopenbaar: “Vader, vergewe hulle.” (Lukas 23:24).
God se liefde en barmhartigheid word gemanifesteer in diegene wat Hy gered het (Johannes 3:16; Efesiërs 2:8-9). Uiteindelik sal God verheerlik word terwyl Sy uitverkorenes en die engele Hom in alle Ewigheid saam aanbid, ook die bose sal die Here verheerlik wanneer Sy geregtigheid tot die ewige straf van sondaars lei wat geweier het om tot inkeer te kom (Filippense 2:11). Sonder die val van Adam en Eva sou ons nooit God se geregtigheid, barmhartigheid, genade en liefde ken nie.

Sy wil is soewerein
Sommige mense maak beswaar dat God se voorkennis en voorbeskikking van die sondeval die mens se vryheid benadeel. Met ander woorde, as God die mensdom geskape het met die wete van die dreigende sondeval, hoe kan die mens verantwoordelik gehou word vir sy sonde? Die beste antwoord daarop word in die Westminster Geloofsbelydenis aangetref: “God het van alle ewigheid af, in ooreenstemming met Sy alwyse en heilige wil, vrylik en onveranderlik beskik wat moet geskied; [a] maar tog só dat Hy nie die outeur van sonde is nie, [b] of dat die wil van Sy skepsels geweld aangedoen word nie, of dat [c] die vryheid of toevalligheid van sekondêre oorsake ingeboet word nie, maar eerder bevestig word.” Met ander woorde, die Here beskik oor toekomstige gebeure op so ’n manier dat ons vryheid en die werking van sekondêre oorsake (bv. natuur-wette) behoue bly. Teoloë noem dit ‘concurrence’. God se soewereine wil geskied gelyklopend met ons vrye keuses op so ’n manier dat ons vrye wil en keuses altyd die wil van God uitvoer (deur ‘vrye’ word bedoel dat ons keuse nie onder dwang van eksterne invloede ge-skied nie). Dit is ’n ingewikkelde interaksie van die wil en keuses, maar die Skepper kan enige kompleksiteit hanteer.
Die Here het voorsien dat Adam en Eva sou val. Hy het hulle in elk geval geskape, na Sy beeld, om Hom te verheerlik. Hulle is die vryheid gegun om keuses te maak. Selfs al het hulle gekies om ongehoorsaam te wees, het hulle keuse die middel geword waardeur God se uiteindelike wil uitgevoer is en waardeur Sy volle heerlikheid openbaar gemaak sal word.

“Waar was die tuin van Eden?”

Daar word al vir eeue lank na die Tuin van Eden gesoek, maar sonder sukses. Daar is verskeie plekke waarop aanspraak gemaak word dat dit die oorspronklike ligging is, maar niemand kan met sekerheid sê nie. Wat het met die Tuin van Eden gebeur? Die Bybel sê nie spesifiek nie, maar dit is moontlik dat die Tuin deur die Sondvloed vernietig is.

Onseker oor die oorsprong
Die enigste inligting wat die Bybel ons bied oor die Tuin van Eden se ligging word in Ge-
nesis 2:10-14 aangetref: “Daar het ’n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en het vier riviere geword. Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele land Kus. Die derde rivier is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.”
Die presiese identiteit van die Pison- en Gihonriviere is onbekend, maar die Tigris- en Eufraatriviere is baie goed bekend.

Moontlike liggings
As die Tigris en Eufraat wat genoem word, dieselfde riviere as die hedendaagse riviere met hierdie name is, sal dit die Tuin van Eden êrens in die Midde-Ooste plaas, waarskynlik in Irak. Selfs net een klein plaaslike vloed kan egter die loop van ’n rivier verander, en die Sondvloed van Noag se tyd was baie groter as ’n plaaslike vloed! Die stortvloed het die topografie van die aarde geheel en al verander.
As gevolg hiervan is daar nie sekerheid oor die oorspronklike ligging van die Tigris- en Eufraatriviere nie. Dit kan wees dat die mo-derne riviere wat die Tigris en Eufraat genoem word, bloot genoem is na die riviere van Eden, soortgelyk aan Bethlehem, in die Vrystaat, wat na die dorp in Judea vernoem is.

Die oorblyfsels van die tuin
As die Midde-Oosterse gebied inderdaad is waar die Tuin van Eden was, en as ru-olie hoofsaaklik verrotte plantreste en diere-oorblyfsels is, soos die meeste wetenskaplikes glo, dan is dit vanselfsprekend dat die Midde-Ooste die plek is waar ons die grootste olieneerslae sal aantref.
Baie mense reken dat die massiewe hoe-veelhede olie in die Midde-Ooste die gevolg is van die verrottingsproses van die aarde se we-
ligste organiese materiaal uit die Tuin van Eden. Hoewel die olie in die Midde-Ooste die reste van Eden kan wees, is dit bloot teorieë van diegene wat dit voorstaan.


GOT QUESTIONS is ’n webwerf wat die Liggaam van Christus bedien deur interessante artikels en Bybelse antwoord op uitdagende vrae te verskaf. Vir meer inligting, besoek www.gotquestions.org

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)