Deur: dr. Robert Carter, PhD

RNS-entstowwe: Span God se ontwerp in om siekte te voorkom, maar sal die nuwe entstoftegnologie ons DNS verander?

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit ‘n langer artikel wat voorheen op Creation.com gepubliseer is. As ’n organisasie bekragtig Creation Ministries International (CMI) die wetenskap. Ons bestaan ​​om die Kerk by te staan in sy rol om die waarheid van die Bybel te verkondig, dus ook die Evangelieboodskap, hoofsaaklik deur relevante antwoorde te verskaf op die mees algemene vrae oor die belangrike onderwerp van die skepping en evolusie.

Dit kan sommige mense verbaas dat ons teen samesweringsteorieë betoog, dat ons oor die algemeen ten gunste van inenting is en dat ons ’n gedetailleerde verslag het wat die sterk- en swakpunte van die teorie van antropogeniese aardverwarming opweeg. Elkeen van hierdie gebiede oorvleuel met ons mandaat, hoewel ons hulle nie as noodsaaklik beskou nie. As ons mense kan help om die wetenskap te verstaan ​​en terselfdertyd help om van teorieë af weg te bly wat skadelik of selfs dodelik kan wees, het ons ons tyd goed benut.

Wat doen entstowwe?
Ons het onlangs talle vrae oor entstowwe beantwoord. Dit het die publikasie van ’n verklaring van ons standpunt oor entstowwe voorafgegaan. Die feit dat bewys kan word dat entstowwe lewens red, was die deurslaggewende faktor wat ons beweeg het om die inligting beskikbaar te stel.

Daar bestaan geen twyfel dat entstowwe vernietigende en dodelike siektes soos pokke en polio uitgewis het nie. Verbeterings en vooruitgang in die mediese wetenskap is ’n goeie ding, want dit help om die gevolge van die Vloek om te keer en volg Jesus se voorbeeld om die siekes te genees. Dit is belangrik om te verstaan dat entstowwe voortbou op ons wonderlik ontwerpte immuunstelsel. Die vervaardiging van teenliggaampies is deel van die stelsel wat deur God ontwerp is, dit help ons liggame om te onthou hoe om sekere infeksies te beveg. Entstowwe poog om ons immuniteitstelsel op te lei deur dit “skyfskietoefening” te gee.

Vors feite eers deeglik na
Ons het gevoel dit is nodig om die COVID-19-entstowwe wat tans in produksie is, te bespreek. Ons weet ​​dat dit vir sommige mense ’n omstrede onderwerp is. Uit ervaring weet ons dat ’n beduidende deel van anti-inentingsinligting nie van goed ingeligte bronne kom nie. Dit wil nie sê dat ál die inligting sleg is nie, maar misleidende redenasies doen voortdurend die rondte. Dit bekommer ons baie, veral as ons in ag neem hoe algemeen sulke redenasies in Christen-kringe voorkom. Selfs mense wat oor die algemeen nie deur samesweringsteorieë beïnvloed word nie, het baie vrae oor die nuwe entstowwe – ons inkluis.

Maar ons weet ook dat vrae en besware dikwels beantwoord kan word deur doodeenvoudig die feite weer te gee wat behoorlik nagevors is. Nadat alles dan in aanmerking geneem is, kan mense self besluit hoe hulle op die gegewe inligting wil reageer. Ons sal die vraag noukeurig ondersoek en die bevindings eerlik evalueer.

Die ontstaan van entstowwe
Toe entstowwe aanvanklik ontwikkel is, het ons nie eens geweet wat virusse is nie. Al wat ons geweet het, was dat as die etter van ’n koeipokkiesrofie in iemand se arm ingespuit word, dit hulle teen pokke kon beskerm. Die dokter, Edward Jenner, was in 1798 die eerste om dit te doen. Louis Pasteur, bekend vir sy uitgesproke geloof in die skepping, het ook verswakte entstowwe (dit wil sê ’n lewende, maar onskadelikgestelde virus) vir miltsiekte (antraks) en cholera ontwikkel. Die vroeë tetanus- en difterie-entstowwe het virusse gebruik wat deur formaldehied doodgemaak is.

Hierdie siektes was wêreldwye plae wat jaarliks ​​onmeetlike lyding en dood veroorsaak het. Die vroeë entstowwe is gebruik om die las van ernstige siektes aansienlik te verminder, maar hierdie entstowwe sou nie aan die moderne veiligheidstandaarde voldoen het nie. Gelukkig het die nuwe entstowwe wat beskikbaar gestel word, goeie lesse uit die verlede geleer.

Wat is RNS-entstowwe en hoe werk dit?
Die nuwe entstowwe poog om menslike selle met RNS (RNA) binne te dring sodat die selle dan ’n virale proteïen kan vervaardig. Hierdie proteïen kan dan deur die liggaam se immuniteitstelsel “gesien” word wat teenliggaampies teen daardie proteïen sal begin produseer. As alles volgens plan verloop, sal die persoon dan immuun wees teen die siekte.

Die AstraZeneca-entstof
AstraZeneca het ’n entstof ontwikkel wat ’n virus gebruik om RNS in die sel af te lewer. Mense is bekommerd oor die potensiaal vir genetiese ingryping (genetic engineering), maar virusse lewer reeds heeltemal op hulle eie RNS of DNS aan ons selle en ons beskou dít nie as genetiese ingryping nie. Die RNS bevat ook slegs een of twee proteïen-koderende gene. Tot op hede is daar geen aanduidings dat hierdie strategie ’n genoom (groep gene in ’n organisme) kan “skep” nie, en alles word gedoen om dit te bepaal, maar ons het geen langtermyn- eksperimentele data waarop gesteun kan word nie.

Hierdie entstof is egter nie so ver gevorderd soos die ander twee nie. Dit is dus dalk nie eens die moeite werd om daaroor bekommerd te wees nie. Een rede is omdat die steekproewe gestaak is nadat een van die vrywillige deelnemers nogal siek geword het. Hulle het reg opgetree en die proewe gestaak totdat daar meer inligting beskikbaar is. Dit bewys eintlik dat hierdie dinge nie oorhaastig deurgedruk word ten koste van mense se gesondheid nie.

Moderna en Pfizer se entstowwe
Moderna en Pfizer maak gebruik van ’n ander strategie vir hulle entstowwe. Hulle gebruik RNS wat deur vetdruppeltjies (lipiede) omhul word. Die liggaamselle neem die druppeltjies op asook dit wat hulle bevat. Die RNS sal in ’n proteïen verander word en dit sal uiteindelik na die selmembraan beweeg, waar dit die produksie van teenliggaampies sal veroorsaak. ’n Witbloedsel sal dan opdaag en die sel verteer. Ja, enige sel wat die virale RNS-string inneem, sal doodgaan. Maar as jy in ag neem dat dit voortdurend in jou liggaam gebeur, en as jy in aanmerking neem dat jy triljoene selle in jou liggaam het, is dit nie van soveel belang om ’n paar selle op te offer sodat ’n beskermende teenliggaam geproduseer kan word nie.

Hoe word die entstowwe gemaak?
Die vervaardiging van die nuwe entstowwe is vernuftig. ’n DNS-sintetiseerder maak die geen vir die “pennetjieproteïen” (spike protein) – wat die koronavirus toelaat om die gasheerselle binne te dring en te infekteer. Die geen word in ’n plasmied (sirkelvormige DNS) geplaas en dan word E. coli-bakterieë gefop om dit op te neem. Wanneer die bakterieë vermenigvuldig, word hierdie DNS geoes en in ’n proefbuis in RNS omskep met behulp van bakteriële ensieme. Laastens word die RNS in lipiede omhul en teen -80°C gestoor om te verhoed dat die RNS vergaan.

Die Moderna- en Pfizer-entstowwe is nou in fase 3-proewe. Daar is ongeveer 60 000 mense wat aan elke steekproef deelneem, waarvan ongeveer die helfte ’n skynmiddel (placebo) ontvang. Dus het bykans 50 000 mense tot dusver ’n RNS-entstof ontvang. Daar is tot dusver min (statistiese) probleme gerapporteer.

Kan ’n RNS-entstof ons DNS verander?
Is dit moontlik dat die entstof ons DNS kan verander? Die waarskynlikheid is uiters skraal. Eerstens spuit virusse reeds DNS en RNS in ons selle in. Net in uitsonderlike gevalle haal hierdie materiaal ons genoom. Tweedens produseer ons selle groot hoeveelhede RNS. Daar is geen bewyse vir wydverspreide heropname van RNS in die menslike genoom nie. Die hele stelsel sou inderwaarheid in duie stort as daar nie voorsorg getref is om te verhoed dat dit kan gebeur nie.

Besluite moet op kennis gegrond wees
Alles wat ons wel weet, dui daarop dat die nuwe tegnologie veilig behoort te wees. En dit is belangrik dat dit in aanmerking geneem moet word. Selfs wanneer ons bloot baie versigtig wil wees, moet ons finale besluite op bewese kennis gegrond wees, nie die vrees vir dit wat ons potensieel nie van weet nie. Dit geld in ons daaglikse lewe. As ons nie besluite kan neem op grond van wat ons weet nie, sal ons niks kan doen nie. Ons sou nie kon eet nie – uit vrees vir voedselvergiftiging. Ons sou nie kon ry nie – uit vrees vir dronkbestuurders, ensovoorts. Die doel is dus om hierdie nuwe idee te bestudeer totdat elke belangrike beswaar en bekommernis hanteer is. Daarna kan ons versigtig voortgaan terwyl ons die ernstige kwessies elke tree van die proses herevalueer.

Voordele en nadele
Daar is verskeie voordele aan hierdie nuwe entstowwe. Eerstens word geen selle van ongebore babas benodig om twee van die drie vernaamste kandidaatentstowwe te vervaardig nie! Ook word die gebruik van hulpmiddels (bv. aluminiumsoute) en preserveermiddels (bv. Timerosal) uitgeskakel.

Die entstowwe is egter nog nie aan miljoene mense gegee nie en inenting op groter skaal is altyd kommerwekkend. Daar is ook baie voorbeelde van farmaseutiese middels wat, nadat dit goedgekeur is, verskriklike newe-effekte tot gevolg gehad het. Maar daarom bestee hierdie maatskappye soveel miljoene dollars aan veiligheidstoetse.

Die Christen se benadering
Mense het wettige besware oor hoe vinnig hierdie nuwe entstowwe vervaardig is. Ander bekommernisse, soos die eindtydteologie, Bill Gates se begeerte om bevolkingsbeheer toe te pas, aerogel, bioskyfies en entstof-tatoeëring, is óf nie van toepassing op die nuwe RNS-entstowwe nie, óf is buite die teologiese omvang van ons bediening.

Op die ou end moet ons verstaan ​​dat vreemde DNS en RNS die heeltyd in ons selle beland. Tog beveg ons liggame dit byna altyd suksesvol. Die nuwe RNS-entstoftegnologie gebruik bloot iets wat reeds bestaan, ’n stelsel wat deur God ontwerp is. Die gevalle wêreld is onvolmaak, maar ons moet ons bes doen met wat ons ontvang het. Om God se wonderlike ontwerp in te span om mense se lyding te verlig, is ’n goeie plek om te begin.

DR. ROBERT CARTER, PHD is ’n senior wetenskaplike en spreker vir CMI-VSA in Atlanta, Georgia. Hy ondersoek tans menslike genetika en ander kwessies wat verband hou met die Bybelse skepping.


’N PAAR CHRISTEN-LEIERS GEE LEIDING EN INSIG OOR DIÉ OMSTREDE KWESSIE

Ons is deur God gemerk
Deur prof. Stephan Joubert
Dit is lewensbelangrik om God se merk in die Bybel reg te verstaan. Die meeste Christene mis dat ons as navolgers van Jesus reeds gemerktes is. Ons dra die merk van God. Regdeur die Bybel vleg hierdie waarheid soos ’n goue draad. In Efesiërs 1 en in 2 Korintiërs 1 en 5 hoor ons dat gelowiges deur die Heilige Gees gemerk of verseël is. Hy is die waarborg dat ons veilig by die ewige fees van God sal aankom. Ook die Ou Testament bevestig dat God al Sy kinders merk. In Esegiël 9:4 word alle gelowiges in Jerusalem op hulle voorkoppe gemerk. In Deuteronomium 6 en 11 word die Wet van God soos ’n merkteken op gelowiges se handpalms en voorkoppe aangebring. In Eksodus 12 word die pasga as ’n merkteken op die Israeliete se voorkoppe en hande beskryf. In Openbaring 7 en 14 word alle gelowiges gemerk. God se Naam en Christus se Naam word op ons geskryf. Dus dra alle gelowiges die merkteken van die Here. Hierdie merk is simbolies van God se eienaarskap oor ons lewe. Dit is nie ’n fisiese merk soos ’n tatoeëermerk nie.

Openbaring 13 vertel dat die bose hierdie merkteken op ’n sondige manier naboots. Net soos gelowiges deur hulle lewe wys dat hulle die gemerktes van God is, wys dié wat nie gelowiges is nie dit deur hulle sondige gedagtes en hulle bose dade. Alle ongelowiges is gemerktes van die satan volgens Openbaring 12. Dit is ’n universele merk. Daarom sê Openbaring 13 dat klein en groot, ryk en arm, slawe en vry mense deur sy bose dier gemerk is. Dit is nie ’n inspuiting wat ’n paar mense dalk in 2021 kan kry of ’n mikroskyfie wat net ryk mense in Westerse samelewings sou kon bekostig nie. Almal word gemerk – God merk Sy mense en die satan merk sy mense. Daarom hoor ons in Openbaring 14 tot15 en later ook in Openbaring 19 tot 20 dat almal wat gemerk is deur die bose ook vir ewig veroordeel word.

Wat intenting teen die koronavirus betref: Eerstens maak baie Christene die fout om na “dié entstof” te verwys – asof daar net een entstof is. Dit is tans baie duidelik dat daar honderde maatskappye, universiteite en regerings is wat entstowwe ontwikkel wat verskillend van mekaar is. Tweedens het geen toonaangewende Christen-genetikus of erkende medikus ooit oor die afgelope maande gelowiges gewaarsku teen die inenting nie! Die wêreld se heel grootste genetikus is Francis Collins. Hy is ’n oortuigde Christen. Hy het nog niks oor ’n “bose” entstof gesê wat selfs die DNS van mense sou kon verander nie. Kortom, Openbaring 13 moet nie gebruik word om ’n buikspreker oor ’n 2022/2021-entstof te wees nie. Ons moet minder bevrees wees vir satan en blyer wees dat ons, wat voor Christus as die Here buig, Sy gemerktes is en dat ons name in die boek van die lewe geskryf is. Voordat ons in kouekoors uitbreek oor Openbaring 13 moet ons eers Openbaring 14 lees wat sê dat ons die merk van God en die merk van Christus het.


COVID-19-entstof: Is dit van God of die duiwel?
Deur ds. Dirkie van der Spuy
Daar is wêreldwyd gejuig toe aangekondig is dat daar ’n entstof vir COVID-19 ontwikkel is. Christene het maande lank gebid dat ’n entstof suksesvol ontwikkel sal word. Nou is mense egter huiwerig om hulle te laat inent. In ’n omvattende studie het die Wellcome Trust in 2018 bevind dat net 79% van mense saamstem dat entstowwe veilig is. In April 2020 het Rapport ’n opname gedoen en bevind dat 72% van Suid-Afrikaners bereid is om hulle te laat inent, terwyl 21% geweier het om ’n COVID-19-inenting te ontvang.

Die tegnieke wat in die verlede gebruik is om entstowwe te ontwikkel, was dikwels gevaarlik. Vandag is dit anders, want beter wetenskaplike kennis is beskikbaar vir meer gesofistikeerde tegnieke. Christene glo daarom dat dit God is wat kragtens die algemene openbaring vir wetenskaplikes die kennis en insig gee om ontdekkings en oplossings vir probleme te vind.

Pfizer en BioN-Tech se nuwe koronavirusentstof, wat tans in Brittanje toegedien word, bied 95%-beskerming teen hierdie virus wat reeds meer as 1,5 miljoen sterftes veroorsaak het. Hierdie entstof is die vinnigste ooit ontwikkel en getoets volgens die protokolle wat vir entstowwe geld. (Gewoonlik neem die proses sewe tot tien jaar lank.) ’n Mens sou die verhoring van gebede en die Hand van die Here hieragter kan sien.

Daar is vandag baie misleidende informasie en bangmaakstories wat nie op wetenskaplike waarhede gegrond is nie. Christene moet versigtig wees om nie onwaarhede te versprei nie, want ons weet dat die duiwel die vader van die leuen is (Joh 8:44). Daar sal altyd ’n vrees vir die onbekende wees en dis natuurlik dat mense oormatig versigtig sal wees. As Christus ons lewens kom reinig het van sonde en die Heilige Gees ons wedergebore kinders van God gemaak het, kan die vyand ons nie uit God se hand ruk nie (Joh 10:28). As ons God se kinders geword het, is die merk van die dier van ons voorkoppe afgevee en is ons naam in die boek van die lewe geskrywe. As gedooptes dra Christene die merk van die Lam. As ons die Seun het, het ons die ewige lewe (1 Joh 5:12).


Christene se verantwoordelikheid
Deur Bennie Mostert
Oor die verloop van 40 jaar lank wat ek al in die bediening is, klink die sameswerings-teorieë altyd min of meer dieselfde. Die data wat gebruik word, verander net van tyd tot tyd. Dit is geheime kodes in die numeriese waardes van name, strepieskodes, mikroskyfies, selfone, entstowwe, ensovoorts. Talle van hierdie teorieë verskil hemelsbreed van mekaar. Min van hulle het beduidende oorvleueling. Ander sit groot hoeveelhede van die inligting in een sameswering bymekaar. Die probleem is dat daar gewoonlik dinge in elkeen van hierdie teorieë is waar daar waarheid in kan steek.

’n Groot probleem is die manier waarop Skrifgedeeltes aangehaal, geïnterpreteer en toegepas word. Indien al die “feite” in al hierdie teorieë waar is (en dit kan nie wees nie, want hulle weerspreek mekaar op te veel plekke), wat is ons as Christene se verantwoordelikheid? Om heilig te lewe, die Evangelie na die ongereddes en onbereiktes te neem, dissipels van al die nasies te maak, die armes te versorg en mense in nood te help. God het nie verander nie en Sy opdragte ook nie.

Ek dink nie die einde is so naby nie . Ek kan aan minstens 1,5 miljard plus redes dink waarom dit nie nou kan wees nie – dit is die hoeveelheid mense wat tans die Evangelie nog nie eens een keer gehoor het nie. En hieroor is daar ook ’n Skrifgedeelte of twee wat aangehaal kan word. Dus, kom ons doen wat ons moet doen en gee uitvoering aan die basiese opdragte van die Skrif. Dít het nie verander nie. COVID-19 het gekom en sal gaan, en dan sal nuwe teorieë kom. COVID-19 is en was die volmaakte situasie vir die ontwikkeling van samesweringsteorieë. Oor die afgelope 2000 jaar lank is daar basies in elke geslag profesieë en teorieë wat beweer: “Dit gaan in ons geslag gebeur!” Een van die geslagte sal reg wees. Maar ek sien nie dat ons geslag die antichris en die wederkoms sal sien nie. Jesus sê Hy kom gou, dat ons waaksaam moet wees. Dit moet elkeen in sy lewe inbou. En net so moet elkeen ook daagliks uitvoering gee aan die opdragte van die Here Jesus. Een van die kenmerkendste dinge wat met samesweringsteorieë gepaard gaan, is dat hierdie Christene dikwels hulle vurige liefde vir die ongereddes en onbereiktes verloor en nie meer iets aan die nood van die armes doen nie.


Maak ingeligte keuses
Deur pastoor Andrew Selley
As ’n kerk en internasionale apostoliese vennootskap (FOUR12) is ons nie vír of téén entstowwe nie. Die Bybel verwys nie spesifiek na hierdie saak nie. Daarom kan elkeen self tot ’n slotsom kom oor hierdie omstrede onderwerp. Ons beveel individue aan om ingeligte keuses te maak met betrekking tot hul gesondheid en dat die besluit gegrond moet wees op feite wat gerugsteun word deur behoorlike navorsing. Dit kan nuttig wees om die volgende in aanmerking te neem:
• Enige medikasie moet effektief wees vir die siekte waarvoor dit toegedien word. Die geskiedenis bewys dat entstowwe doeltreffend kan wees om ons teen ernstige siektes soos polio te beskerm.
• Alle nuwe medisyne hou ’n risiko in vir onbekende of onvoorsiene newe-effekte. Die entstowwe moet dus goed getoets en veilig wees en alle protokolle moet nagekom word. Let wel, net omdat COVID-entstowwe die mark vinniger bereik het as die norm, beteken dit nie noodwendig dat die proses afgejaag en die veiligheidsondersoeke verontagsaam is nie. Die veiligheid van die entstof is wêreldwyd van groot belang vir medici. In die geval van COVID-19 het die ontwikkeling van ’n entstof op alle vlakke voorrang geniet en daarom kon die proses vinniger as gewoonweg voltooi word.
• Laastens vertrou ons dat die beleid oor openbare gesondheid oor die voorskryf en toediening van die entstof steeds ruimte vir die individu sal laat met betrekking tot kwessies wat verband hou met die produksie van entstowwe, die risikovoordeel-profiel vir die individu se gesondheid asook die vryheid van keuse oor inenting al dan nie.

Deur die bg. faktore in ag te neem, kan individue ingeligte en verantwoordelike besluite neem oor inenting en entstofwwe. Dit is ook verstandig om jou geneesheer se raad te vra.


COVID-19-inenting
Deur dr. Isak Burger
Valse leringe was van die vroegste kerk af teenwoordig – lees maar net Paulus se briewe of Jesus se briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië. Sulke leringe en profesieë neem oor die algemeen in tye van rampe en ongewone natuurverskynsels toe. Daar is verskeie redes waarom mense op sleeptou geneem word.
Eerstens is baie Christene goedgelowig en maklik beïnvloedbaar. Sulke leringe word gewoonlik met groot oortuiging en oënskynlike “feite” voorgehou. Dit gaan dikwels gepaard met waarskuwings oor God se oordeel indien daar nie na die waarskuwings geluister word nie. Onthou asseblief in dié verband: Nuwe Testamentiese profete kan nie blindelings gevolg word soos in die Ou Testament nie, waar die ware profete se uitsprake as kanonies ( hulle woorde het deel van die Bybel geword) beskou is. M.a.w. In die Nuwe Testament moet profesieë eers beoordeel word (1 Kor 14:29). Tweedens verwag die Here nie van Sy kinders dat hulle hul logika moet laat vaar wanneer hulle met nuwe leringe en sg. profesieë te make het nie. Ook ons denke is deur die Heilige Gees vernuwe.

Die huidige pandemie verskaf die ideale teelaarde vir samesweringsteorieë. Ek betwyfel nie die mense se erns nie, maar ’n mens kan ook opreg én verkeerd wees. Dis ironies dat hulle gewoonlik nie ’n behoorlike teologiese onderbou en glad nie die wetenskaplike kundigheid het nie – hulle “kennis” is grootliks op fopnuus gegrond. Onthou dat die wetenskap deel is van God se algemene openbaring en genade – al word dit nie noodwendig altyd deur gelowiges bedryf nie. Ateïstiese mediese spesialiste het al menige gelowige se lewe deur ’n komplekse operasie gered. Terwyl die wetenskap voortdurend ontwikkel – en ook foute maak – en sekerlik misbruik kan word, moet ons nie gedurig wantrouig teenoor die wetenskap staan nie. So is verskillende siektes wat die mensdom eeue-lank geteister het deur inentings uitgewis. Ek is oortuig dat gelowiges mislei word omdat hulle nie genoeg van die Bybel weet nie (Matt 22:29). Doen gebalanseerde en deeglike navorsing. Gebruik die internet, maar onthou dat waarheid en leuen daar verkondig word. Ek moedig mense nie noodwendig aan om die inenting te ontvang nie, maar moet dit nie weens fop-nuus en samesweringsteorieë vermy nie. Maak ’n verantwoordelike en deeglik ingeligte keuse.


18 Februarie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)