Deur: Ellenore Meyer

Victor Frankl, ’n bekende psigiater, het ’n terapeutiese hulpmiddel ontwikkel wat bekend staan ​​as logoterapie. Hierdie teorie is gegrond op die oortuiging dat die mens in sy aard ontwerp is om betekenis te vind. Logoterapie is ’n raamwerk waarvolgens die dieper betekenis vir ’n mens se lewe, en die gepaardgaande ervarings, ontdek kan word. Frankl se persoonlike ervarings van lyding en verlies in die Nazi-konsentrasiekampe het ’n groot invloed op sy werk gehad.

Logoterapie berus op drie onderskeie beginsels:

  • Die oortuiging dat elke mens in sy kern ontwerp is om gesond en goed te wees.
  • Die primêre fokus in die lewe, veral in tye van swaarkry of lyding, is om ander mense na openbaring / innerlike verligting (enlightenment) te lei en hulle die gereedskap en hulpbronne te gee wat hulle by hulle innerlike kern sal uitbring.
  • Die lewe gee ons altyd die geleentheid om ’n lewensdoel en betekenis te ervaar maar belowe nie vervulling en geluk, wat sal kom en gaan nie.

Wat het van 2020-visie geword?
2020–ons jaar van visie – was ’n sentrale tema vir die eerste rubriek wat ek vroeër vanjaar geskryf het. Die oorweldigende wêreldwye ervaring van vrees en onsekerheid, die verlies van vryheid, asook tydelike onvermoë om vir môre te beplan, het veroorsaak dat baie van ons nie meer opkyk en vorentoe kyk nie, maar eerder rondkyk of selfs die kop laat sak en grond toe kyk. In onseker tye hou ons vas aan groter waarhede. Vind ons vreugde nie net in die lewe nie, maar ook in ons vooruitsig na die Ewigheid. “God het alles mooi gemaak op sy tyd” – Prediker 3:11. Hy het reeds die ewigheid in ons harte geplaas (in die Engelse vertaling). In tye wat die lewe nie vir ons sin maak nie, lê die sin vir ons daarin om vas te hou aan die kernwaarheid dat God liefde is. Sy planne vir ons is goed. Mettertyd ontdek ons dat Hy ín en déúr die swaarkry by ons is; dat Hy van die begin af ’n beter plek vir ons voorberei het.

’n Innerlike en uiterlike stryd
As ’n mediese dokter wat in informele nedersettings werk, is dit ’n voortdurende stryd. Eerstens ekstern – met die implementering van die beste praktykprotokol vir mense wat te min hulpbronne en ruimte het om by die basiese beginsels te hou om COVID-19 te bekamp. M.a.w. om sosiale afstand te handhaaf en gereeld hande te was. Tweedens woed die stryd ook innerlik. Ek moet my eie teleurstelling nie vastrapplek gee nie. Ek is nie seker wanneer ek my ouers, wat tans in die buiteland woon, weer sal sien nie. Terwyl ek hier skryf, was ek veronderstel om my ma in Switserland te ontmoet om daar ’n konferensie oor my PhD aan te bied. Die gradeplegtigheid is ook van ’n openbare byeenkoms na ’n virtuele seremonie ver-ander. Dít het ek misgeloop omdat ek besig was om by die gesondheidsentrum in een van die informele nedersettings te werk.

Die genade van die Here
Ek glo nou, meer as ooit tevore, dat die vind van ’n lewensdoel en betekenis, ons nie net sal deurdra nie, maar ook voorberei op dit wat ons moet doen wanneer ons aan die ander kant van die pandemie uitkom. Ons – die Universiteit van Pretoria se departement huisartskunde – se COVID-19-protokol vir die informele nedersettings het tot nou toe baie goed gevaar. Dit is te danke aan die genade van God en die hulp van baie vennote, wat kerke soos Moreletapark Gemeente, Lewende Woord en Doxa Deo in my omgewing insluit, asook organisasies sonder winsbejag soos LIFT (van Moreletapark Gemeente), SA Cares en Brave to Love.

Die span mediese en gemeenskaps-gesondheidswerkers van die Universiteit van Pretoria (UP) en die plaaslike regering kon ’n siftings- en isolasieprotokol instel en honger gesinne van vier informele nedersettings met kospakkies huis toe stuur. Lank voor die gevreesde virus aan ons deure kom klop het, het honger reeds by duisende ander aangeklop.

’n Vrou in uiterste nood
Ek moes onlangs een aand ’n huisbesoek aflê om ’n swanger vrou, in een van die informele nedersettings, te gaan help. Sy was paniekbevange. Sy het geglo dat sy in kraam was, maar sy was eintlik besig om ’n paniekaanval te beleef. In ’n sukkelende gesprek met behulp van my gemeenskapsgesondheids-werker as tolk, het die vrou verduidelik dat sy nog geen babaklere gehad nie – niks nie. Sy het ook nie geweet waar môre se kos vandaan gaan kom nie.

Vind jou lewensdoel
Ons lewe in tye van uiterstes. Ek is dankbaar dat ek wel ook kan getuig van God se radikale voorsiening deur die hande van mense met harte wat vir ander omgee. Ek is diep bewus daarvan dat ons antwoorde nodig het wat meer behels as net hulpverleningswerk. Ek glo dat God ons huidige bekommernisse in antwoorde wil omskep wat môre nog sal vrug dra. Of jy nou ’n sakeman, iemand met groen vingers of ’n mamma is wat skielik ’n onderwyser geword het vir jou kinders by die huis – dit is ’n tyd om betekenis en jou lewensdoel te vind. As jy nader aan jou kern beweeg, sal God die res doen en nog meer.

Volg my op Instagram by @ellenoremeyer om meer van ons werk te sien. Besoek www.pretoriaeastisf.shopstar.co.za as jy graag wil bydra tot dit wat ons doen.

ELLENORE MEYER is ’n mediese dokter met ’n doktorsgraad in mediese etiek. Sy is deel van ’n
interdissiplinêre span wat in plakkerskampe as gemeenskapsontwikkelaar vir holistiese
gesondheid, basiese behoeftes met selfontwikkeling integreer. e-pos: by ellenoremeyer@hotmail.com

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

9 Julie 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)