—deur Elza Meyer

“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” – Ester 4:14

Die afgelope twintig jaar het God se kinders in Suid-Afrika ’n tyd van buitengewone geestelike toerusting beleef. Dink aan die Ester-, Daniël- en Mighty Men-konferensies. Voorbiddingspanne het die land deurkruis en by belangrike plekke sondebelydenis gaan doen, oor kerkgrense heen hande gevat en God saam aangeroep. Gelowiges het vir die Here opgestaan en hul geloof openlik begin bely. Suid-Afrikaners het met hart, verstand en hand na God toe gedraai. En toe begin die uittog. Duisende Suid-Afrikaners woon tans in die buiteland en hul God, hul geloof, hul voorbidding en hul belydenis het saam met hulle gegaan om nóg klein dorpies en groot stede met die wonder van die Evangelie te verander.

Kwarantyn in Riyadh
Ek en my man is weens sy werks- verpligtinge in ’n soortgelyke situasie. Hier in Riyadh het die gebeure rakende COVID-19, oftewel die koronavirus, ons kom en gaan ook beperk. Omdat een van die inwoners in ons compound die virus onder lede het, is almal wat hier woon, versoek om vir die volgende twee weke tuis te bly. Landswyd is alle winkelsentrums gesluit – slegs kruidenierswinkels en apteke is nog oop. Die skole en universiteite is ’n paar weke gelede reeds gesluit. Omdat ons nie meer gaste mag ontvang nie, sal ons geloofgemeenskap nou ook via die internet aanbid. Ons beplande kuier saam met ons kinders moes afgestel word omdat alle internasionale vlugte gekanselleer is. Suid-Afrikaners wêreldwyd het dieselfde belewenis. Ons weet, al het alles verander, het niks verander nie! God is nog steeds die Koning van die heelal en Hy is steeds in beheer.

Verteenwoordigers van die Koning
“Wie weet of dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het?” Toe Mordegai Ester met dié woorde vermaan het, was die Joodse volk in ’n baie moeilike posisie (Ester 4:14). Daar was geen uitkoms nie – tensy God toetree. Al is hierdie virus nie so dodelik nie, is dit hoogs aansteeklik. En al word jou omgewing, familie of gesin nie deur die virus getref nie, is die uitwerking van die teenwoordigheid daarvan tog oraloor ’n werklikheid. Ons is weer eens in ’n posisie waar daar nie uitkoms is nie, tensy God toetree. En dit is die wonder van hierdie gebeure.

God kroon ons met die waarheid van Sy Woord
Terwyl die koronavirus mense wêreldwyd aansteek, is dit maklik om toe te gee aan vrees. Dis so maklik om sulke onsigbare gevare mag te gee oor jou emosies. Korona beteken “kroon”. Dis dan ook wat die “kroonvirus” (so genoem weens sy vorm) probeer doen, om mense se denke met gedagtes te probeer kroon wat nie getuig van wie ons in God is nie. Ons moet opnuut vashou aan die waarheid van God se Woord. Sy Woord is waar en sal altyd tot stand bring wat Hy beloof het. Dit keer nooit leeg na Hom toe terug nie, maar bereik altyd die doel waarvoor dit gestuur is (Jes 55:11). Daarom kan ons met vreugde vashou aan Jesaja 62:3 (NLV), wat ons vertel van die krone wat God aan Sy kinders gee: “Die Here sal jou soos ’n kroon in Sy Hand hou, ’n koning se kroon in die hand van jou God.”

Veilig en beskut in God se hand
Vir beide “kroon” en “hand” gebruik Jesaja twee verskillende Hebreeuse woorde. In die eerste gedeelte van vers drie, word God se toegevoude hand beskryf. Terwyl die Here Sy magtige hand om jou vou, omvorm Hy jou in ’n oorwinnaar. Ja, die woordjie wat hier vir kroon gebruik word, is die kroon wat op die oorwinnaar se kop geplaas is. Dit herinner ’n mens aan ’n lourierkrans. Veilig en beskut in God se magtige hand, word die oorwinning wat aan God behoort, ook jou oorwinning.

Die kroon van ’n koning
En sodra jy begryp dat jy nie alleen is nie; dat God jou meer as ‘n oorwinnaar maak en dat jy in en deur Sy genade in alle omstandighede in oorwinning kan leef, vou God Sy magtige hand oop, want die tweede woord vir “hand” in die vers beteken presies dít. Noudat jy deur jou vertroue in Hom in jou diepste wese ’n oorwinnaar geword het, kroon jou God jou met ’n koningskroon. Die Hebreeuse woord wat hier vir kroon gebruik word, dui op
’n tipe tulband vir koninklikes. Dit het nie slegs hul koninklike status aangedui nie, maar ook vir hulle beskerming gebied – aangesien dit daarop gedui het dat hulle die beskerming van die troon geniet.

Verkondig nou Sy heerskappy
Jy word gekroon met die oorwinning wat aan God behoort. Nou kan jy uitstap op God se oopgestrekte hand en Sy Koningsheerskappy in ’n wêreld aankondig wat desperaat is vir Sy aanraking! Jou God genees! Jou God bring vrede! Jou God regeer! En elkeen wat Sy Naam aanroep, sal gered word! Selfs dié wat deur die koronavirus getref is, is veilig by God. Hy verseker ons van die ewige lewe! Wie weet of dit nie juis met die oog op ’n tyd soos hierdie is, dat God jou as Koninklike verteenwoordiger uitstuur nie?

DR. ELZA MEYER is stigter van Turn2God-bedieninge wat landwyd en internasionaal geloofsgemeenskappe oproep en toerus om hulle na God te wend. Kontak haar by elza@turn2god.co.za


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)