Die Here is genoeg. Regtig, Hy is! Maar dit was nie altyd die geval in my eie lewe nie. Ek het gedink Christus is genoeg, maar toe kom ek op ’n dag agter dat ek het Hom eintlik meer “nodig” het vir al daardie dinge wat Hy vir my moet doen as wat ek regtig net vir Hom wil hê. Hy moes gedurig in al my behoeftes en begeertes voorsien. En hier praat ek boonop van goeie begeertes soos om gesond te wees, reg te lewe en nog bruikbaarder vir God
te wees.

Ek was bloot ’n godsdienstige verbruiker
Op sigself is al hierdie behoeftes goed en reg. Die probleem was net dat ek nie Jesus Christus nodig gehad het net vir wie Hy is of slegs na God se heilige teenwoordigheid verlang het nie. Diep binne in my wou ek gedurig hê Hy moes in al my aardse behoeftes voorsien. Die uiteinde was dat ek behoefte-aangedrewe geraak het wat my geloof betref. Ek het in ’n godsdienstige verbruiker van God se hemelse goedheid verander.

Ons fokus moet van onsself na Hom verskuif
Ek het agtergekom: Terwyl die Here vir my gegee het waarvoor ek bid, was ek gelukkig en dankbaar. Maar as dit gelyk het of my gebede onverhoord by Sy hemelse troon verbygaan, was ek langgesig. Toe leer die Here my die les van ’n leeftyd. As Hy op Sy eie nie vir my genoeg is nie, sal ek nooit geestelik groei nie. Anders gestel: Geestelike groei behels om my fokus te verskuif van alles wat God vir my moet doen tot op Hom wat altyd en orals GENOEG is. Groei is om saam met Paulus in Filippense 1 dit uit te jubel: Vir my is om te lewe Christus (Fil 1:21). Hy is my lewe, my hoop, my blydskap, my alles. Net Hy!

Behoefte-aangedrewe, almal van ons
Kom ons wees eerlik: Ons almal lewe eintlik maar behoefte-aangedrewe. Ons is “wants and needs driven” soos die Engelse sou sê. Ons is bodemlose putte propvol behoeftes. Ons is voltydse tekortkommers. Alles wat ons sien, dít wil ons hê. Ons kort ’n bietjie van dit en nog ’n stukkie van dat. Daardie nuwe selfoon; hierdie televisieskerm; ’n vinniger rekenaar; beter toerusting; nog goeters vir ons huis.

Gebede wat maar net verskuilde opdragte word
Dit gaan ook nie veel anders op die geloofsfront nie. As jy my nie glo nie, luister gerus maar net na die meeste mense se gebede. ’n Volle 80% – indien nie 90% van alle gebede nie – is versoeke, vrae en verskuilde opdragte aan die Here. “Doen asseblief dit en dat.” “Verander persoon X.” “Sorteer geval Y uit.” “Wees met gesin B.”
“Gee vir my dit of dat.”

Toets gou jou eie gebede – hoeveel daarvan is net met een woord “dankie” deurdrenk? Hoeveel van jou gebede wil eintlik niks van God hê of vra nie, as en behalwe die voorreg om slegs in Sy heilige teenwoordigheid te mag wees?

Ons moet leer Hy is genoeg
Ons almal moet hier in 2021 ’n drastiese koersaanpassing in ons verhouding met die Here maak. Ons moet leer Hy alleen is genoeg. Sy heiligheid, grootheid, liefde, genade, ontferming, nabyheid, skoonheid, heerlikheid en glans is oorgenoeg.

Laat dankbaarheid jou hart oorweldig
Sy teenwoordigheid moet eintlik so oorweldigend wees dat ons net in verwondering by Hom wil sit. Lof en dank moet ons grootste woorde ooit wees aan Sy voete. Ons moet van opgewondenheid uitasem wees om nóú reeds in die voorhowe van die Heerser van die heelal te mag wees. Sy lof moet ons suurstof wees. ’n Diep dankbaarheid dat Hy ons in Jesus se Naam raakgesien en uit ons sondes opgetel het, moet ons gebedstaal van begin tot einde omraam.
Dan bid ons reg. Dan raak ons geloofsbeker vol met die regte inhoud. Dan word ons oorweldig deur ons Hemelse Vader se onuitspreeklike rykdom en genade. Dan is ons nie langer voltydse tekortkommers of behoefte-aangedrewe gelowiges nie. Christus is dan ons ganse lewe. Geen plusse meer nie, net Hy en Hy alleen!

PROF. STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk en hoogleraar in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, die Noordwes-Universiteit en die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland. Vir meer inligting: ekerk.org of info@ekerk.org


25 April

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)