Deur: Trish Goosen

‘n Gevoel van onheil het by my gespook. Ek glo dit was ’n voorgevoel, ’n waarskuwing dat ’n verskriklike tragedie vir my voorlê. Dié gevoel en ’n vreemdeling wat my by ’n winkelsentrum voorgekeer het om my te waarsku dat God nie wil hê ek moet in Gauteng gaan kuier nie, het my gewis groot ellende gespaar – selfs dalk my lewe gered.

God het my uit ’n donker plek gehaal, my lewe verander en oorvloedige seëninge soos reën op my laat uitsak. Maar laat ek voor begin.

Vasgevang in ’n emosionele doolhof
Aan die begin van 2007 het my verhouding van sewe en ’n half jaar met my skoolkys tot ’n einde gekom. Vir my was dit ’n enorme verlies wat my wêreldjie in duie laat stort het. Ek het my werk in George bedank en is sak en pak na my ouers op die Weskus terug. Ek was 25 jaar oud. My hart was só seer dat ek die fout gemaak het om sommer dadelik weer ’n verhouding met iemand aan te knoop. En hierdie verkeerde besluit het my verder gebreek, want my nuwe kêrel was meer stukkend as ek. Ek is aan alkoholisme, narsisme, manipulering, leuens en ontrouheid blootgestel. Boonop het hy ’n plofbare humeur gehad en ’n onheilspellende donker kant. Ek was naderhand emosioneel só uitgeput dat ek nie meer die krag gehad het om hierdie ongesonde romantiese verhouding waarin ek vasgevang was, te beëindig nie. Ek was verlore in ’n emosionele doolhof.

’n Gebed word verhoor
Dit het my soggens sowat 20 minute geneem om na my werk in Langebaan te pendel. Ek het die alleentyd in my motor gebruik om met die Here te praat. “Here, ek weet ek moet hom los. Ek is nie ongehoorsaam nie, ek is net baie moeg en moedeloos. Gee my asseblief krag om die verhouding te verbreek en skep vir my die gunstige omstandighede om te kan doen wat ek moet, sonder dat dit verdere trauma vir my veroorsaak.” Ek het dit byna elke oggend gebid.

Die Here het my gebed verhoor. Die man het ’n werk in Pretoria gekry en soontoe verhuis. Hy sou vir ons ’n woonstel gereed kry en dan sou ons trou – sý plan, nie myne nie. Ek het geweet ek sal nooit by hom gaan bly nie.

Die voorgevoel
Kort voor lank het ek begin verlang. Vandag besef ek dat ek nie werklik na hom verlang het nie, maar na iemand wat my weer kan heelmaak. Daardie iemand is natuurlik nét God, maar ek was nog nie geestelik volwasse genoeg om dit te besef nie. Ons het afgespreek dat ek vir ’n naweek by hom in Pretoria sal gaan kuier en hy het vir my ’n vliegkaartjie gekoop. Ek het myself belowe dat ek die verhouding daarná sal beëindig. ’n Nare voorgevoel het byna dadelik by my posgevat.

Terugskouend was daardie voorgevoel ’n dringende wekroep wat ek geïgnoreer het. Die datum van die kuiernaweek het al hoe nader gekom en toe God sien ek verstaan steeds nie Sy waarskuwing nie, het Hy iemand gestuur om die boodskap direk aan my te bring.

’n Ontmoeting deur God bestem
Daardie oggend het ek weer werk toe gery, maar wou gou by die winkelsentrum ’n lipsalf gaan koop. Terwyl ek parkeer, het ’n bakkie in die parkeerplek reg oorkant my stilgehou. Die bestuurder van die bakkie, ’n ouer man, het my stip deur sy voorruit dopgehou. Ek het my vervies en vinnig uit my motor geklim om van sy deurborende oë weg te kom. Ek het my lipsalf gekoop en nog ’n draai in die sentrum geloop, want ek wou seker maak die man in die bakkie is weg voordat ek na my motor terugstap. Toe ek buite kom, sien ek dat hy steeds in sy voertuig sit. Ek was baie ongemaklik toe ek in my motor klim, want ek kon sy oë weer op my voel. Ek het my motor aangeskakel; die bakkie voor my se enjin het ook begin brul. Toe ek opkyk, sien ek die man het langs my in die oop parkeerplek regs van my motor gestop sodat sy ruit langs myne is. Hy het met ’n hand-gebaar gewys ek moet my ruit afdraai, wat ek gedoen het. Toe spreek hy die woorde wat my lewe verander het.

Waarskuwing van die Here af
“Meisie, ek weet nie wie jy is nie, maar ek wil net vir jou sê, die persoon saam met wie jy nou is, is nie die een vir jou nie. Ek weet jy het seer, maar moenie dit doen nie. Jy gaan nog seerder kry. Die man het ’n ander agenda. Die Here beplan vir jou ’n baie gelukkiger lewe.” Ek was stomgeslaan. Hoe weet hierdie man wat in my lewe aangaan?

“Ek kan sien jy is geskok. Beteken dit vir jou iets?” het hy gevra. Ek het geknik, terwyl my brein teen die spoed van lig gewerk het om van alles sin te maak.
“Weet jy wie ék is?” wou ek weet.

“Nee, die Here het net vir my gesê ek moet die boodskap aan jou oordra.”

Nutsman met ’n boodskap van God
Hy het sy besigheidskaartjie vir my gegee en gesê ek moet hom bel wanneer ek oor alles nagedink het, want hy wil vir my bid. Toe hy wegry, het ek verslae na die stukkie karton in my hand gekyk. Op die kaartjie was ’n prentjie van ’n werker met ’n hamer in die hand. Die boodskapper was ’n nutsman. Ek het kantoor toe gery en agter my lessenaar gaan sit en huil. Daar was geen twyfel nie. Die boodskap het werklik van God af gekom.

Genadegawes waarmee jy die Here kan dien
’n Maand later, nadat ek my verhouding beëindig en die Gauteng-kuiertjie van die hand gewys het, het ek uiteindelik die moed bymekaargeskraap om die nutsman te bel. Hy het verduidelik dat hy soms sulke boodskappe van die Here af kry. Ek wou weet hoe baie Bybelstudie ek moet doen en wat ek moet bid, om so naby soos hý aan die Here te kom. Hy het geglimlag.

“Nee, dit is ’n genadegawe, iets wat jy uit genade ontvang en waarmee jy die Here kan dien,” het hy verduidelik. Hy het vir my gebid voor ons afgelui het.

Bevestiging van voorgevoel
Kort daarna het ek vir die eerste keer met my ma oor die voorgevoel gepraat wat ek gehad het.

“Ek het dieselfde gevoel gehad,” het sy verbaas erken. “Ek het nie vir Pappa vertel hoe ek voel nie, maar hy het na my toe gekom en gesê hy wil nie hê jy moet in Gauteng gaan kuier nie, want hy is bang sy kind kom in ’n doodskis terug.”

Ek weet nie wat sou gebeur het as ek wel in Pretoria gaan kuier het nie, maar ek sidder om daaraan te dink. Ek glo dit was ’n noue ontkoming en ek weet nie of ek vandag nog hier sou gewees het, as Jesus nie ingegryp het en my gewaarsku het nie.

God se belofte
Ek het toe aan God se belofte vasgehou en vorentoe gekyk. Hy het dan belowe dat Hy vir my ’n baie gelukkiger lewe beplan. Teen die einde van 2008 het ek die liefde van my lewe ontmoet, ’n gelowige man met rotsvaste waardes, oorspronklik van Namakwaland.

Ek het in Januarie 2009 in my ma se kombuis gestaan en die Gees het met my gepraat, want ek het steeds nie besef die Namakwalander is die een wat God aan my gestuur het nie. My oë het oopgegaan en ek het geweet God is besig om te doen wat Hy belowe het. Ek het meteens verstaan dat hierdie besondere man altyd by my sal wees en my nie sal seermaak nie.

God se groot seën
Op 2 Oktober vanjaar is ek en die Namakwalander tien jaar getroud. Ons stry soms, net soos enige ander paartjie, maar daar is groot respek en oorvloedige liefde vir mekaar. Ons het twee pragtige seuntjies en ons is werklikwaar gelukkig. Ek weet God se belofte beteken nie dat dinge nooit sal skeefloop nie, maar eerder dat Hy ons as gesin altyd in Sy almagtige hand sal hou. Hy laat die moeilike tye, die lewe se uitdagings en ons persoonlike struwelinge ten goede saamwerk, sodat ons deurlopend van ons afhanklikheid aan Hom bewus moet wees en geestelik in Hom kan groei.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


7 November 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)