Deur: Ymile Kennedy

Die datum is 26 Maart 2020 – die nasionale staat van inperking in ons land as gevolg die koronapandemie sou die volgende dag begin. Soos met enige aanslae in ons gesin se lewe, weet ons waar ons hulp vandaan kom – van ons Here ons God. Daardie aand bid my man, Arwie, en ek ernstig tot God en vra dat Hy ons, ons gesin en vriende genadig sal wees en dat Hy ons gesin totale vrede sal gee ongeag die chaotiese toestand in die wêreld. Ons is deeglik bewus van die erns van die virus, aangesien een van my man se beste vriende, Louis Wilsenach, die derde sterfgeval in Suid-Afrika was.

Geanker in God se Woord en gehoorsaam aan Sy Gees
Die Heilige Gees gee daardie aand vir my man ’n rhema-woord (uit Psalm 118:17 (AOV): “[Ons] sal nie sterf nie, maar lewe en die werke van die Here vertel!” (’n Rhema-woord is die Woord van God aan ’n individu soos geopenbaar deur die Gees van die Here.) Ons beleef voortdurend deur 2020 ’n ongewone vrede in die wete dat God totaal in beheer is. Ons gebruik elke aand Nagmaal (tot vandag nog) en Psalm 91 word ’n anker en ’n rots gedurende hierdie tyd – soos sekerlik vir baie ander gelowiges ook.

Ook vermaan ek ons drie dogters, Donna, Shari en Kim, om in geloof en as profetiese teken dat hulle hul gesinne aan God opdra, wyn aan hulle deurkosyne en op die drumpels van hul deure te sprinkel. Hierdie eerste 21 dae van inperking val juis presies in die tyd van die Joodse Pasga – en die doodsengel het die huise verbygegaan wat die bloed van die lam aan hulle deure gehad het. Ek beoefen my geloof baie kinderlik en as daar enige aanduiding is dat die Heilige Gees iets aan my openbaar, doen ek dit – ek het al geleer dit baat om Hom te gehoorsaam! Ek dink ons skoonseuns wonder soms maar …

Die pandemie skep geleenthede vir die Evangelie
Op ons pekanneut-en-druiweplaas in Upington kry my man, ek en ons skoonseun, Wim, ’n paar geleenthede om dienste in die kerkie te hou wat ons op die plaas gebou het. Per geleentheid beleef ons dat die helfte van die gemeente hulle harte opreg vir Jesus gee toe ’n uitnodiging gerig word. Ek besef dat hierdie pandemie die grootste geleentheid in my hele lewe is, want mense is so gereed om Jesus aan te neem. Ek bel mense waarvoor ek jare lank al bid en vertel hulle weer eens hoe lief Jesus hulle het en nooi hulle om ’n besluit te maak om Hom as hulle persoonlike Saligmaker aan te neem. Party neem Hom aan, ander nie. Ek skakel by talle voorbiddingsgroepe in en neem deel aan die talle gebedsinisiatiewe.

Die dinge van die Here vs. die Here van die dinge
Toe wys die Here my een aand dat ek besig is “met die dinge van die Here, in plaas van die Here van die dinge”! Net daar besef ek dat ek op een voorbiddingsgroep moet fokus. Shalom Ministries van Angus Buchan is die een wat die Heilige Gees aan my uitwys. Elkeen van die groepe is so nodig, maar dit is hier waar Hy my nou wou hê! Ek word omring met ’n groep ware gebedstryders en voorbidders sonder dat ek op daardie oomblik die waarde van hulle in ons lewens besef.

God het ons voorberei
Wat ons nie in daardie stadium weet nie, is dat God ons voorberei vir die aanslag op ons lewens deur die bose COVID-19. Ons oudste dogter, Donna, stel ons aan Heidi du Preez voor. Sy is ’n mediese wetenskaplike wat ons op ’n wonderlike eetprogram plaas met uiters belangrike aanvullings. Kwale wat ek voorheen gehad het, verdwyn ná ’n maand en ons liggame word op ’n fenomenale manier gebou. Toe die aanval van COVID-19 ons op 10 Desember 2020 tref – nege maande na die aanvanklike inperking – was ons gestelle opgebou en die rhema-woord van God reeds in ons gees gewortel!

Isolasie oor Kersfees
Daardie dag is my man (in sy tagtigs), ek en Wim op pad van die plaas in Upington na Stellenbosch. Ons lywe is seer, elkeen het ’n droë hoes asook koors. Ons permanente woning in Onrus is vir die vakansie vir twee weke verhuur, terwyl ons hele gesin Kerstyd dan by ons ander kinders, Japie en Shari, in Plettenbergbaai sou gaan bly.

Op dag twee besef ons dat COVID-19 ons ook getref het – die toetse bevestig dit. Al drie ons dogters en hulle gesinne vertrek vir hulle welverdiende vakansie na die Tuinroete, terwyl ons in afsondering in Wim-hulle se huis agterbly.

Gebede oordek ons
Die totale uitputting is iets wat ek my grootste vyand nie sal toewens nie – geen aptyt, droë tong, hoë koors, kop- en lyfseer het ons geteister. Jy besef jy moet water drink en gesond eet, maar het geen krag om op te staan en iets voor te berei nie.

Tog beleef ek en Arwie deur dit alles heen geen vrees nie, want God het gepraat en Sy Woord is die waarheid. Ons slaap letterlik dae om, Bethel-musiek sus ons aan die slaap en preke van Bill Johnson herinner ons konstant dat God in beheer is van ons lewens. In die oggend is dit Angus Buchan met sy oorwinnende oggendoordenkings wat ons wakker maak. Psalm 91 speel soos ’n melodie deur ons gedagtes. God se Woord – “Julle sal nie sterf nie en getuig van Sy wonderdade” – versterk ons geloof. Ons gesin, die Shalom-voorbiddingsgroep asook ’n paar nabye vriende se gebede oordek ons. Op Oukersaand stuur Annelie, my vriendin, Kersliedere wat sy vir ons vanuit hulle vakansiehuis in Stilbaai sing. Die trane loop – Hy het gekom vir ons oortredinge, die Heiland is gebore!

Elkeen het sy taak om te vervul
Toe my eerste kragte terugkom, is my grootste begeerte om in Maartmaand deel te neem aan Angus se revival-trein! My dierbare man gee my toestemming. Hy sal weer op pad wees om in Upington te gaan oes en nog ’n blok wingerde aan te plant, want Luther het gesê: “Al weet jy die wederkoms is môre, plant nog ’n appelboom!”

Wat is die rhema-woord vir jou?
Die Woord van God is die waarheid – Psalm 118:17 – ons getuig van Sy grootheid! Wat is die Woord wat Hy vir jou gegee het vir dié onsekere tye? Amen!

Foto: Ymile en Arwie by hulle kinders en kleinkinders.
VAN LINKS NA REGS AGTER: Kim, Wim en Donna en Shari.
VAN LINKS NA REGS VOOR: Andrea, Arwie, Ymile en Lilah.
SITTEND: Lucca en Josie (Twee ander kleinkinders, Japie en Jace, is afwesig)

YMILE KENNEDY is ’n ambassadeur vir JUIG! en voer gereeld onderhoude vir die tydskrif.


9 April 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)