Fanie van der Merwe is een van Suid-Afrika se top Paralimpiese atlete. Hy het goud in die 100 m en 200 m by die 2008 Olimpiese Spele in Beijing verwerf. By die 2012 Olimpiese Spele in Londen verdedig hy sy 100 m-titel suksesvol en het ook ’n rits medaljes wat hy by die wêreldkampioen-skapsbyeenkoms, Afrikaspele en die Statebondspele verower het. Wat egter uittroon, is sy skitterende geloof in God.

Vertel ons van jou gestremdheid. Hoe het dit jou lewe as tiener beïnvloed?
Ek is met serebraalgestremdheid aan die regterkant van my liggaam gebore. Dit het my liggaamlike ontwikkeling, beweging en koördinasie belemmer. Ek was selfbewus en het gevoel dat die gestremdheid my terughou in sport, maar min het ek geweet wat die Here vir my beplan. Juis dít wat ek gedink ’n vloek in my lewe is, het die Here vir die grootste seëninge in my lewe bestem.

Hoe het jy by atletiek betrokke geraak?
Ek het nog altyd van sport gehou en in graad 11 selfs die skoolspan gehaal waarna my afrigter my aangemoedig het om aan sport vir mense met gestremdhede deel te neem. In my matriekjaar het ek my eerste Suid-Afrikaanse Atletiekbyeenkoms in Durban bygewoon, waar ek die kortlys vir Athene se Paralimpiese Spele gehaal het, maar nie die span nie. Dáár het my droom vir die Beijing Paralimpiese Spele begin. Ná skool het my pa my afgerig en ek het in 2005 Suid-Afrika as lid van CPISRA (Cerebral Palsy International Sports and Recreation Association) in Amerika verteenwoordig. Suzanne Ferreira het in 2006 my afrigter geword toe ek sportwetenskap aan Stellenbosch Universiteit begin studeer het. Dit is daar waar ek geleer het wat dit is om ‘n atleet te wees: al is ’n mens heeldag met sport besig, vind jy nie jou identiteit in wat jy doen nie, maar in wie jy is, in Christus. My pa het my ook geleer, dit maak nie saak hoe jy in jou sport presteer nie, daar is altyd iemand wat beter as jy gaan wees; wat van belang is, is wie jy is, watter tipe mens jy is.
Jy het jou Beijing-droom verwesenlik met twee goue medaljes en toe kom Londen (met groot verwag-tinge van jou) en ’n skokkende begin…
Ja, as wêreldrekordhouer was ek die gunsteling vir die 200 m. Ek het met selfvertroue en verwagting na die wedren uitgesien en toe eindig ek sesde in die finaal! Ek het die Suid-Afrikaners op die atletepawiljoen se gesigte gesien, hulle was meer geskok as ek! My leuse vir die jaar was om vir Jesus te hardloop en te lewe. Toe die resies nie verloop soos ek beplan het nie, was dit baie moeilik, maar ek wou Hom verheerlik of ek nou wen of verloor, want die lewe gaan oor Hom, die glorie is Syne, nie ons s’n nie. Daardie aand kon ek nie slaap nie. My gedagtes was so negatief en vol selfverwyt. Ek het langs my bed gekniel en erken dat ek Sy hulp nodig het. Ek het gevoel asof ek niks het nie, maar ek het Jesus gehad en dit is genoeg. Die vyand wou van my steel, maar God het Sy liefde vir my bevestig; nie vir my prestasies en medaljes nie, maar omdat ek Sy seun is.

Die 100m wedren het nog voorgelê. Vertel ons van daardie goue duikslag!
Daardie week was nie maklik nie! Op die dag van die wedren het ek tydens die opwar-ming goed gevoel, maar ek was baie senuweeagtig. Toe ek by die wagkamer instap en al die ouens sien wat my in die 200m geklop het, en dat ek boonop in ’n baie vinnige uitdun is, het vrees dat ek nie eens die finaal sal maak nie, my oorval. Ek het egter gedink: As hierdie wedren werklik oor die Here is en om Hom te vereer, kan ek vir Jesus hardloop en nie omgee oor die uitslag nie. Ek het dadelik ontspan en die uitdun in ’n rekordtyd van 11,52 sekondes gehardloop. In die finaal het ek goed weggespring, maar die Chinees, Yongbin, was van die begin af voor. Ná die 90m merk het ek gesien dit is net ek en Yongbin en dit het my hoop gegee. Toe ons die wenpaal nader, het ek geweet as ons albei net ‘dip’ gaan hy wen. Die gedagte het deur my kop geflits om vir die lyn te duik, en ek het! Ek het nie geweet of ek dit gemaak het of nie, maar toe ek my naam in die eerste plek op die skerm sien, het ek die Here net gedank! Ek sal hierdie ervaring vir niks verruil nie – ek het oorwinning en nederlaag gesmaak. Ek weet hoe dit voel om in die sesde plek af te stap en ek weet hoe dit voel om eerste oor die wenstreep te duik! Dit het my ’n nuwe perspektief gegee. Ons is só afhanklik van Jesus, enigiets kan onverwags gebeur, menslike kragte is niks sonder Jesus nie en as jou daaglikse lewe en hóé jy jou lewe leef nie ewigheidswaarde het nie, is dit waardeloos!

Wat beteken die medaljes dus vir jou?
Soos Arnu Fourie uit ‘Cool Runnings’ aangehaal het: “’n Goue medalje is ’n wonderlike ding, maar as jy nie goed genoeg is daar-sonder nie, sal jy nooit genoeg wees selfs daarmee nie.” Ja, die medalje is fantasties, maar Jesus is genoeg en net in Jesus vind jy werklik lewe…die wêreld sal nooit genoeg wees nie, dit kán nie genoeg wees nie en dit behoort nie genoeg te wees nie. Ons is niks sonder Jesus nie en die enigste ding waarin ons kan roem, is in die Kruis van Christus! Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, Matteus 5:3.

Jy en jou broer het Inspired2Become gestig. Vertel ons hiervan…
Ek en Chris fokus op alternatiewe sport en atlete met gestremdhede. Ek fokus op atletiek vir mense met gestremdhede en werk saam met skole en die Matiesklub. My broer fokus op ekstreemsporte soos skaatsplankry en ‘skimboarding’ en vestig klubs oral in die Kaap. Ons het ‘n hart om jongmense te ontwikkel en geestelik te sien groei. Ons wil verseker dat jong mense hul volle potensiaal bereik.

Wat is jou boodskap aan die jongmense van Suid-Afrika?
Jy is uniek, jy hoef nie in te pas by wat mense sê nie, luister eerder wat God oor jou sê. Elkeen het ten minste een gawe van God ontvang. Span jou in om daardie gawe te ontwikkel; moenie bekommerd wees as dít wat jy ontvang het, nie soos ander se gawes lyk nie. Vertrou eerder die Here dat Hy dit vir Sy glorie sal gebruik, want dit is al waaroor dit gaan.


Fanie en Chris van der Merwe kan gekontak word by chris@inspired2become.org of 072 992 7408 vir meer inligting besoek: www.inspired2become.org

Vir meer inligting oor sport vir gestremdes besoek Suid-Afrikaanse Sport Assosiasie vir
Persone met Gestremd-hede (SASAPD) se webblad: www.sasapd.org.za

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)