-deur Stephan Joubert

Op 16 Januarie 2015 berig De Tele-graaf, een van die groot Nederlandse dagblaaie, dat ateïste in daardie land vir die eerste keer, wat getalle betref, gelowiges oortref het. Net 17% van die Nederlandse bevolking glo in die bestaan van God, terwyl 25% hulleself nou as ateïste beskou. Dit het my nie verbaas nie.
Ek is die afgelope vyf jaar by ’n Hollandse universiteit betrokke en bestee elke jaar ’n maand daar. Onlangs, terwyl ek juis in Nijmegen klasgegee het, lees ek ook in die pers dat daar tans 100 kerkgeboue per jaar verkoop word.

Reaksie vanuit die Christen-kamp
Ek het ook gaan kyk watter oplossings godsdienstiges vir bogenoemde probleme in koerante se briefkolomme en op die internet aanbied. Ek het só gehoop hulle sou sê ons moet selfondersoek doen en vra wat ons verkeerd doen dat niegelowiges so ’n gly in Christenskap gekry het; of dat ons ’n slag die straat moet oorsteek en nie-Christene bevriend om hulle harte te hoor.
Ek loop toe egter omtrent net regsien-reaksies raak: “Daardie ateïste sal nog eendag voor God rekenskap doen! ” en “God sal hulle nog terugkry!”

Is ons slagoffers onder aanslag
Dit wil voorkom daar is ’n gevaarlike tendens onder gelowiges aan die posvat wat ek die ‘bedreigde spesie’-sindroom wil noem. Dit is die idee dat godsdienstiges gedurig ‘onder aanslag’ of ‘under seige’ is.
Alles, almal en enigiets is nou ’n bedreiging: Islam, ISIS, misdaad, televisie, die president, onderwys, seksualiteit, tegnologie, sport, kuns, wetenskap, Julius, selfs kerkmense wat anders dink…Daarom skuil bedreigdes in benoude bomskuilings terwyl hulle die nuutste skokstories oor die bose oormag daarbuite onder medeslagoffers hersirkuleer.

In die wêreld, maar nie sóós die wêreld nie
Mense in geestelike bomskuilings sien selde, indien ooit, God se werke in die wêreld buite die Kerk raak. Hulle leef in geestelike kwarantyn net om hulle breekbare geloof staande te hou. Hulle verstaan Paulus verkeerd as hy in 2 Korintiërs 6 sê ons moenie in dieselfde juk met die wêreld trek nie.
Hy het nie bedoel ons moet in geestelike lughawens skuil en wag op die volgende vlug Hemel toe nie. Nee, hy het bedoel ons moet ín die wêreld leef, maar nie sóós die wêreld nie.

Hy wat in julle is
Slagoffers van die bedreigde spesie-sin-droom weet veel beter wat verkeerd is met die wêreld as wat reg is op God se terrein. Daarom slaan koue vrees oor hulle uit as hulle net naby nie-Christelike simbole, beelde of mense kom.
So gesê – ’n gelowige in die buiteland vertel eenkeer dat hulle letterlik uit ’n restaurant gevlug het toe hulle ’n Boeddha-beeldjie daarbinne opmerk. “Het Jesus saam met julle gevlug?” vra ek dadelik. Terwyl die persoon my geskok aankyk, sê ek: “Jesus Christus is die Here van die heelal. Hy hou die sleutels van die dood en die doderyk vas, maar ’n dooie beeldjie in ’n restaurant jaag julle die skrik op die lyf? Gaan lees Jeremia 10 en Jesaja 44.
O ja, en glo dat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is,” voeg ek by.

Glo ons regtig in Christus
Voordat jy my verkeerd verstaan: Ek glo 2 Timoteus 6:11 dat ons van boosheid moet wegvlug, met my hele hart. Ons moenie mak raak vir verkeerde dinge nie. Tog, om onsself uitasem te skrik vir dooie standbeelde en sataniste, laat selfs my niegelowige vriende vra of ons regtig in Christus glo.

Bang vir die wêreld
Ons denke oor Jesus is heeltemal te beperk. Ons het bang geword vir die wêreld; daarom oefen ons weinig invloed daarop uit. Ons het nie meer ongelowige vriende nie, want netnou steek ons by hulle aan.
Ons dien nie op gemeenskapsrade nie, want ‘daardie mense’ is korrup. Ons deel nie ons besittings sonder voorbehoud nie, want “ander mense kan nie meer vertrou word nie.” Dapper muise, of wat?

Leef vanuit Sy grootheid en oorwinning
Die oplossing vir ‘bedreigde spesie’-sindroom? Ons moet weer ‘groot’ glo en groot dink oor die drie-enige God. Dan sal ons ook vanuit Sy grootheid en oorwinning leef. God is groter as elke boosheid, elke storm, elke berg. Hy is die Here. Hy hou alle magte in Sy handpalm vas.
In Johannes 17:15 bid Jesus: “Vader, Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die bose bewaar.” As ons bereid is om self elke dag die antwoord op hierdie gebed te wees, sal ons soos ligte in ’n donker wêreld skyn. Dan sal ander mense ons goeie werke sien en ons Hemelse Vader verheerlik. O ja, en dan sal krimpende geloofsgemeenskappe in trurat gedwing word. Nou toe, gaan skyn vir Jesus; die son trek water!


PROF. STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk, ’n professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Noordwes en Radboud Universiteit te Nijmegen. Vir meer inligting: www.ekerk.org, of info@ekerk.org

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)