Deur: Ellenore Meyer

Ons was Desembermaand op pad met vakansie en het by die Gariepdam oornag. Ons driejarige dogtertjie het daardie aand geval en haar mond teen die bad se rand gekap. Daar was net bloed en ’n histeriese kind – al twee haar voortande was weg en haar tandvleis was erg opgeswel. My man het verwoed na die tande gesoek voor die laaste water in die drein af spoel. Ons seuns het onmiddellik ’n klomp vrae gehad: “Wie se skuld is dit? Hoe kan die Here dit met ons kleinsussie laat gebeur?”

Ons bid vir ’n wonderwerk
Daardie aand het ons gesin saam gebid. My kinders se vertwyfeling het in hulle gebede deurgeskemer. Tussen my eie trane deur herinner ek hulle dat God steeds wonderwerke doen; dat Hy selfs in ons trauma iets mooi kan laat gebeur. Ons het vir ’n wonderwerk gebid – dat sy weer voortande sal kry (en nie eers later, wanneer sy haar volwasse tande kry nie).

Ek was veral bekommerd oor haar spraakontwikkeling sonder haar voortandjies, want sy is doof en al het sy in Mei verlede jaar ’n kogleêre inplanting gehad, het sy reeds ’n agterstand gehad om in te haal.

Verrassende uitslag
Ek het die volgende oggend op pad na ons bestemming ’n vriendin geskakel sodat sy solank reëlings kan tref dat ons met ons aankoms dadelik ’n afspraak by ’n tandarts het. Hy het haar mondjie versigtig ondersoek en voorgestel dat hy ’n X-straal neem. Die uitslag was verrassend: Die voortande is in die tandkas teruggedruk en die moontlikheid het bestaan dat haar tande weer sou kon uitgroei. Die tandarts het verskeie moontlike komplikasies genoem, anti-inflammatoriese medisyne voorgeskryf en ons huis toe gestuur met die woorde “time will tell” – ons sou weldra uitvind.

God is in die fynste besonderhede in ons lewens betrokke
Ek het geweet God het ons gebede reeds geantwoord; haar tande sou weer verskyn. Dit was tog ons gebed en dit was duidelik ’n moontlikheid dat die gebed verhoor is. ’n Paar dae later het eers die een en toe die ander voortand verskyn – sonder enige langtermyn-skade. Noah, ons jongste seun, het ná die gebeurtenis kom sê: “Mamma, as God my sussie se tande weer kan laat uitgroei, dan kan ek ook mos bid vir wat ek wil hê. Ek wil graag vandag van die boot af ’n vis vang. Ek gaan God vra om my te help.” Noah het daardie dag sy vis gevang en geleer dat God oor die kleinste besonderhede van ons lewens omgee.

‘Te laat’, maar steeds betyds
Soms voel dit of God nie ons gebede antwoord nie. Ons twyfel of Hy selfs ag slaan op ons versugtinge. My ma het my herinner aan die liedjie oor die verhaal van Lasarus wat deur Jesus uit die dood opgewek is: Drie dae “te laat”, maar steeds betyds. Die krag van gebed is nie in towerwoorde opgesluit nie – dit lê nie in die sinne wat ons sê nie. Dit is bloot dat ons aanhou vra en God opreg bly soek. Al lyk dit oënskynlik of Hy reeds “drie dae te laat is”.

Bid met volharding
Soms bid ons net een keer en ons ontvang God se voorsiening. Ander kere moet ons dae, maande, selfs jare lank bid voor ons Sy antwoord sien. God verseker ons dat as ons Hom vra, Hy ons sal antwoord. In Lukas 18:3-8 vertel Jesus ’n gelykenis oor die noodsaaklikheid om altyd te bid en nie moed op te gee nie: “In ’n sekere stad was daar ’n regter wat geen eerbied vir God of agting vir ’n mens gehad het nie. En in dieselfde stad het ’n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’ ’n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan ’n mens steur ek my nie, maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog. Toe sê die Here: ‘Hoor wat sê die onregverdige regter. Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?’”

Hy antwoord
Leer jou kinders om te bid. Herinner jou gesin om aan te hou vra. Bly staan in die geloof – nie in die antwoord nie, maar in die Een wat ons antwoord. God hoor en Hy antwoord; al is dit “drie dae te laat”.

ELLENORE MEYER is ’n mediese dokter met ’n doktorsgraad in mediese etiek. Sy is deel van ’n interdissiplinêre span wat in plakkerskampe as gemeenskapsontwikkelaar vir holistiese gesondheid, basiese behoeftes met selfontwikkeling integreer. Sy is ’n skrywer en gasspreker oor geestelikheid en gesondheid. Kontak haar by ellenoremeyer@hotmail.com

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie


6 November 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)