Sy paspoort is vol. Hy mag nie vlieg sonder ten minste een skoon bladsy in sy paspoort nie. Die enigste oplossing is ’n nuwe paspoort. Dit is agtuur in die aand in Amerika. Michael W. Smith kyk verslae hoe sy musiekgroep aan boord die vliegtuig stap, onderweg na Johannesburg – sonder hom.

Alles verloop nie altyd volgens plan nie
104Concerts het vroeër vanjaar weer eens die leisels geneem om ’n suksesvolle lofprysingsaand saam met die wêreldbekende sanger en liedjieskrywer, Michael W. Smith te organiseer. Met so ’n grootskaalse produksie word die organisering altyd tot in die fynste besonderhede beplan, uiteengesit en bevestig. Janelie Kruger, projekbestuurder van 104Concerts, sê sy staan reeds bykans 13 jaar aan die stuur van produksies en vertrou op die Here daarvoor. Sy erken egter dat sy amper in ’n gemaksone verval het deur dit as vanselfsprekend te aanvaar dat alles volgens plan sal verloop.

Om te kanselleer, was nie ’n opsie nie
Met Michael W. Smith in Amerika gestrand, moes daar blitsvinnig alternatiewe planne gemaak word, aangesien ’n kansellasie tot groot geldelike verliese kon lei.

Antwoord op gebed ter elfder ure
Michael het onmiddellik probeer om ’n nuwe paspoort te kry. Ná ’n gesukkel, gewag en heraansoek doen, het hy steeds nie ’n paspoort gehad nie. Hy maak toe ’n oproep na een van sy vriende in die staatsdiens en daardie middag, slegs enkele ure voordat sy tweede vlug moes vertrek, het hy uiteindelik die nuus ontvang dat hy sy nuwe paspoort kan gaan haal.

Vir die een verlore skaap
Op die dag wat hy in Amerika gestrand was, vertel Michael W. Smith hoe hy tydens een van die vele ritte na en van die hotel, om sy paspoort te gaan haal, ’n taxibestuurder, Ruben, ontmoet het. Die bestuurder kon nie glo dat Michael weens ’n vol paspoort verbied is om te vlieg nie. Op pad hotel toe het hulle vlugtig oor mekaar se lewens gesels. Michael het getuig dat sy lewe onherroeplik verander het die dag toe hy ’n radikale ontmoeting met die Here gehad het. Ruben wou meer van dié ontmoeting weet. Michael kon hom van God se liefde vertel en hoe die Here ’n game changer is. Uiteindelik was Michael terug by die hotel en moes hy Ruben groet. Terwyl hy uit die huurmotor klim, flits dit deur sy gedagtes: “That is why I missed my flight.”

God se tydsberekening is volmaak
Dinsdagaand 4 Junie (2019) land Michael in Suid-Afrika – 90-minute voordat sy vertoning in Moreletapark moet begin! Hy is onder polisiebegeleiding van die lughawe af weg en het 30 minute voordat die vertoning moes begin, veilig by die venue aangekom, gereed om te sing. As hulle nou terugkyk, glo Michael en Janelie dat die Here soewerein aan die stuur van omstandighede was. Hy was die Wegbereider vir vanjaar se suksesvolle Michael W. Smith Suid-Afrikaanse Toer.

Interessante feite:
• Dit was die eerste keer dat Michael W. Smith moes optree nadat hy vir 16-ure niks geslaap het nie en direk van die vliegtuig na die venue gehaas is om direk op die verhoog te verskyn en te begin sing.
• Voor elke vertoning (buiten natuurlik Dinsdagaand s’n) drink Michael ’n tipe tee wat deur Melodie Cooper, sy produksiebestuurder, gemaak word.
• Michael se pa het hom altyd “Bubs” genoem.


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)