Deur: Lourieke Haller

Die humor vonkel in Lucille May se groenblou oë terwyl ons voor haar boekbekendstelling gesels. Sy is ontspanne, natuurlik en beskryf haarself juis as volg: “Ek is nie ’n frilletjie-en-valletjie-vrou nie – nie dat ek ’n probleem het met sulke vroue nie, ek bewonder hulle eintlik skelmpies – ek is plat op die aarde. Ja, ek hou van goeie smaak; ek weet wanneer dit afwesig is, maar weet nie altyd hoe om dit te skep nie – daarvoor het ek vriendinne.”

Kinderjare en wettiese Christenskap
Lucille se pa was ’n predikant en sy die vyfde van sy sewe kinders. Haar ouers het ontmoet in een van die tradisionele susterskerke wat in die 40’s weggebreek het toe herlewing uitgebreek het. Party mense het dit die “De Vos-kerk” genoem. Hierdie groep het baie klem gelê op die feit dat jy wedergebore moet word. Lucille se pa het altyd ’n uitnodiging gegee vir mense om vorentoe te kom en hulle lewe aan die Here oor te gee. Die groep was ongelukkig ook vreeslik wetties en sy het hiermee grootgeword – geen grimering, langbroeke of juwele nie.

Moeg vir godsdienstigheid
“Ons was ook vrek bang vir die hel, daarom het ons almal vroeg reeds ons ‘hartjies vir Jesus gegee’. Ons het almal ons tiekets hemel toe gekry – of so is ons wysgemaak,” vertel sy. “Ek het selfs ’n traan gestort, want dit was blykbaar deel van die formule vir redding.” Sy het egter as student die godsdienstigheid “soos ’n donker kleed” van haar afgegooi en uiteindelik as ’n 21-jarige finalejaarmusiekstudent wat vir ’n wyle met depressie gesukkel het, alleen in haar kamer besluit om met God te praat – “al bestaan Hy nie”.

Ware bekering
“Ek het met my vuis op die bed geslaan en gesê: ‘God, as U bestaan …’ Ek het onmiddellik die eerste keer in my lewe God se teenwoordigheid ervaar. Ek besef vandag Hy het seker gewag tot ek by daardie plek van absolute eerlikheid uitkom. Ek kon nie oor so ’n saai, aardgebonde lewe opgewonde raak nie. Ek het besef dis waar my depressie vandaan kom! Terselfdertyd het ek sonder twyfel gesnap dat net God my uit so ’n nuttelose bestaan kan red. Hy het my gees kom wakker maak en toe verstaan ek vir die eerste keer wat wedergeboorte is!”

Byeenkomste in die sitkamer lei tot ’n lewenskragtige kerk
Lucille is die medestigter van die Shofar-kerkgroep. Sy en Fred May het die kerk in 1992 as jong getroudes gestig toe dit spontaan uit byeenkomste by hulle huis ontstaan het. “Vriende het kom kuier en hulle deurmekaar vriende saamgebring … Hulle het hulle deurmekaar stories vertel en Fred het hulle van Genesis tot by die maps agterin die Bybel bepreek. Naderhand was ons sitkamer te klein.” Die kerk wat “per ongeluk” begin het, het uit sy nate begin bars. Fred en Lucille het 20 jaar lank ’n groot invloed op die akademiese room van Suid-Afrika gehad. Talle studente het in dié kerk tot bekering gekom, is met die Gees vervul en is nou sterk Christen-leiers in hulle gemeenskappe en in die beroepswêreld. Die kerk het uit die Mays se voorkamer landwyd uitgebrei en toe selfs na Europa versprei.

Die slag was groot
Ongelukkig is die egpaar vroeg in 2014 uitmekaar. “Die duiwel het sit en wag vir die sukses om te groei sodat hy op die kruin die meeste skade kon aanrig … mense en trone het inmekaargetuimel en verwoesting is gesaai. Ek en my huwelik het ook in die slag gebly – en die slag was groot,” verduidelik sy oor hierdie hartseer punt in haar lewe. “Ek was eens deel van ’n florerende boom, ek het gegroei, omring deur ander sade wat in die rykdom van goeie grond en water groei. Saam met die ander sade het ek gelag as die wind so waai … ek het nie agterkom toe ek begin verkleur nie, toe die groen begin verdwyn nie … Ek het nooit agtergekom dat die stammetjie wat my aan die boom vashou ook aan die verdor was nie … tot dit te laat was. Ek lag nog die een oomblik en die volgende oomblik klits ’n warrelwind my van agter … en ek lê en ek weet – my dag het aangebreek, ek gaan sterf … Weet jy daar is ’n plek soos dood, terwyl jou hart aanhou klop?” beskryf sy dit poëties.

Nuwe begin, nuwe dinge
Lucille woon steeds in Stellenbosch en gee tans musieklesse. Sy is bekend vir die pragtige musiek vir kooruitvoerings wat sy geskryf het toe sy nog in Shofar betrokke was, maar die Here het ook nuwe dinge vir haar in die pyplyn gehad.
Sy het onlangs haar boek, Die Papie-Suite, bekendgestel. Sy het dit voltooi nadat ’n Duitse vrou, wat haar van geen kant af ken nie, geprofeteer het dat Lucille die boek – wat sy tien jaar gelede begin skryf het en toe laat stof opgaar het – moet klaarmaak.
“Gedurende dié tien jaar het ek gegroei en verander; dit word beslis deur die verskillende skryfstyle in die eerste en tweede deel van die boek weerspieël. Die emosies wissel soos ’n Barok-suite wat uit verskeie danse bestaan,” sê sy in die inleiding van die boek.

Skoonheid uit gebrokenheid
Sy lewer baie eerlik kommentaar oor die twee skryfstyle: “In die eerste deel sal jy moontlik ’n selfversekerdheid bespeur wat aan verwaandheid grens. Dit is omdat dit sprekend van ’n ongebroke karakter is wat nog nie volwassenheid bereik het nie. In die tweede deel sal jy sien hoe daardie karakter gebreek word om ’n soeter, hopelik nederiger karakter te openbaar. ”

Van papies en Christenskap
Sy brei ter verduideliking oor hierdie gebrokenheid en die titel van haar boek uit en vertel hoe in Turkye, waar die duur Turkse matte van sy geweef word, die papies in twee groepe verdeel word. Die eerste groep word toegelaat om as motte uit te broei wat eiers lê sodat die hele proses herhaal kan word, maar die tweede groep papies se kokonne word geoes en die papies word vir die hoenders gevoer. “Arme papie, hy voorsien vir mense mooi matte en word dan opgevreet,” merk sy op. Sy vergelyk ons lewens met dié van die papies. Soos die saad wat moet sterf, speel die lewensiklus van die twee groepe papies hom ook in ons lewens af. “Al twee wurms begin die siklus dieselfde – as ’n wurm. Dan spin hy homself toe. Dit is hier waar die twee groepe se paaie skei,” verduidelik sy. “Die meeste gelowiges stap die pad van die papie wat in ’n mot verander, eiers lê en die kringloop herhaal. So ’n Christen dra geestelike vrug wat ook in ander se lewens gereproduseer word. Die tweede groep papies wat egter die sy vir die matte voorsien en dan opgevreet word, is die tipe gelowige wat gefrustreerd is met die status quo – met dit wat hy om hom in Christen-sirkels waarneem en ook in sy eie geestelike bestaan ervaar. Hy is oortuig daar is iets meer, iets dieper, maar het geen idee hoe om dit te laat realiseer in sy lewe nie. Die prys om hierdie ding te realiseer is hoog, dit weet hy, maar hy gee nie om nie. Die frustrasie en desperaatheid groei totdat hy bereid is om sy mot-potensiaal prys te gee vir die Turkse mat wat hy weet uit sy lewe geweef moet word.
“Aan watter groep behoort jy?” vra sy op haar kenmerkende eerlike en reguit manier in haar boek – ’n vraag wat elkeen van ons, net soos sy, ook vir onsself moet antwoord.

LUCILLE MAY se boek, Die Papie-Suite, is op Takealot teen R220 te koop en op Amazon as ’n e-boek beskikbaar. Volg gerus ook haar blog by lucillemay.net of kontak haar by lucillemay@gmail.com


18 Februarie 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)