Deur: Dirkie van der Spuy

Daar is niks so wonderlik soos wanneer ’n pa hoor hoe sy kind by maatjies spog oor hoe wonderlik sy/haar pa is nie. Dit bly van die mooiste woorde as ’n man hoor: “Pappa, ek is baie lief vir jou.” Volgens statistiek blyk dit egter dat 50% tot 60% kinders vandag sonder ’n pa grootword.

Hoekom is so baie pa’s afwesig in huisgesinne?
Werksituasies neem baie vaders ver weg van hulle huisgesinne terwyl ander weer van vroeg tot laat werk en hulle kinders hoofsaaklik in hul slaapklere sien. Party kinders word deur ’n ouer sussie, ’n ouma of ’n tannie grootgemaak. Huweliksontrouheid en egskeidings roof ook baie vaders uit hulle gesinne. Dikwels is mans se afwesigheid in hulle huisgesinne bloot die gevolg van hulle selfsugtige en selfgesentreerde leefstyl.

Gevolge van afwesige vaders
As ’n pa uit die huis wegraak, verswak dit die “veiligheidsheining” en is die huisgesin kwesbaar en oop vir die aanslae van die vyand. Dit was juis God se probleem met die eerste man op aarde omdat hy nie sy vrou beskerm het teen die slang se aanvalle, versoekings en misleiding nie.

Statistiek bewys dat kinders wat sonder ’n vaderfiguur groot-word baie meer aan dwelms, misdaad, depressie, eetversteurings, skolastiese probleme, selfdood, tiener-swangerskappe en gesagsprobleme blootgestel is.

As ’n kind sonder ’n pa opgroei, ontbreek dissipline en respek vir gesag dikwels. Doeltreffende opvoeding en vorming van ’n kind vind hoofsaaklik in liefdevolle verhoudings plaas. ’n Seun het eendag gesê: “My father never built me up, he only beat me up.”

Dit is dikwels ook ’n probleem dat sommige mans baie selfsugtig lewe en nie by die kinders se probleme en opvoeding betrokke
wil raak nie.

Verantwoordelike leier
Die Bybel maak dit duidelik dat God die man anders geskape het as die vrou en aan hom ’n unieke verantwoordelikheid toegeken het. In die huwelik en in die gesin is hy die hoof (Ef 5:23). Dit beteken nie dat hy nie ’n ereposisie het nie, maar ’n verantwoordelikheidsposisie. As man moet hy vir die geestelike, emosionele en fisiese welsyn van sy vrou en sy kinders sorg.

Die huwelik
As die Bybel vir ’n vrou vra om aan haar man onderdanig te wees, beteken dit nie in die eerste plek dat sy voor hom sal kniel as koning om hom te bedien nie, maar dat sy ruimte sal maak dat hy leiding kan neem en sy verantwoordelikheid as man kan nakom. Daarom is daar geen plek vir oorheersing, mishandeling of uitbuiting in die huwelik nie. ’n Huwelik is die verbintenis van twee gelykes met hul onderskeie verantwoordelikhede.

’n Uitstaande eienskap van ’n man
In die Bybel is die uitstaande eienskap van ’n man dat hy gekenmerk sal word deur sy liefde vir sy vrou (Ef 5:25). Die man neem daarom verantwoordelikheid vir sy vrou om vir haar om te gee, te sorg dat sy vrede het en gelukkig is. Daarom sal ’n man baie naby aan sy vrou lewe sodat hy haar van harte sal ken om in haar diepste behoeftes te voorsien. ’n Vrou en ’n kind wat so opreg en met opoffering liefde ontvang, sal ook nooit opstandig raak nie.

Mevrou, maak oop die deur!
Baie vrouens maak dit nie maklik vir hulle mans om verantwoordelikheid en leiding in die huis te neem en betrokke te raak nie. Sommige vrouens verkies om self die septer in die huis te swaai en ander wil nie die sweep neersit nie.

As mans moet verstaan dat hulle die verantwoordelikheid moet opneem en nie meer vir passiwiteit en selfsug plek gee nie, moet vrouens verstaan dat hulle ruimte moet maak vir hulle mans om hul rol in die huis te vervul. Vrouens moet die deur oopmaak vir hulle mans en vir hulle ruimte gee om verantwoordelikheid en leiding te neem.

Kniel saam voor die Here
Uiteindelik is die antwoord dat ’n man en ’n vrou saam voor die kruis moet kniel, bely wat verkeerd is en dadelik met mekaar versoen en regmaak. As ’n mens saam voor God kniel en man en vrou saam gehoorsaamheid aan die Here belowe, sal God voor hulle uittrek en hulle huwelik en gesin nuut maak.

Kom ons gee vir ons kinders voorbeelde wat hulle tot eer van God kan navolg! Kom ons word geliefde pa’s en ma’s in ons huise!


2 Augustus 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)