-deur Lourieke Haller

“Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.” – Jesaja 55:3

God is liefde. God het jou lief.” Is jy een van dié vir wie dit blote woorde is? Jy glo dit, jy verkondig dit selfs, maar die ware belewenis daarvan ontwyk jou. Esté Geldenhuys se Laat U Naam geheilig word kom vanuit daardie plek. Die hersiene uitgawe van die boek is nou beskikbaar (die eerste uitgawe is in 2016 uitgegee). Ná my gesprek met Esté verstaan ek die boek is gebore, nie uit teorie nie, maar ’n diepe soeke na die liefde van God en wat dit regtig beteken.

‘Iets’ ontbreek
“Kom ek praat gou ’n bietjie Christianeze,” val Esté weg. “Ek het in st. 6 my ‘hart vir die Here gegee’, maar nooit geleer om in die oorwinning te leef nie. Ek het nooit geleer dat ’n mens in ’n persoonlike liefdesverhouding met God kan leef nie. Een waar jy jou hart met Hom kan deel en Hy jou begin lei nie.” Esté vertel op haar kenmerkende manier hoe sy besef het dat ander Christene “iets” het, wat sy ontbreek. Sy het begin bid en God gevra waaroor dit dan gaan.

Lig verdryf die duisternis
Sy vertel dat Hy haar gelei het om bevryding te ontvang. “Ek moes uit ’n baie diep put gehaal word. Deel van die proses om uit die put te kom, het oor die woord ‘liefde’ gegaan.” Ek het vir Vader gesê ek verstaan nie hoe Sy liefde vir my werk nie. Ek het baie keer gevoel soos iemand wat in ’n gimnastieksaal vol apparate was, maar al die ligte was af en ek het my aanmekaar teen alles flenters gestamp, want ek kon niks sien nie. Ná die bevryding was dit asof die ligte helder aangegaan het. Ek kon sien waar ek is. Ek kon sien wat ek nié het nie.”

Wat beteken: “Ek het U lief”?
Uiteindelik het Sy God se liefde vir haar begin verstaan, maar kon nie saam sing: “Jesus, I love you” nie. “Ek kon dit nie sê nie, want ek het nie geweet wat dit beteken nie. Ek het Hom gevra: ‘Gee my asseblief hande en voete vir hierdie besigheid,’” vertel sy.

Wat beteken dit om U te vertrou?
God het die sleutels een vir een gegee: “Vader het vir my gesê: ‘Elke keer as jy Mý vertrou, het jy My lief. Elke keer as jy
intimiteit met My opsoek, het jy My lief. Elke keer as jy My gehoorsaam, het jy My lief.” Sy het besef dat sy nie verstaan wat dit beteken om God te vertrou nie. “Here, wat in U moet ek vertrou?” het sy gevra. “Daar is net een ding wat jy in enige een kan vertrou en dit is karakter,” was Sy antwoord.

Leer my U karakter
Die sleutel was God se karakter. Dit was die begin van Esté se reis om die boek te skryf, want God het vir haar gesê: “My karakter is verskuil in die betekenis van My Hebreeuse Name. Agt jaar lank het sy soos ’n argeoloog oopgegrawe, fyntjies afgestof en die waarhede oor God se karakter in 24 van Sy Name blootgelê.

Deel een:
Die grootheid van God
Sy het die karaktereienskappe in vier afdelings verdeel. Deel een in die boek behels agt Name, onder meer Elohim, die Goddelike Drie-eenheid, die Skepper van alles wat bestaan, en Adonai, die soewereine God. Die deel bevat al die Name wat Sy grootheid beskryf.

Deel twee:
Die heiligheid van God
“Deel twee is ’n belangrike deel, want as ek na die karakter van ons Vader kyk, lyk dit vir my Sy heiligheid is die een element van Sy wese wat die belangrikste is. As Hy nie heilig was nie, wat kon jy in Hom vertrou?” vra Esté. “Hy kan nie lieg nie, Hy is ’n God van Sy Woord.” Sy verduidelik ook dat niemand werklik intimiteit met Hom kan waag as hulle nie self ’n begeerte na heiligheid het nie. Sy ontsluit hier ses Name, onder meer YHWH M’Kaddesh, die Here wat heilig is, en YHWH Tsidkenu, die Here ons geregtigheid.

Deel vier:
Versorgende God
Deel vier behandel die Here wat voorsien. “YHWH Shammal, God mét ons, is vir my so mooi. Shamal – dit is Shama met die lamet (l) wat die kromming van die herderstaf uitbeeld waarmee God ons nader trek aan Hom. Hy is by jou,” verduidelik Esté.

Sy Name fasette van ’n diamant
“Ek kon nie anders nie, ek het die boek met ‘Vader’ afgesluit,” sê sy. “Mý Vader, julle Vader, Ons Vader, ewige Vader, heilige Vader, Vader van die ligte. Jesus se gebede aan Sy Vader. Elke betekenis van Sy Name is fasette van ’n diamant. Hoe meer van daardie fasette jy verstaan, hoe groter word die lig wat jy uit jou eie lewe weerspieël,” sluit dié woordargeoloog af.

Versadig met die beste
Vir elkeen wat worstel om van die teorie na hartskennis oor God se liefde te beweeg, is hierdie boek ’n moet. Dit kom uit ’n hart wat voorheen weeskindhonger na liefde in ander se ervaring gekyk het, maar nou oorloop van God se liefde uit eie ervaring met Hom.


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)