Sandra, ’n 54-jarige vrou, het stadig aangeskuifel in die hoofstraat van Nigel, ’n klein dorpie aan die oostelike buitewyke van Johannesburg. Met haar inkopiesak, gehawende rok, pantoffels en deurmekaar hare sou ’n mens maklik kon dink dat sy ’n hawelose “straatvrou” is, maar sy was nie. Haar man het haar uitgeskop.

’n Beangste vrou
Ek het Sandra die eerste keer ontmoet toe Dirk, ’n vriend van my, haar na die kerk toe gebring het waar ek aan die Oos-Rand as leraar gedien het. Twee dae nadat ons mekaar ontmoet het, het sy my gebel. Sy het stadig gepraat en verduidelik: “Ek ly geweldig aan angs, Pastoor.”
Ek het aangebied om oor die telefoon vir haar te bid. Ná ’n kort en opregte gebed vir innerlike genesing vir haar, het ek gegroet en vir haar gesê dat sy my moet skakel as sy oor twee dae steeds nie beter voel nie. Twee dae later kry ek die oproep: “Ek is nog steeds beangs.” Ek het nie geweet watter kant toe nie en het die Here gevra om my te lei. Hy het my gewys dat ek haar moes besoek. Ek het reëlings getref om haar die volgende oggend te gaan sien.

Eerste indrukke
Ek het my vriend en gebedsmaat, Martin, saamgeneem. Hy is serebraal gestremd. In sy veertigs het Martin se toestand geleidelik versleg sodat hy nou skaars sonder hulp kon loop.

Ons moes ’n lang pad van Sandra se hek tot by haar voordeur stap. Sy het ons op die voorstoep ingewag. Omdat Martin gesukkel het om te loop, het ek hom gehelp deur sy linkerarm stewig vas te vat en hom styf vas te hou. Ons het met die paadjie na Sandra toe aangesukkel. Dit moes vir haar gelyk het asof ek ’n dronk man begelei. Met elke tree het dit gelyk of sy voet ’n wil van sy eie het. Die voet het uitgeskiet en dan ongeveer 30 cm bo die grond gehuiwer voor dit besluit het waar om te land. Net voor dit lyk asof Martin op die grond gaan beland, het sy voet net betyds die volgende tree geneem. Gelukkig sou hy nie kon val nie, want ek het hom stewig vasgehou. Sandra se oë wat gewoonlik glasig lyk, het al hoe groter gerek, sy het ons aangegaap toe ons die stoep uiteindelik bereik.
“Hallo, Sandra, dit is my gebedsmaat, Martin,” het ek gesê. “Hallo,” het Martin haar in sy skril stem gegroet. Ek dink Sandra het haar bedenkinge oor hierdie predikant en sy interessante vriend gehad.

Ly aan diep depressie
Sandra, wat aan diep depressie gely het, het as ’n huishoudster vir Dirk gewerk. Die depressie was so erg dat selfs skokbehandeling haar weinig gehelp het. Dirk het my vertel dat sy vir hom sy ontbyt in ’n dwaal gemaak het. Daarna sou sy die huis stadig maar seker opruim en skoonmaak. Dan het sy van twaalfuur in die middag tot vyfuur in die namiddag by die kombuisvenster gesit en uitkyk tot sy begin het om sy aandete te kook. Sy het die een sigaret na die ander gerook, terwyl sy uur na uur by die kombuisvenster uitstaar.

Sandra se hartverskeurende verhaal
Ek het Sandra gevra om haar verhaal vir ons te vertel. Sy het uit ’n hoërmiddelklas gesin gekom en ’n openbare skool bygewoon. Op hoërskool het sy ’n hele paar bewonderaars gehad omdat sy buitengewoon mooi was. Maar sy het net oë gehad vir een seun, Connor. Hy was twee grade hoër as sy en ’n paar jaar ouer omdat hy meer as een keer gedruip het. Hy het ’n motorfiets gehad, gerook en gedrink – ’n regte moeilikheidmaker wat deur baie leerlinge, waaronder Sandra, gevrees en bewonder is. Connor het die skool verlaat en ’n vakleerlingskap as ’n passer-en-draaier begin. Sandra het intussen met hom begin uitgaan en teen die einde van haar laaste jaar op skool het sy swanger geraak. Sy het haar matriek voltooi voordat sy met Connor getrou het. Haar ouers was teen die huwelik gekant, maar sy was halsoorkop verlief en wou nie na hulle raad luister om nie met hom te trou nie. Connor het Sandra gedwing om te kies: “Dis ék of hulle.” Sy het hom gekies! Hy het haar gedwing om haar ouers te verbied om haar of die babaseuntjie te sien.

Die donker put van drankmisbruik en mishandeling
Connor het as passer-en-draaier gekwalifiseer en was goed in sy vakgebied. Hy het spoedig baie geld verdien. Die egpaar het ná hul seuntjie ook twee dogtertjies gekry, maar die huislike omstandighede het vinnig versleg. Connor het elke naweek vreeslik gedrink en in die vroeë oggendure huis toe gekom. In sy dronk toestand het hy Sandra fisiek mishandel. Aanvanklik het sy probeer om dit weg te steek, maar soms het die rumoer die vreesbevange kinders wakkergemaak en het hulle by hulle pa gepleit om “op te hou om mamma te slaan”. Teen daardie tyd het hy ook in die week gedrink en die kinders ook begin aanrand. Hy het Sandra verskree en haar voor die kinders en die bure slegte name genoem en gevloek.

Dinge het net vererger
Die aanrandings was so erg dat Sandra van haar tande verloor het en haar neus erg gebreek is. Sy was te bang om ’n klagte teen Connor te gaan lê. Sy was so beangs dat sy psigiatriese behandeling moes ontvang. Toe haar oudste dogter 14 was, het sy van die huis af weggeloop en by haar kêrel se gesin gaan woon. Sy het uit die aaklige omstandighede ontsnap en elders ’n veilige hawe gaan soek. Die jonger sussie het dieselfde gedoen toe sy 15 jaar oud was. Sandra het hulle nooit gevra om terug te keer nie omdat sy van mening was dat dit ’n veiliger opsie vir haar dogters was; Connor het nie ’n flenter omgegee nie. Hul seun was in en uit die tronk en het ongelukkig op 31-jarige ouderdom in ’n kroeggeveg gesterf. Ná meer as 34 jaar se getroude lewe het Connor begin om minnaresse huis toe bring. Sandra moes in die spaarkamer gaan slaap.

Mishandel en ’n uitgeworpene
Terwyl ek na hierdie hartverskeurende verhaal geluister het, wou ek weet hoekom Sandra nie vir Connor verlaat het nie. Sy het verduidelik dat sy nie geld of enige vriende gehad het by wie sy vir hulp kon gaan aanklop nie. Sy het gevoel dat sy geen ander keuse het nie. Sy was heeltemal alleen. Connor het elke aspek van haar lewe beheer en haar selfs verhinder om met hulle dogters in aanraking te kom. Haar ouers was toe ook al oorlede. Op ’n dag, toe Sandra in haar vyftigs was, het Connor se vriendin – wat toe permanent by hulle gebly het – daarop aangedring dat Connor vir Sandra uit die huis moet skop. Net voor Connor haar gewelddadig uitgesmyt het, kon sy ’n paar items in ’n inkopiesak stop. Die arme gebroke vrou het padlangs aangesukkel met nêrens om heen te gaan nie en niemand wie sy kon vra vir hulp nie. Al wat sy kon doen, was om huilend en desperaat tot God uit te roep: “Here, help my asseblief!” Dit is presies wat God gedoen het.
Hy het sy seun, Dirk, gebruik wat op daardie oomblik op pad was na die poskantoor. Aanvanklik het hy haar nie herken nie. Toe hy verbystap, het hy probeer dink wie sy is. Toe onthou hy vir Sandra van hulle skooldae af. Hy het omgedraai en haar gevra: “Is dit jy, Sandra?” Nadat hy haar storie gehoor het, het die Here hom gevra om haar as ’n huishoudster aan te stel. Dirk was aanvanklik baie onwillig om dit te doen, want hy was bekommerd oor wat die mense sou sê. Hy het met sy trots geworstel, maar uiteindelik het die Here gewen.

Om jouself te vergewe is baie belangrik
Ek het die Here gevra wat ons vir Sandra moet bid. Terwyl ons bid, het ek die heeltyd die woord “vergifnis” in my gedagtes gekry. Eers het ek gedink dat dit vir Connor is wat sy moet vergewe. Ek het haar gevra of sy hom vergewe het. “Ek het,” het sy gesê. Ek het haar geglo toe ek sien hoe opreg sy antwoord. Het ek dan reg gehoor: Vergifnis? Die Here het my toe duidelik gewys – sélfvergifnis. “Het jy al jouself vergewe?” Die sluise het oopgegaan. Ek het nog nooit voorheen iemand so sien snik nie. Sy het uit haar hart gehuil. “Nee, hoe kan ek? Ek moes die moed gehad het om te loop toe die mishandeling begin het, om my kinders te beskerm, maar ek was te bang. Nou is my seun dood en my dogters is weg …”

“Vra die Here en jou kinders om jou te vergewe, asof hulle hier in die kamer is,” het ek gesê. Sy het dit gedoen. Onmiddellik kon ek sien hoe ’n swaar las van haar afval. Haar liggaam het ontspan en ek het ’n sweempie van ’n glimlag bespeur. Ons het vertrek met alle hoop dat Jesus haar sal vertroos en herstel.

’n Heerlike verrassing
Die volgende Sondag het ek gretig uitgekyk vir Sandra in die kerk, maar sy was nie daar nie. Ek was bekommerd dat sy weer in skuldgevoelens verval het. Ek het die volgende week nie van Sandra gehoor nie en toe besluit om haar te skakel. Geen antwoord nie. Twee weke later het sy my gebel. “Ek het goeie nuus!” Haar stem was opgewek; sy het soos ’n nuwe mens geklink. “Ek het vandag vir ’n onderhoud gegaan vir ’n pos as verkoopsdame in ’n damesboetiek. Nie net het ek die werk gekry nie, maar ek begin aan die einde van die maand werk.” Twee maande later het Sandra genoeg geld gehad vir ’n deposito om haar eie woonstel te huur. God was elke tree van die pad by haar. Haar woonstel was spoedig ingerig – nie net danksy haar inkomste nie, maar ook danksy geskenke van haar nuwe kerkvriende. Sy het ’n nuwe werk gekry, ’n nuwe huis, nuwe vriende en ’n nuwe lewe. Haar geloof het vinnig gegroei.

’n Gelukkige einde in oorwinning
Ná ses maande het Sandra se oudste dogter toevallig by die winkel ingestap waar haar ma werk. Dit het soos ’n droom gevoel en die herontmoeting was baie emosioneel. Hulle het gaan koffie drink – wat ’n vreugdevolle weersiens. Hulle het die volgende naweek weer ontmoet en haar dogter het haar suster saamgebring. Die gesin het die kans gekry om weer kontak te maak en oor te begin. Die nuutste wat ek oor Sandra gehoor het, is dat sy steeds in oorwinning lewe, verenig met haar twee dogters en hul gesinne. God het hierdie verlore, gebroke kind van hom liefgehad en opgepas. Hy het die jare herstel wat die sprinkane opgeëet het. Hy is altyd naby en wag net dat ons Sy Naam aanroep. Ons God is groot, Hy is getrou en Hy is ons Verlosser.


24 April

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)