Deur: Lourieke Haller

Elkeen kan ’n oorvloedige lewe ervaar deur elke dag voluit te leef met dít wat ons van God ontvang het – deur te blom waar ons geplant is – want ons kan nie altyd ons omstandighede verander nie, maar ons kan wel verander hoe ons daarop reageer.

Die twee skoonsussies en mediese dokters, Ledivia en Rolene Strauss is onbeskaamd vir die Here lief. Al twee het as kinders reeds die pad saam met Jesus begin stap. Ledivia het as 12-jarige dogtertjie saam met haar ma gekniel en Jesus in haar slaapkamer aangeneem en Rolene is verlede jaar groot gedoop. Die voormalige Mej. Suid-Afrika (2014) én Mej. Wêreld (2014) het nie net haar mediese studies voltooi nie, maar ook onlangs het haar meestergraad in filosofie en bestuursafrigting begin. Sy en Ledivia het saam ’n holistiese mediese praktyk, RevitaHealth, oopgemaak waar hulle op kliënte en pasiënte se fisieke en geesteswelsyn fokus. JUIG! het met hulle gesels oor hul geloof, die mite van die perfekte vrou en oor gesondheid van binne na buite …

LEDIVIA


Ledivia, jy het ’n belangrike keerpunt in jou lewe gehad, vertel ons daarvan.
As eerstejaartjie het ek ’n betekenisvolle ontmoeting met die Here gehad. Ek het altyd geglo ek is nie goed genoeg nie, want ek is ’n introvert. Op die nuwelingskamp het die Here vir my bevestig dat ek maar mag wees net soos wat ek is; dat Hy my met my introvertpersoonlikheid gaan gebruik. Dit was ’n keerpunt. Die saadjie is daar geplant om ander vroue ook te bemoedig dat die Here ons gebruik net soos wat Hy ons geskape het, want Hy maak nie ’n fout nie.

Retief se rugbyloopbaan het julle sewe jaar lank in Frankryk laat woon. Wat het daardie tyd jou geleer?
Ek is baie gelukkig om met ’n gelowige man getroud te wees. Dit was vir ons ’n groeityd gewees. Ons het saam met Fidjiane, ’n Nieu-Seelander en twee ander Suid-Afrikaanse paartjies ’n selgroep begin. Ons het soveel waarhede ontdek terwyl ons self in die Woord gedelf het en die Here met ons gepraat het. Dit is waar ek geleer het: Groei en blom waar jy geplant word.

Hoe leef jy jou Christenskap in jou beroep uit?
Ek kan glad nie my Christenskap skei van dít wat ek elke dag doen nie. Veral omdat ek ’n dokter is, want die Here is die groot Geneesheer. Ons kan mense behandel, maar Hy genees. Ek glo dit is my roeping. As ek terugkyk kan ek sien hoe die Here my pad beplan het, want ek wou aanvanklik ’n narkotiseer word. Toe beland ek in Frankryk. Daar het ek by estetiese medisyne betrokke geraak omdat dit vir my ’n maklike manier was om iets te verdien. Ek het elke drie maande na Suid-Afrika gevlieg en ’n bietjie Botox vir pasiënte gespuit. Jy ken my nou glad nie, maar dié wat my baie goed ken, sê dit is die laaste ding wat hulle gedink het ek sou doen!

Die innerlike transformasie wat vroue ondergaan omdat ek hulle uiterlik beter laat voel oor hulleself, is vir my baie betekenisvol. In Frankryk het ek agtergekom hoeveel emosioneel stukkende vrouens daar is. Pasiënte bou ’n vertrouensverhouding met jou en deel hul harte met jou. Ek het besef hoe onbeantwoord vroue se vrae oor hulle gesondheid, hul gewig en hul hormone is. Ek het besluit om verder te studeer.

En toe kom jy by funksionele medisyne uit. Wat is dit?
In Frankryk kon ek met my studies baie meer holistiese benadering rakende gesondheid en medisyne volg. Ek het die nuwe veld van funksionele medisyne ontdek. ’n Mens probeer by die wortel van ’n pasiënt se probleem uitkom. Jy skryf nie bloot net medikasie voor om simptome te behandel nie. Dit is letterlik ’n gesondwordpad wat ons saam met die pasiënte stap.

Jou webtuiste praat oor skoonheid van binne na buite. Wat bedoel jy daarmee?
Eerstens natuurlik geestelike en emosionele gesondheid, maar ook op sellulêre vlak. Om iemand metabolies, op sellulêre vlak gesond te kry sodat hulle dan hul beste lewe kan geniet. Die Here het ons wonderbaarlik geskape. As ons liggaam gevoed word met die regte boustene, kan hy homself genees.

Jy haal Johannes 10:10 op jou Instagram aan. Wat behels ’n oorvloedige lewe vir jou?
Vir my beteken ’n oorvloedige lewe om elke dag voluit te leef met dít wat ons van God ontvang het. Want ons kan nie altyd ons omstandighede verander nie, maar ons kan wel verander hoe ons op ons omstandighede reageer.

Jy het ook ’n leuse: “You are more than the weight you lose.” Wat bedoel jy daarmee?
In ons praktyk gebruik ons glad nie die woorde “gewig” of “dieet” nie, want jy is baie meer as net ’n nommer op ’n skaal. Ek help pasiënte om nie meer op ’n nommer te fokus nie, maar eerder op optimale sellulêre en metaboliese gesondheid. Dit is hoekom ek o.a. die Healthy Eating 101-kursus aanbied, want in my kliniese werk het ek agtergekom hoe oningelig mense is oor wat gesond eet regtig beteken. My wens is dat elke mamma die kursus saam met haar kinders kan doen. My dogtertjie is agt en sy weet wat gesond vir haar lyfie is. Ons praat glad nie oor gewig in ons huis nie, maar sy weet wat gesond vir haar is. As ons ons kinders bemagtig om gesond en die beste weergawe van hulleself te wees – soos Jesus hulle geskape het – sal ons nie so met kroniese siektes sukkel nie.

Vrees is ook ’n kroniese siekte. Watter raad het jy vir dié wat daarmee sukkel?
Ons sien nou baie pasiënte wat sukkel met angs. Fisiologiese spanning het dieselfde uitwerking as psigiese spanning op ons liggaam. Ons liggaam kan nie onderskei tussen die twee nie. Dit reageer op presies dieselfde manier – dit verhoog jou adrenalien, jou kortisol. Of jy jou lê en bekommer en of dit ’n leeu is wat jou jaag – die veg-of-vlug-reaksie kom in werking. Jou liggaam reageer fisiologies presies dieselfde. Maar, jou brein kan net op een ding op ’n slag fokus. Probeer dus die oomblik as jy beangs begin voel, om jou brein doelbewus met iets anders besig te hou. Dink aan iets waaroor jy intens dankbaar is, lees ’n bemoedigende teksvers, of bemoedig iemand anders. Ons kan nie altyd ons omstandighede beheer nie, maar ons kan ons reaksie daarop beheer. Ek hou van 2 Timoteus 1:7, dit is so kragtig. Die Here sê Hy het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van liefde krag en selfbeheersing. In die New King James Version sê Hy: “Of power love and a sound mind”.


ROLENE


Jy het onlangs weer ’n mamma geword en het twee oulike seuntjies. Watter raad het jy vir mammas met seuntjies?
Ek het onlangs die boek, Mother and son, van Emerson Eggerichs gelees. Dit het my manier van ma wees verander. Dit leer jou hoe om met seuntjies te praat, want hulle floreer wanneer hulle gerespekteer word. Die skrywer stel dit so goed: “You have to speak to the man in the boy.” Die man in hom wil jou beskerm, vir jou sorg en die “monsters” doodmaak wat jou bedreig. Vandat ek dit begin toepas het, het alles verander. Ek kan nie onthou wanneer laas hy ’n “time-out” nodig gehad het nie.

Jy het jou droom om ’n dokter te word, vir jou gesin prysgegee. Vertel ons van daardie reis.
Aan die einde van my finale jaar medies was my seuntjie amper een jaar oud en ek en my man in ons tweede jaar van langafstandhuwelik. Ek moes kies – voltooi my gemeenskapsdiensjaar of wees by my gesin. Ek het my gesin gekies. Daar was ’n deeltjie van my wat die mediese lewe baie gemis het; die bevrediging om iemand anders te help.

Hoe het die Here toe tog daardie begeerte vervul?
Ek en Ledivia het RevitaHealth in 2018 begin. Sy behartig al die mediese werk (ek verkies om nie medies betrokke te wees nie omdat ek nog nie my internskap in gemeenskapsdiens gedoen het nie) en ek was met die besigheidskant en bemarking betrokke. Toe kom D’niel, my man, eendag by die huis aan en sê: “Ek het die perfekte ding vir jou gekry.” Ek het met my meestergraad in bestuursafrigting (management coaching) by die Universiteit van Stellenbosch se besigheidskool begin. Dié deel van my wat na medies verlang het, is deur die afrigting vervul. My afrigting gaan oor vroue se selfvertroue. Ek het dit eintlik gedoen om myself te bemagtig en my eie selfvertroue terug te kry.

Dit is moeilik om te glo dat jy min selfvertroue gehad het …
Ek was Mej. Wêreld en tog het ek verskriklik min selfvertroue gehad. Ek het steeds nie geglo dat ek genoeg is nie. Wanneer ek dít met vroue deel, verander dit hulle persepsie oor hulleself ook. Ek onthou, ek was besig om my seuntjie te borsvoed terwyl ek vir my mediese eksamen geswot het. Ek het ontsettend skuldig gevoel. Ek het gevoel ek swot nie hard genoeg nie, ek bestee nie genoeg tyd met my seuntjie en my man nie. Ek het gedink daar móét meer wees as om die heeltyd perfek te probeer wees en te voel ek misluk.

Op jou webtuiste staan daar: “Say no to the woman called Perfect”. Is dít waarna jy daar verwys?
Ja! Die groot ding is, baie vroue glo – net soos ek destyds – dat hulle nie genoeg is nie. Dit hoef nie noodwendig oor uiterlike skoonheid te gaan nie, dit kan enige ander maatstaf wees. Selfs Christene sê vir my hulle weet aan die een kant hulle is goed genoeg, maar hulle voel nie goed genoeg nie. Dit is hoekom ek navorsing gaan doen het om uit te vind wat ’n mens daardie selfvertroue gee. Ja, jou identiteit is in God. Ja, wanneer jy bid en weet dat God jou skepper is, voel jy beter, maar daar is wel praktiese maniere hoe jy jou selfbeeld kan opbou. En dit is waaroor my afrigting gaan. Die meeste mense dink selfvertroue is staties, iets wat jy nie kan verbeter nie. My aanlynselfvertrouekursus, Rediscover your self-confidence, wat die 24ste Julie bekendgestel sal word, help jou met praktiese maniere om 100% van jou selfvertrouepotensiaal te gebruik, nie net byvoorbeeld 40% nie.

Hoe het jou Christenskap ’n uitwerking in jou sakebedryf?
Dit is waarom alles draai. Dit is nie toevallig dat ek Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld geword het nie. Die Here het ’n plan vir my lewe en voor ek enigiets aanpak, vra ek eers: Pas dit in by God se prentjie vir my lewe?

Jy het inderdaad ’n invloedryke platform ontvang en soveel dinge waarby jy betrokke kon raak. Hoe het jy geweet wat God se wil is?
Ek het lank daarmee geworstel. Toe ek Mej. Wêreld was, het ons in Singapoer gaan vakansie hou. Ons het een van Joseph Prince se dienste bygewoon en hom ná die tyd ontmoet. D’niel is ’n diep geestelike mens. Hy het ’n hele vraelys vir Joseph gehad. Een van die vrae was: Hoe weet ’n mens of jy die regte keuse maak? Joseph se antwoord was eintlik so eenvoudig. “Hoe verwag jy moet God ’n stilstaande motor stuur? Jy moet in geloof doen wat jy glo God se plan vir jou is. Neem net die eerste stap. Hy sal jou lei.”

Kry julle geleentheid om saam met van julle pasiënte te bid of oor die Here te praat?
Ons span bid elke Maandagoggend saam vir elkeen van ons pasiënte. Elkeen wat hier instap, vertrou hulleself aan ons toe.
Dit is hoekom ons regtig probeer om ’n veilige hawe vir hulle te wees. Ek het ’n hele paar internasionale afrigtingskliënte uit ander kulture of gelowe. Toe ek Mej. Wêreld was, het ek gewonder hoe ek my Christenskap kan uitleef terwyl ek alle kulture en gelowe moet respekteer. Ek het geleer dat die Here my op allerhande maniere gebruik en dat ek nie noodwendig vir iemand hoef te preek nie. Ek plant die saadjie en Hy sal dit natlei. Daar is egter tye waar die Here my lei om iets te sê. Al my kliënte is ook in my gebedsjoernaal. Of hulle nou wil of nie, bid ek vir hulle.

Laastens, bied julle enige damesoggende of kursusse aan?
Ons hou gewoonlik ’n RevitaHealth Women’s Summit, maar vanjaar is dit moeilik, daarom bied ons alles aanlyn aan. Belangstellendes kan inteken op ons nuusbrief by www.revitahealth.za en ons Healthy Eating 101-aanlynkursus is weer in Augustus beskikbaar.

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

10 Augustus 2020

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)