Mensehandel en die euwels van die sekshandel is al hoe meer gereeld in die nuus. In Januarie vanjaar het Ma-roela Media berig oor ’n tienerseun wat vlak by sy ouerhuis in Hilton, Pietermaritzburg ontvoer is, maar deur verbete te veg, daarin kon slaag om uit die kloue van die ontvoerders te ontsnap.
Nadine Blom – sanger, outeur, dosent en toegelate prokureur – het kragte saamgesnoer met Anzil Kulsen, projekorganiseerder van die ATKV en self ook ’n outeur, om Skarlakenkinders te skryf. Dié aksiebelaaide roman met ’n Christelike agtergrond handel oor mensehandel – iets wat ongelukkig aan die toeneem is in ons samelewing.

JUIG! het met die twee outeurs gesels oor die skryf van die boek.

Nadine Blom
Nadine, die meeste van ons ken jou weens jou sukses in die vermaaklikheidsbedryf. Jy het egter in 2017 jou meestersgraad in internasionale reg verwerf. Vertel ons van jou reis.
Ek het my destyds as prokureur bekwaam en nog altyd ’n groot liefde gehad vir die internasionale reg. Ek wou as jong meisie vir die Verenigde Nasies gaan werk! In 2015 het ek besluit om my liefde vir mense en die reg te kombineer, en het verder in die regte studeer en my meestersgraad aangepak. Ek het drie jaar intensief navorsing gedoen oor mensehandel. Ek moes onder meer die verskillende stelsels opweeg, soos byvoorbeeld in Nederland waar prostitusie gewettig is, bevorder dit eintlik mensehandel omdat die polisie nie net kan instap en klopjagte doen nie. Daarom baklei ons hier so erg om die dekriminalisering van prostitusie teen te staan. My passie is dít: Hoe gaan ons mense se reg op vryheid beskerm? Hoe gaan ons aanlynveiligheid verseker – veral vir kinders.

Hoe gaan hierdie sindikate te werk?
Sindikate buit ons behoefte om liefgehê te word uit. Hulle nader meisies byvoorbeeld met die sg. “loverboy recruitment” en maak ’n romantiese verbintenis met die slagoffer. Hulle “werf” meisies en jongmense wat op soek is na ’n beter lewe. Die internet en globalisering vergemaklik ook die werwing van mensehandelslagoffers. Sindikate gebruik so-siale media soos Facebook en Instagram om potensiële slagoffers te werf met beloftes van werksgeleenthede, romantiese verhoudings, modelkontrakte, hoofrolle in internasionale rolprente, ens.

Sal ons ooit met sulke slagoffers in kontak kom? Hoe sal ons weet?
Jy sal dalk met iemand in aanraking kom, maar dit nie weet nie. Hulle sal byvoorbeeld ’n dokter besoek, maar nooit alleen nie – die “pimp” is altyd by. Of kinders wie se ouers of voogde baie rondtrek. As iemand van dorp na dorp trek, is daar dikwels goed wat toegesmeer word en die maatskaplike werkers is oorwerk, dit word nie altyd opgemerk nie.

Mense vra dikwels: “Hoekom loop die meisies nie net weg nie?”
Die meisies word geskok, gebrand, of gemartel – dit word ook in die boek genoem – die metodes waarop slagoffers gevange gehou word. Hulle word letterlik in ’n kamer toegesluit en verkrag; sielkundig afgebreek.

Hoe vermy jy om ’n slagoffer te word?
Wees versigtig met wie jy vriende maak. Baie slagoffers waarmee ek te doen gehad het, is aan sindikate verkoop deur “vriende” (soms selfs familie en lewensmaats om uit die skuld uit te kom). Wees aanlynveilig. Moenie jou persoonlike inligting aanlyn met mense deel wat jy nog nie persoonlik ontmoet het nie. Wanneer jy uitgaan, deel altyd jou ligging op die “Waze”-toep met iemand wat jy vertrou. Wanneer daar na ’n vermiste persoon gesoek word, is die persoon se selfoon van groot hulp. Die eerste vyf ure vandat iemand vermis geraak het is die belangrikste. Meld ’n vermiste persoon dadelik aan, daar is geen 24 uur wagperiode nie.

Hoe beveg ons mensehandel?
Deur mense te waarsku en in te lig. Pornografie is natuurlik een van die grootste dryf-vere vir mensehandel. Ek sien daar is nou wetgewing in die pyplyn dat hulle ouers wil vervolg wat nie sagteware op hulle kinders se selfone en tablette laai wat pornografie sal blokkeer nie. As jy vir jou kind ’n selfoon of iPad gee, moet jy daardie blokkers opsit, of toep oplaai sodat jy kan sien wat jou kind op die toestel doen. Dis jou verantwoordelikheid.

Hoe het die skryfproses gewerk?
Ons het saam-saam geskryf. Ek het Frankie se karakter geskryf, die mensehandelslagoffer, en
baie van my navorsingservaring daarin gebruik. Anzil het weens haar werk in kwesbare gemeenskappe weer blootstelling aan werklikhede wat sy by haar karakters gebruik het. Sy het byvoorbeeld Kirabo se karakter geskryf. In die boek is daar een van die karakters wat in die trok oor die grens gesmokkel word. Ons beskryf hoe die trokke die meisies vir die sindikate so oor die grense smokkel, want niemand weet wat agter in die toe trokke aangaan nie. Om ’n boek oor mensehandel te skryf was regtig vir my ’n gebed wat tot vervulling
gekom het.

ANZIL KULSEN
Anzil, hoe het jou en Nadine se paaie gekruis?
Ons het mekaar by die Prins Albert Leesfees ontmoet. Daarna het ek haar na Upington genooi, waar ons haar daardie paar dae baie hard laat werk het; wild en woes heen en weer gery sodat sy gehore kon inlig oor die gevare van mensehandel.

Wat het jou laat besluit om deel te neem aan die skryf van die boek?
My passie oor die onderwerp het wortelgeskiet toe ek in ’n vorige boek, ’n Hart vol Sand daaroor geskryf het. Dit is ’n jeugverhaal en ek kon net ligweg aan die mensehandeltema raak. Dit lê my na aan die hart, want in die om-gewings waarin ek werk, word die armoede en die sosio-ekenomiese omstandighede en maatskaplike probleme uitgebuit.
In my matriekjaar het ’n jongmeisie uit ons buurt weggeloop. Ons het gehoor sy het op die trokke gaan werk. Sy het swanger en HIV-positief teruggekeer. Dit het my destyds ont-stel; ek het dit in die verhaal gebruik.

Hoe lank het dit julle geneem om die boek te skryf?
Ons het verlede jaar Augustus begin en De-sember klaar gemaak. Ons het elke dag ’n duisend woorde geskryf en ons skryfwerk oor en weer vir mekaar gestuur. Ons moes presies dieselfde ruimtes beskryf; ons het foto’s en hoe die karakters moet lyk oor en weer gestuur.
Alles het deeglike beplanning geverg. Dit het ’n ou getap, want ons het ook ander werk.”

Wanneer het jy meestal geskryf?
Ek skryf vroeg in die oggend, teen nege uur in die aand stuur ek my deel vir Nadine, dan is ek klaar. Lyk vir my sy is weer ’n nagmens.

Gaan daar ’n opvolg wees?
Ek het al baie lus gehad, want ek het ’n klomp idees, maar te min tyd. Die leesprojekte in Afrikaans is ’n groot taak, maar ek sal graag Kirabo se storie wil vertel. Ek sou so maklik ’n opvolg kon doen met haar. Abby is ook een van my karakters. Wie weet … dalk is daar iets in die toekoms?


NOODNOMMERS
• As jy geteiken word – skakel die South African Human Trafficking Resource Line 0800 222 777 of naaste SAPD. Laat weet soveel as moontlik mense met ’n Whats-App waar jy is en dat iemand jou agtervolg of dat jy onveilig voel.
• As jy vermoed daar is mensehandel-aktiwiteite in jou omgewing aan die gang – skakel die South African National Human Trafficking Resource Line by 0800 222 777.
• As iemand vermis is, maar jy is nie seker of die persoon ’n mensehandel-slagoffer is nie – kontak The Pink Ladies by 072 214 7439 / 083 378 4882 of Missing Children S.A 072 647 7464 in die geval van vermiste kinders.



NOU BESKIKBAAR IN JOU NAASTE BOEKWINKEL:
bestel@bmedia.co.za | 0860 26 33 42 | @LuxVerbiBoeke | @luxverbi

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)