Deur: Gerald Ferreira

Ek kan nie vir jou sê hoeveel mense al met my gepraat het oor hulle swakhede of hoe swak hulle voel nie. Ons almal beleef dit die een of ander tyd. Daarom is dit noodsaaklik, selfs van kritieke belang, dat ons ’n diepe wete in die lewe moet hê dat God se genade genoeg is vir ons. 2 Korintiërs 12:9-10 sê dit alles: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.
Dalk voel jy dat jy nie het wat dit gaan verg om die wa deur die drif te trek of om hierdie uitdagende tye te oorleef nie, maar Sy genade is genoeg vir jou.

Hy gee ons die krag
Kyk wat sê Paulus in Filippense 4:12-13: “Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” In alle omstandighede …

Dit maak nie saak waar jy jouself nou bevind of hoe hierdie jaar vir jou afgeskop het nie. Die Here wat jy dien, kan jou groot krag gee.

Hy sal ons beskerm
“Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar” – 2 Tessalonisense 3:3. Ek wil hê jy moet dit sien. Ons kan die Here loof omdat ons hierdie vaste wete het – God is getrou. Hy sal ons versterk en Hy sal ons beskerm. Al is daar oomblikke op ons lewenspad waar ons swak voel en dat ons nie genoeg krag het nie – waar ons dít vrees wat om ons aan die gang is – kan ons verseker wees, die Here sal dié wat Hom dien, beskerm.

Hy is ons toevlug
“Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie” – Jesaja 40:29. Ek is so bly ek dien ’n God wat gewillig is om te gee, wat gewillig is om te versterk, wat gewillig is om ons by te staan, wat gewillig is om voor ons uit te gaan. Hy is ons skuilplek, ons veilige hawe. “God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie …” – Psalm 46:2-3

Hy wil ons oprig en standvastig maak
Ek hou so van wat die Bybel in 1 Petrus 5:10 sê: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.” Die Here wil jou nie in die toestand los waarin jy jouself dalk nou bevind nie. Hy is die God wat jou wil terugbring na die plek waar jy sterk en standvastig is, waar jy vol moed is, want Sy genade is volop in tye soos hierdie.

Hy wil Sy genade oor jou uitstort
“Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” – Hebreërs 4:16. As jy in ’n tyd van nood is, pleit ek by jou: Baan jou weg tot in Sy teenwoordigheid. Vind jou pad na Hom toe en bid: “Here, stort U genade oor my uit asseblief.” Hy is die Here wat jou genade wíl betoon.

Ons dien ’n God wat by ons is
Deuteronomium 31: 6-8 lui: “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.” Wees sterk, ons dien ’n God wat bý ons is. Ondanks die uitdagings wat ons omring, kan ons hierdie teksvers neem en ons eie maak.

Die Here wat vrede gee
Ek wil jou een laaste teksvers gee. 2 Tessalonisense 3:16: “Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle almal wees!” Wat is my gebed vir jou? Dat jy vrede mag hê – altyd en in alle opsigte. Die Here wat ons dien, is ’n God van genade en daardie genade openbaar homself in vrede. Mag dit ook van jou gesê word. Dat jy die God van genade ontmoet het en dat jy in die vrede van God lewe.

Hierdie is ’n preek uit ’n reeks van sewe. Skandeer die QR-kode hier onder vir die eerste preek, of besoek friendofgodchurch.com


4 Maart 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)