-deur Stephan Joubert

Party mense kaap die Bybel. Hulle soek eintlik net antwoorde vir hulle eie vrae en behoeftes in die Woord en ignoreer die res. Slegs daardie tekste wat vir hulle ‘werk’, of wat hulle ‘aanspreek’, kry aandag. Hulle staan slegs op God se beloftes, maar vergeet al die ander verse tussenin. Die uiteinde is dat hulle God tot ‘n onpersoonlike Hemelse diensverskaffer verskraal wat heeltyd Sy beloftes aan hulle gestand moet doen. Sulke Bybelverbruikers (of is dit eerder misbruikers?) noem dít wat hulle met die Bybel doen ‘geloof’, maar dit is niks anders as behoeftegedrewe oefeninge om by God te probeer kry wat hulle graag wil hê nie.

Kortpadteksversies
Kortpaaie na God se wil toe is nie aldag goeie paaie nie. Ek praat van kortpaaie soos om God verantwoordelik te hou aan een of ander Bybelteks wat jy gekry het én wat dan alle verdere gesprek of nadenke oorbodig maak. Eenkeer het ek in aanraking gekom met iemand wat ‘n vreemde saketransaksie met die opmerking geregverdig het dat hy Skrif daarvoor gekry het. Toe loop die transaksie skeef en hy wonder diklip hoekom God hom in die steek gelaat het. Ek moes padlangs vir hom sê dit is nie God nie, maar sy eie swak omgang met die Bybel wat die probleem is: “Jy het jou besluit geskoei op een Bybelversie wat jy verkeerd verstaan het. Die Skrif is ’n volle 66 boeke lank, maar jy het God se stem tot ’n ‘one-liner’ gereduseer wat jou van al jou verantwoordelikheid onthef het.”

Hanteer die Skrif met eerbied
God weier om gebonde te wees aan ons slordige omgang met Sy Woord. Die verantwoordelikheid rus volledig op ons skouers om dit versigtig en met eerbied te hanteer. Die Bybel is nie ’n ‘Groot Verseboek’ met duisende losstaande versies wat ons na willekeur kan uitpluk soos dit ons pas nie. In elk geval het die oorspronklike skrywers van die Bybel nie eens verse of hoofstukke gebruik nie. Het jy geweet dat die hoofstukindelings van die Woord, soos ons dit vandag gebruik, eers in die 13de eeu deur Stephen Langton gedoen is? Tans dateer ons vers-indelings uit 1551 toe Robert Stephanus die Bybel be-vers het om dit meer lesersvriendelik te maak.

Lees die hele Bybelboek
God praat opeenvolgend in verse, hoofstukke, boeke en in twee Testamente. Om Hom reg te hoor, moet ons die Bybel lees soos Hy dit oorspronklik geïnspireer het. Ons moet by die begin van elke Bybelboek begin en aan die einde daarvan eindig! Die Gees het byvoorbeeld nie vir Paulus gelei om by Galasiërs 3:3-8 te begin skryf; toe weer 1:12-15; toe 4:1, ensovoort, nie. Nee, Paulus het sy Galasiërbrief van die begin tot einde klaar geskryf, of in ons taal, vanaf hoofstuk 1:1 tot hoofstuk 6:18. Ons moet dit ook so lees, anders gaan ons nie mooi verstaan hoekom God hierdie brief vir ons in die Bybel geplaas het nie.

Begryp wat God kommunikeer
Net so moet ons Numeri van hoofstuk 1-36 lees; Handelinge van hoof-stuk 1-28; Openbaring van hoofstuk 1-22, ensovoorts. Eers wanneer ons bepaalde Bybelboeke deurgelees het en begryp wat God deur hulle wil kommunikeer, kan ons rond en bont lees, nooit andersom nie!

Geestelike wanvoeding
Om God reg te hoor, verg studie en harde werk. Die Bybel sê gereeld ons moet God se Woord dag en nag oordink (bv. Jos 1; Ps 1). Luister goed, ons moet dit nie slegs lees nie, maar oordink. Bybelstudie is harde werk. Ons moet die Woord eet soos ’n Esegiël en ’n Johannes (Op 10). Dit moet ’n integrale deel van ons geestelike metabolisme word. Om ’n kits-geestelike dieet te volg en nie God se Woord reg te bestudeer nie, is gelyk aan geestelike wanvoeding.

Bestudeer dit
Die Bybel is God se Woord. Dit is Sy amptelike outobiografie, Sy reisverhaal met Sy volk deur die eeue, en Sy padkaart vir die toekoms. Die Bybel is die enigste boek waarvan die Outeur altyd by ons aanwesig is. In die hande van die Gees is die Bybel ’n lewensveranderende swaard én ’n Hemelse sakdoek. Ons het ’n dure verantwoordelikheid om dit te bestudeer en reg te hanteer. Onlangs, toe ’n tannie vir my sê: “Ek staan op die Bybel,” het ek vriendelik geantwoord: “Klim dadelik af en lees dit!” Nou toe, kom ons gaan doen dit!


PROF STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk, ’n professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Noordwes en Radboud Universiteit te Nijmegen. Vir meer inligting: www.ekerk.org, of info@ekerk.org

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsluitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)