—deur Herman de Kock

In Handelinge 17:11 lees ons die gelowiges in Berea het aandagtig na Paulus se prediking geluister. Hulle het daarna alles wat hy gesê het in die Skrifte gaan ondersoek, om te sien of wat hy gesê het korrek is. Hierdie gemeente leer ons twee belangrike dinge: Eerstens, dat hulle die Skrifte (die Ou Testament) as die gesag beskou het en tweedens, dat hulle ’n liefde vir die Woord van God gehad het. Om die Bybel elke dag te lees, kan net uit ’n begeerte en liefde kom om naby aan God te wees.

Geloofstroom se vertrekpunt is die Bybel. Ons erken en bely die Bybel as die Heilige Gees-geïnspireerde Woord van God, geskryf deur feilbare mense, maar onfeilbaar in Sy verskyning as ink op papier. Dit is ons doel om kinders (en hul ouers) die gewoonte aan te leer wat die gelowiges in Berea ons bied.

Is dit haalbaar en Bybels om hierdie doel na te streef m.b.t. kinderbediening? Beslis. Handelinge 16 en 2 Timoteus 1 en 3 vertel, byvoorbeeld, van Timoteus wat as kind, deur sy ma (Eunice) en sy ouma (Loïs) se invloed en lering, aan die Evangelie blootgestel is. Spreuke 22:6 moedig ons aan om kinders vroeg reeds reg te leer lewe. Jesus leer ook uitdruklik oor kinders in Matteus 18 en Markus 10.

Ons kan met lof tot die Here getuig hoe die Gees in kinders se harte werk. Ons sien, byvoorbeeld, hoe Hy werk wanneer ’n graad R-kind daarop aandring om sy eie Bybel na die byeenkomste te bring en respek te toon vir ’n heilige boek waaraan hy kan vat en kan deurblaai.

Beskou jy en jou huisgesin die Bybel as die onfeilbare Woord van God? Rig julle jul lewens daarvolgens in? Ons gebed is dat julle ook die twee kenmerke van die Berea gelowiges tot eer van God sal kweek.

HERMAN DE KOCK is ’n deeltydse, vrywillige prediker. Hy is die hoof van die interkerklike jeugbediening, Geloofstroom. Kontak Geloofstroom gerus via e-pos info@geloofstroom.org of op Facebook of Instagram vir navrae. www.geloofstroom.org


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)