—deur Lourieke Haller

Johan Stemmet en Noot vir Noot is so eie aan Afrikaans soos biltong en beskuit. Hy het al elf verskillende toekennings (drie vir Noot vir Noot as Beste Speletjieprogram) ontvang. Onder meer is hy ook bekroon met die SABC Golden Plume-toekenning (2006) vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse televisiebedryf oor 30 jaar heen. Hy het ook die 2018 SAFTA- toekenning vir lewenslange bydrae tot die televisiebedryf ontvang. Tog beskou dié gewilde sanger en televisie-persoonlikheid homself glad nie as ’n “ster” nie; hy is werklik nederig en plat op die aarde.

V Johan, jy ís een van die “groot name” in Suid-Afrika se vermaaklikheidsbedryf, tog bly jou voete vas op die aarde. Wat anker jou?
Waar moet jou voete dan nou anders wees? (Terg hy.) God het ons as gewone mense op hierdie aarde geplaas. Die enigste verskil tussen ander mense en ouens soos ek, wat op televisie werk, is dat meer mense my sién werk. Dit maak my niks besonders nie. Mense wat entstowwe ontwikkel – dít is nou belangrike mense!

Johan het verlede jaar ná 700 episodes as aanbieder van Noot vir Noot uitgetree, maar hy is steeds agter die skerms bedrywig as programvervaardiger en regisseur.

 

V Het jy as kind daar op Kleinsee, ’n myndorpie aan die Weskus, gedroom daarvan om beroemd te wees, of is jou lewe voor die kameras bloot die pad wat die lewe jou geneem het?
Ek glo dat jou paadjie vir jou uitgelê is. Die Here het ’n pad vir ons elkeen, ons taak is net om te sorg dat ons nie van daardie pad afdwaal nie. Ons het gelukkig darem Sy hulp. Ek het van kleins af musiek gemaak en natuurlik het ’n mens as musikant maar daardie droom om voor groot skares op te tree. Ek het ook so gedroom daar op Kleinsee.

V Is dié liefde vir musiek in jou bloed?
Jong, my ma het ’n bietjie gesing, maar ek sou haar nie as ’n groot musikant beskryf nie. Ek het altyd die begeerte gehad om musiek te maak. Toe ek klein was, het ek na die ou 78-spoed-plate gelê en luister en lustig saamgesing. Ek het die kans aangegryp om klavier te leer speel. Toe ek as elfjarige genooi is om in die dansorkes te speel, was dit vir my ’n groot oomblik om by ’n dans op Kleinsee voor al 60 mense te kon speel! Ek het aan kunswedstryde deelgeneem, in kore gesing en later op universiteit met my eie eenmanorkes by Devon Valley en privaatfunksies in Stellenbosch opgetree om vir my studies te betaal. Musiek was maar oral ingeweef en my pad het op die ou end geloop soos wat hy moes loop.

Johan met sy 2018 Safta-toekenning vir lewenslange bydrae tot die televisiebedryf.

V Daar moet ’n avontuurlustige streek ook in jou wees, want jy vlieg girokopters en het jou seiljagskipperlisensie in 2010 verwerf.
Dit is eintlik meer belangstelling. As ek in iets belangstel – en dit is seker maar ’n swakheid in my persoonlikheid – vat ek hom al die pad tot by sy uiteinde. As ek ’n ding begin, los ek hom nie. Ek het nou onlangs ’n passie vir die bou van kitare ontwikkel. Ek is besig met my vierde kitaar en dit is verskriklik lekker. Ek sal so aangaan tot ek ’n kitaar gebou het wat net soos een in die winkel lyk.

V Was daar al ooit iets in jou lewe wat jy gevoel het te groot is vir jou om aan te pak?
Ek is verskriklik lief vir motors, veral ou motors. Ek het ’n motortjie, ’n 1980 Mercedes-Benz met ’n afslaankap, wat nou 40 jaar oud is. Een van my groot drome is om ’n ou motor te restoureer, maar dít sal ek liewer nooit eers aanpak nie, want ek sal dit nie kan klaar maak nie. Daar bly ek dus liewer weg.

Johan het ook ‘n liefde vir die see en seil en het sy seiljagskipperslisensie in 2010 verwerf.

V Jy en Colleen is nou ook 40 jaar getroud. Hoe het julle ontmoet?
Sy was een van die eerste dames wat by die Hoër Seunskool Rondebosch in Kaapstad aangestel is. Sy was die wiskunde-onderwyseres. Al die onderwysers het natuurlik by haar aangelê toe sy daar aankom, maar ek het gelukkig haar oog gevang. Ek en sy het seker vir ’n maand uitgegaan voordat ek uit die onderwys bedank het en in Johannesburg by die SAUK as die ligtemusiek-regisseur aangestel is. Ons het mekaar baie gebel – soms nog met ’n tiekieboks, want daar was mos nie selfone nie. En daarna het ek haar twee keer gesien voor ons getroud is: Eenkeer vir ’n naweek, toe ons verloof geraak het en toe weer ’n paar dae net voor ons getrou het. Altesaam het ek ons mekaar seker vyf weke gesien voordat ons getroud is!

V Wat is julle twee se geheim vir so ’n gelukkige, lang huwelik?
Ons het seker gemaak ons elkeen het plek in die huwelik. Colleen is ’n beroepsvrou. Sy was jare lank die skoolhoof by Roosevelt Hoërskool in Johannesburg. Sy het haar eie loopbaan en beroep gehad en ek myne. Ek kon verstaan wat sy doen, want ek was mos ook ’n onderwyser gewees. Sy het op haar beurt ook begrip vir my wêreld. Ons het mekaar ruimte gegee om te ontwikkel sodat ons paadjies parallel, maar tog saam loop. Dit het vir ons gewerk.

Johan is ’n vliegentoesias. Hy vlieg enkel- asook dubbel-motorige vliegtuie, asook girokopters.

 

V Jy is die pa van twee volwasse seuns, Carl en Etienne. Wat is die beste ding wat jy as ouer vir jou seuns kon doen?
Daar is nie ’n patroon wat ’n mens kan sê almal moet volg nie. Almal het verskillende persoonlikhede. Selfs jou eie kinders kan jy nie oor dieselfde kam skeer nie. Die sleutel is om baie liefde aan jou kinders te bewys. En natuurlik, as die Here daar is, sal jy weet wat die regte ding is vir jóú kinders, want daar is nie een resep nie. Daar moet ook ruimte wees vir jou kinders, net soos in jou huwelik, om elkeen volgens sy eie paadjie te ontwikkel. Jy kan so maklik die wêreld vir jou kinders laat krimp omdat jy alles vir hulle wil doen. Die verkeerdste ding wat ’n ouer kan doen, is om sy kinders te dwing om iets of iemand te wees wat die ouer wil hê. Jy kan leiding gee, maar jy kan nie jou kinders se lewens vir hulle leef nie.

V Jy voel baie sterk hieroor, want jy het in hierdie trant vir jou seun(s) ’n liedjie geskryf?
Ja, ek het “Pa se grootman” geskryf. Een van die verse lui:”

Grootman, Pa se Grootman
hierdie pad is gekerf net vir jou,
om jou spoor te pas.
Jy moet hom alleen loop,
want as ek saam deur jou lewe wil gaan,
word my hulp net ’n las.

As my pa, byvoorbeeld, vir my gesê het ek moet die musiek los en liewer doen wat hy ingedagte het vir my, sou ek nooit ontwikkel het om die mens te word, wat ek vandag is nie. My oudste seun is 11 jaar lank al saam met my in die bedryf, maar ek het nooit druk op hom uitgeoefen om by die televisiebedryf betrokke te raak nie. Dit was iets waarin hy self belanggestel het. Hy het sy eie pad geloop.

V Hoe het jy die Here leer ken?
Ek het grootgeword met God as deel van ons huisgesin se lewe, met huisgodsdiens en Sondagskool. Hy was van kindsbeen af deel van my lewe. Ek sou eerder sê ek het die Here wéér of beter leer ken. Jy weet, ’n mens het mos daardie ervaring by die ACSV (Afrikaanse Christen Studentevereniging). Ek het as student op Stellenbosch ook so ’n verdieping in my verhouding met die Here ervaar. Ons het as deel van die Christen Studente Sendingbeweging vir plaaswerkers op die plase gaan dienste hou en evangelisasiewerk gedoen.

V Was daar ’n oomblik waarvan jy ons kan vertel waar God jou deur ’n baie moeilike tyd gedra het?
Sjoe, daar was baie sulke tye! In ’n loopbaan beleef ’n mens mos maar moeilike tye. Daar was een in 1984. Dit was net na Carl, ons eersteling, se geboorte. Die SAUK moes weens ’n rasionaliseringbeleid sy personeel “uitdun”. Hulle het my ingeroep en ingelig dat hulle my sal moet laat gaan. Dit was baie swaar vir my – dit was dieselfde jaar toe ek vir ’n Artes-toekenning genomineer is. Ek kon nie verstaan hoekom ek dan moet gaan as ander ouens, wat korter as ek by die SAUK gewerk het, kon aanbly nie! Ek moes my krag by die Here kry en net glo dat Hy alles in die lewe gebruik en dit ten goede te laat uitwerk. Twee dae later is ek toe heraangestel in ’n beter pos! Daar was baie, baie sulke geleenthede in my lewe. God sê mos: “My genade is genoeg vir jou,” en dit is.

V Ons staar swaar ekonomiese tye in die gesig. As ’n suksesvolle sakeman, watter raad het jy vir entrepreneurs en sakemanne wat harde klippe kou?
Weet jy, daar is so baie gesegdes oor entrepreneurskap, byvoorbeeld: “Jy moet net in jouself glo.” Maar dis waar! Want as jy nie glo in dít wat jy aanpak nie, as jy begin met ’n twyfel in jouself, sál jy nie sukses behaal nie. Tweedens moet jy weet – op jou eie is jy nie tot baie in staat nie, maar met God aan jou sy, is jy tot álles in staat. Glo in jouself, en plaas jou geloof in God, wat jou sal help en bystaan. Dit gaan alles maar eintlik om geloof. Dink net wat sê die Bybel kan jy met geloof vermag – jy kan berge versit.


Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie
Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)