-deur Nico Bougas

Jay Jay Eras was ’n begaafde jong man met ’n blink toekoms, behalwe dat hy besig was om die verkeerde rigting in te slaan. Tensy daar ’n dramatiese verandering in sy lewe plaasvind, sou hy aan die verkeerde kant van die wet beland en vir die res van sy lewe agter tralies deurbring.

Blink toekoms voorspel
Hy was die enigste kind van welgestelde ouers wat toegewyde Christene was en versot op hulle seun – Jay-Jay het niks kortgekom nie. Hy was onderhoofseun, het akademies presteer en was ’n begaafde rugbyspeler. In 1994 is hy is na die Randse Afrikaanse Universiteit om onderwys te studeer. Daar was hy die kaptein van die onder 19-Gauteng Leeusrugbyspan wat deur Jake White afgerig is, die man wat uiteindelik die Springbokke na Wêreldbekerglorie sou neem. White het ’n blink toekoms vir hierdie jong man voorspel.

Reis na ’n verre land
Jay Jay het egter van die veelbelowende pad afgewyk. Soos die verlore seun in die Bybel het hy homself in ’n ‘verre land’ bevind waar drinke-ry, die een verhouding na die ander, en niks-werd vriende sy lewenswyse geword het. Hy het dobbelary ontdek, ’n aggressiewe neiging ontwikkel en gedurig rusie op kampus uitgelok. Hy het sy ouers gehaat en hulle besteel om sy groeiende dobbelgewoonte te bekostig. Dit het die universiteit nie lank geneem om hom uit die koshuis te skors nie en hy is van ’n rugbytoer af huis toe gestuur weens swak dissi-pline. Toe het hy sy studie opgeskop. Hy was op ’n steil afdraand met ’n tragiese verkwisting van groot potensiaal.

Ontmoeting in ’n nagklub
Jay Jay se pa het egter nie moed opgegee nie. Altyd hoopvol dat hy sy seun kon bereik, het hy gulhartig vir hom werk aangebied. Dit het egter nie uitgewerk nie omdat die twee net nie oor die weg kon kom nie. Jay Jay het toe sy eie sakebedryf begin. ’n Paar jaar later het hy Jacinta by ’n nagklub ontmoet, pas terug op haar voete na ’n kort huwelik en egskeiding. Sy is jonk getroud en het uit ’n streng Portugees-Katolieke agtergrond gekom. Jacinta kon egter nie ’n eggenoot hanteer wat meer in pornografie as in haar belangstel nie.

Huwelik en nuwe geleenthede
Jay Jay en Jacinta is in 1998 getroud. Dinge het nie goed begin nie. Sy was ontsteld toe hy in ’n geveg betrokke raak tydens sy rampartytjie en verpletter toe hy nie vir die troue se repetisie opgedaag het nie. Jay Jay was sjarmant en ’n deurtrapte leuenaar wat ’n dubbele lewe geleef het. Hy was nie van plan om sy dobbelary en ’n partytjie by Teazers vir ’n repetisie kort te knip nie. Daar het nog meer verwerping vir Jacinta voorgelê toe Jay Jay op hulle wittebrood meer in visvang as in haar belanggestel het.

’n Verskriklike verhouding
As ’n trougeskenk het Jay Jay se pa vir die paartjie betaal om ’n jaar oorsee te toer en mekaar beter te leer ken. Dit was egter ’n onplesie-rige mislukking en as Jacinta nie swanger ge-raak het met hulle eerste kind, Tristan, nie, sou hulle mekaar verlaat het.
Terug by die huis het Jay Jay se pa, altyd die vrygewige optimis, hulle ’n huis, ’n motor en sy sakebedryf gegee. “Op 23 het ons niks kortgekom nie,” sê Jay Jay, “maar ons het ’n verskriklike verhouding gehad. Geen passie nie, geen vreugde nie. Ons het mekaar verdra, maar het mekaar verbaal en emosioneel mishandel.” Jay Jay het sy repertoire versla-wings uitgebrei na pornografie.

Nagklub en dwelms
Die ergste het nog voorgelê. Hulle het ’n tweede bedryf begin – ’n nagklub. Twee mans het die klub besoek en aangebied om dwelms binne die klub te verkoop waarvan Jay Jay ’n gedeelte van die profyt sou ontvang. Jay Jay wou egter nie bloed op sy hande hê nie, maar sy woorde was skaars koud toe sy bedryf vinnig agteruit begin gaan het. Twee weke later was die twee terug en toe sê hy: “Kom ons praat.”

Pistool teen sy kop
Jay Jay het homself nou te midde van die beskermingswendelary en uitsmyters se gebiedsoorloë bevind wat in Johannesburg gewoed het. “Jy kan nie in daardie bedrywe betrokke wees en skoon wees nie. Mense dink dat nagklubs oor Jan Alleman gaan wat uitgaan vir ’n lekker ‘jol’. Dit is nie die geval nie. Dit is ’n bendeleefstyl waar slegs die sterkste oorleef. Jy dink dat jy die eienaar van die nagklub is, maar jy is nie.”
Deur eksperimentering met die dwelms in sy klub was Jay Jay spoedig verslaaf. Sy eerste sakebedryf het hieronder gely. Hy het dwelmtransaksies gereël en gevaarlike vyande gemaak. Een aand het ’n mededingende klub se ‘sekuriteit’ kom kuier: “Hulle het ’n 9 mm teen my kop gedruk en gesê as ek nie my doen en late verander nie, gaan hulle my uitsorteer.”

Van ’n laagtepunt op pad terug na hoop en herstel
Ses maande swanger met Joshua, het Jacinta saam met Tristan na haar swaer toe ge-vlug. Sy het geweet dat hulle alles verloor het – die banke het haar gebel omdat hulle nie vir Jay Jay in die hande kon kry nie. Skuld het opgehoop.
“Ek was uiters seergemaak en het gevoel dat dit my skuld is, “ sê Jacinta. “ Toe het my skoonma my na Maranatha Kerk in Kempton Park geneem, wetend dat die Gees met my op so ’n laagtepunt in my lewe sou praat. Dit was die dag toe ek my lewe aan die Here oorgegee het.”

Gebed vir Jay Jay
Jacinta en haar skoonouers het vir Jay Jay gebid om tot sy sinne te kom en ’n vader vir sy seuns te wees. Aanvanklik het dit gelyk of dinge net vererger. Tydens een kuier het Jacinta ’n rol banknote en sakke kokaïne in sy motor gevind. “Gedurende daardie tyd,” sê Jay Jay, “het ons in die motor gewag vir ’n kokaïnebestelling toe ek my sakevennoot vra: ‘Dink jy nie wat ons doen, is verkeerd in die oë van die Here nie?’ Hy het ’n mes uitgepluk en teen my keel gehou en gesnou: ‘As jou ooit weer daaroor met my praat, sny ek jou keel af.’
“Toe ons terugry, het ek gewonder waar hierdie vraag vandaan gekom het. Waarom sou ek skielik aan so iets dink? Ek het nooit oor God gedink nie…waar het die woorde vandaan gekom?” In retrospeksie sê Jay Jay dit was gebed wat hom uit die slymerige put na God se liefde getrek het. Wanneer hy vir sy gesin gaan kuier en hulle op ’n afstand dopgehou het, kon hy die liefde en innigheid wat hulle deel, waarneem en het daarna gehunker. Op ’n dag het hy net genoeg gehad. Hy het na sy ouers toe gegaan en gesê hy is klaar. Hulle het dít al voorheen gehoor, maar hierdie keer het hulle aangevoel dat hy dit bedoel.

Beantwoord drie vrae
Sy ma het haar pastoor, Mac Adaimi, genooi om met Jay Jay te kom praat. “Ek wou nie regtig iets van God weet nie omdat ek Christene as skynheilig beskou het. Maar, toe sê ek vir hom spottenderwys, as hy drie vrae uit die Bybel kan antwoord, sal ek my lewe vir Jesus gee.”
Die eerste vraag was oor die teenstrydigheid daarvan om na die ewebeeld van God geskape te wees wanneer wetenskap daarop aanspraak maak dat ons van ape ontwikkel het. Die tweede vraag was oor Dinosourusse en of die Bybel erken dat hulle bestaan het. Die derde, of dwelms verkeerd was – Bybels gesproke.

God het geantwoord
Pastoor Mac het Jay Jay deur die skeppingsverhaal in Genesis geneem. Hy het hom op die bestaan van dinosourusse in die boek Job gewys en verduidelik hoe die Woord dwelms aan towery gelykstel.
“Die Woord was onbetwisbaar en het die waarheid gespreek. Ek kon nie met nog ’n argument vorendag kom, of nog ’n vraag vind nie. Daar was ’n outoriteit en ek moes gehoorsaam. God het my stilgemaak en geantwoord. Ek het begin huil en alles aan my ouers bely – die diefstal, die haat en die leuens. Pastoor Mac het my gevra of ek my lewe aan Jesus wou gee, ek het “ja” gesê! Die pastoor het my in ’n eenvoudige gebed begelei. Ek het drie dae lank gehuil en weke lank gerou, maar ek is skoongewas deur die bloed van Christus; vry van skuldgevoelens, pornografie, dwelms, dobbel en diefstal. Binne ’n paar uur was ek skoon en verlos, sonder enige onttrekkingsimptome.”

’n Nuwe lewe
Soos almal, moes Jay Jay versoeking weerstaan. Hy en Jacinta het huweliksberading en dissipelskapskoling ontvang. God het dit vir hom moontlik gemaak om sy laaste skulde aan ou sakekennisse af te betaal en sy rug op die onderwêreld te keer. Hy kon selfs teenoor vorige kollegas getuig dat Jesus hom gered het: “Dit was die laaste keer dat ek enigiets met daardie ouens te doen gehad het. Die getrouheid van God en die krag van Sy hand het ons bewaar van ’n kaping, gewa-pende roof en ons oudste seun van die dood gered.”

Deel die lig
Die afgelope tien jaar het hierdie inspirerende paartjie dit wat hulle vrylik van God ontvang het, met skole, kerke, jeuggroepe, ouers en rehabilitasiesentrums gedeel. Nadat Jay Jay as ’n pastoor by die lewendige New Day Church aan die Oos-Rand gedien het, het hy en Jacinta nou ’n nuwe uitdaging aangepak om ’n nuwe gemeente van Shofar Christen Kerk in die noordelike voorstede van Kaapstad te lei. Hulle het uit duisternis na Christus se wonderlike lig gekom en is vasberade om daardie lig te deel waar hulle ook al gaan.


Nico Bougas: nico@bougas.info

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)