“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit … Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie … julle [moet] ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.” – Matteus 24:36-44

Met die eerste oogopslag lyk dit asof hierdie Skrifgedeelte ’n duidelike antwoord op die vraag verskaf: Nee, niemand kan weet wanneer Jesus sal terugkom nie. Tog sê hierdie verse egter nie dat niemand ooit sal weet wanneer Jesus sal terugkeer nie. Die meeste Bybelgeleerdes is dit eens dat Jesus, wat nou verheerlik is in die Hemel, weet wanneer Hy sal terugkom. Die frase, “en ook nie die Seun nie”, beteken nie dat Jesus nooit sou weet wanneer Hy gaan terugkeer nie. Dit is dus ook moontlik dat hoewel die Skrifgedeelte in Matteus aandui dat niemand op daardie tydstip geweet het wanneer Jesus gaan terugkeer nie, God dit wel in die toekoms aan iemand kan openbaar.

Dit is nie vir ons om te weet nie
Handelinge 1:7 sê egter: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.” Jesus het dit gesê nadat die dissipels Hom gevra het of Hy in daardie stadium die koninkryk van Israel gaan herstel. Dit lyk asof dit die boodskap van Matteus 24 bevestig – dat dit nie vir ons is om te weet wanneer Jesus se terugkoms sal wees nie.

Watter terugkoms: Die wegraping of die wederkoms?
Maar daar is ook die vraag na watter terugkoms hierdie gedeeltes verwys. Praat hulle van die wegraping of die wederkoms? Wanneer watter terugkoms sal gebeur, is vir ons duister – die wegraping, die wederkoms of al twee? Hoewel voorgehou word dat die wegraping op hande is, kan ons potensieel weet wanneer die wederkoms min of meer sal wees op grond van die profesieë oor die eindtyd.

God sal dit nooit aan die mens openbaar nie
Laat ons dit egter nou net duidelik stel: Ons glo nie dat God aan enigiemand geopenbaar het wanneer Jesus gaan terugkeer nie en ons sien niks in die Skrif wat aandui dat God dit ooit aan iemand sal openbaar wanneer Jesus gaan terugkom nie. Hoewel die Skrifgedeelte in Matteus 24 Jesus se woorde vir die mense van Sy tyd is, bevat dit ook ’n algemene beginsel. Die tydsberekening van Jesus se terugkoms en die einde van die era is nie vir ons om te weet nie.

Ons moet eerder waaksaam en gereed wees
Die Skrif moedig ons nêrens aan om die datum te probeer bepaal nie. Ons moet eerder “waak, want ons weet nie op watter dag ons Here sal kom nie” (v.42). Ons moet “gereed wees, want die Seun van die mens sal kom op ’n uur wanneer ons Hom nie verwag nie” (v.44). Die krag van Jesus se woorde sal verflou as iemand in ’n stadium in die toekoms sou kon bepaal wanneer Hy terugkom. As die datum bepaal kon word, sou ons mos nie meer waaksaam of gereed hoef te wees nie. Dus, met die beginsel van Matteus 24:36-44 in gedagte – nee, dit is vir niemand moontlik om te weet wat die datum is wanneer Jesus sal terugkeer nie.

Misleiding deur die eeue
Ondanks hierdie duidelike Bybelse beginsel, was daar deurgaans in die Christelike geskiedenis mense wat gepoog het om te profeteer wat die datum gaan wees waarop Jesus sal terugkom. Baie sulke datums is al voorgestel en elkeen van hulle was verkeerd. Die meeste mense, indien nie almal nie, wat spesifieke datums vir Jesus se wederkoms voorspel het, het ook twyfelagtige, onbybelse leerstellings oor ander aangeleenthede gehad. Gegrond op Matteus 24 en Handelinge 1:7 is dit nie God se wil dat ons die dag moet probeer bereken waarop Jesus sal terugkom nie. Enigiemand wat so ’n taak aanpak, is mislei.

Lewe elke dag asof dit vandag Sy wederkoms gaan wees
Die belangrikste punte van die Skrifgedeeltes is: Die Bybel moedig ons nêrens aan om die tyd van Jesus se terugkoms te probeer bepaal nie en dit gee geen glashelder gegewens waarvolgens die tyd van Jesus se terugkoms bepaal kan word nie.

Die Bybel moedig ons aan om “waaksaam” en “gereed” te wees In plaas daarvan om wilde en spekulatiewe berekeninge te doen om vas te stel wanneer Jesus sal terugkom. Die feit dat die dag van Jesus se terugkoms onbekend is, moet ons motiveer om elke dag te lewe in die lig van die naderende koms van Christus.

GOT QUESTIONS bied Bybelse antwoorde op moeilike vrae. Vir meer inligting: gotquestions.org


9 April 2021

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)