Deur: Lourieke Haller

Hykie Berg is ’n bekende op ons televisieskerms, ’n motiveringspreker en entrepreneur. Sy eerste boek, Hykie Berg – My storie van Hoop, oor sy worsteling met verslawing en sy uiteindelike herstel, was ’n topverkoper. Dit is slegs uitgestof deur Jacques Pauw se The President’s Keepers – nogal ’n pluimpie vir ’n Afrikaanse, Christelike boek! Hykie en sy vrou Gerridene, is ook gesoute sakelui in die direkte bemarkingsveld met besigheidsmense in meer as 26 lande. Maar maak jy ’n draai op Hykie se Facebook-blad of op sy Instagram-profiel, is dit duidelik dat hy onbeskaamd “radikaal vir Jesus” is. Hy is baie gewild op sosiale media, vermoedelik omdat hy omstrede onderwerpe kaalvuis takel, maar beslis ook omdat hy mense so lekker laat lag terwyl hy sy punt maak.

HUWELIK
Jy en Gerridene is in Maart getroud. Wat het jou na haar toe aangetrek?
Sy was vir my verskriklik aantreklik. Ek het die Here gevra vir ’n vrou wat vir Jesus meer liefhet as vir my. En toe ontmoet ek vir Gerridine. Ons het begin koffiedrink en kuier en ek het verlief geraak op haar liefde vir God – maar hoor hier – ek het ook verlief geraak op haar skoonheid, want sy is darem maar baie mooi!

Wat doen Gerridine?
Sy is ’n prokureur, maar ook ’n gespesialiseerde nutritionist (voedingkundige). Sy het haar eie besigheid, GDV Health and Fitness en sy stap ’n pad met vroue wat gewig wil verloor en / of gesond en fiks wil wees. Sy help hulle om van binne na buite te verander en hanteer dinge soos selfbeeld, ens.

Hykie, een so ’n getuienis was die vergelyking wat jy getref het tussen jou en julle hond. Vertel ons van Rori.
Rori is ons special needs hond. Ons het hom by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gekry. Hy ly aan verskeie versteurings en ons glo hy is ’n bietjie obessief-kompulsief. Hy was op antidepressante. Ek was soos dié ou hondjie. Ek was ook met alles onder die son gediagnoseer en op al die medikasie wat jy aan kan dink. Nou, ná ses jaar, het Rori kalmeer. Dit is wat liefde gedoen het. Kyk net hoe rustig sit hy by my, want hy weet sy pappa sal hom altyd oppas. Ek weet vir ’n feit hy voel veilig hier by ons – al is hy nog so ’n bietjie getik. Ek weet dit is hoe baie mense daar buite is – nie getik nie – hulle is gebroke. Maar as hulle gewillig is om hul harte vir die Here oop te maak, verander Hy alles. Rori worry nie meer nie. Hy weet sy pa is daar. Ek het my hele lewe lank geworry, maar nou weet ek, my Pa is daar.

Jy het baie ysters in die vuur. Waarmee is jy tans doenig?
Een van die konstante dinge in my lewe is die vermaaklikheidswêreld. Ek is die afgelope 20 jaar al daarby betrokke. Ons het onlangs weer begin om die volgende episodes van Binnelanders op te neem, waar ek die rol van dr. Bester vertolk.

Hoe leef jy jou Christenskap in die vermaaklikheidswêreld uit?
Almal weet ek is radical. Ek was eers ’n radikale antichris, ’n kind van die donker, maar toe ek die Here vind, raak ek radikaal vir Jesus. Ek glo ek moet mense net liefhê; die Heilige Gees sal die oortuigingswerk doen. Wanneer die tyd kom en ’n ou vra jou, kan jy begin deel. Mense wil Christus sien en die liefde voel; hulle wil dit nie hoor nie. Die gemiddelde Christen het ná drie jaar nie meer een ongeredde vriend oor nie. Ons moet kompos wees, eerder as om so nutteloos soos honde-mis in die son te lê en wit word.

Tree jy nog op as gasspreker?
Ja! Die Here het vir my deure oopgemaak om in die korporatiewe omgewing en by geleenthede as spreker op te tree. Ek praat onder meer oor leierskap, entrepreneurskap en jou lewensdoel. Dit het in ’n aparte loopbaan ontwikkel. Ek glo vas die Here het my meer talent dáárvoor gegee as om voor die kameras te staan.

BESIGHEID
Waar kom die goeie neus vir besigheid vandaan?
Nadat ek Survivor Maldives in 2011 gewen het, het ek vir Wouter Snyman ontmoet. Hy is die CEO van Attooh!, ’n finansiële diensverskaffer. Hy het my onder sy vlerk geneem en ’n mentor vir my geword. Hy was die katalisator om my terug te neem na die grondslag van entrepreneurskap. Gedurende daardie proses het ek so vyf jaar gelede in die gig-ekonomie betrokke geraak.

Wat is die gig-ekonomie?
Die gig-ekonomie is waarheen die wêreld besig is om te beweeg. Dit gee Jan Alleman die kans om ’n mikro-entrepreneur te wees. Airbnb, Uber en om byvoorbeeld ’n herverkoper vir Amazon te wees, is voorbeelde van gig-besighede. As jy op ’n produk klik om dit aanlyn te koop, is dit waarskynlik dat ’n Amazon-reseller (herverkoper) ’n rol gespeel het. Daar is 2,5 miljoen Amazon-herverkopers en 90% van die kere wat jy op iets klik om dit te koop, kry ’n herverkoper ’n persentasie van daardie geld. Lees gerus John Fleming se The UItimate Gig Opportunity Book. Hy is die meester wat oor al die gig-geleenthede praat. Dit is eenvoudig en maklik om daarby betrokke te raak, maar die beste geleentheid is direkte verspreiding van produkte.

Hoekom is dit die beste geleentheid?
Dit is maklik, want al die werk is reeds vir jou gedoen. Jy vat bloot hande met ’n gevestigde maatskappy waar die hele sisteem reeds opgestel is. Jy help net die besigheid om hulle produk of dienste by kliënte uit te kry. Die lekkerte van direkte verspreiding is dat jy dit deeltyds kan doen en passiewe inkomste kan opbou. As jy nie vandag ’n aanlynbesigheid – wat jy van die huis af kan bedryf – ondersoek nie, is jy onverantwoordelik. Die wêreld het verander.

Het jy praktiese wenke vir ons?
Daar is ’n paar goed waarna jy moet oplet as jy by direkte verspreiding betrokke wil raak. Is die maatskappy geregistreer by die Direct Selling Assosiation? As dit nie is nie, hardloop weg! Is die produkte gewaarborg? Is daar goeie wetenskap betrokke by die produkte, nie pseudowetenskap nie? Kyk na die leierskap. Bied hulle persoonlike opleiding en ontwikkeling vir jou aan? Wie is die mense? Jy moet veilig voel by so ’n maatskappy. Kyk na die vergoeding. Maar die belangrikste is, dat jy ’n dienende hart moet hê. As jy uitgaan en mense dien en jy kan probleme oplos vir mense – dít is wanneer besigheid plaasvind.

BOEK
Jy het pas jou tweede boek, My stryd met ADHD: Die Onsigbare Oorlog, voltooi. Waaroor handel dit?
My eerste boek het gegaan oor my verslawing, hoop en herstel en ek het geraak-raak aan geestessiektes. Ek was gediagnoseer met alles onder die son. In ’n stadium het ek met ’n penneblikkie vol antidepressante en pille rondgeloop; ek was ’n pilpop gewees. Vandag is ek medikasievry; die Here het my absoluut gered daarvan. Maar die een ding waarmee ek chronies gesukkel het, was ADHD (aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteurnis). En dit is waaroor die boek gaan. Oor ADHD en die onsigbare oorlog in jou denke, en ook tussen die farmaseutiese maatskappye en die ouens wat natuurlike gesondheidsprodukte voorstaan.

Hoekom was dit nodig om hierdie boek te skryf?
’n Paar jaar gelede was daar ’n artikel in een van ons bekende Afrikaanse tydskrifte, waarin ’n baie slim dokter oor ADHD by volwassenes gepraat het. Hy het gesê die medikasie is glad nie verslawend nie. Ek het weens Ritalin en Concerta in Weskoppies beland. Toe gaan maak ek een van my sosiale media video’s oor my ervaring met ADHD. Dit het viral gegaan en talle mense het my op sosiale media gekontak. Ek het besef hoe groot die nood is en ouers besef nie wat hulle eintlik vir hulle kinders ingee nie. Ek was oortuig ek moet hieroor praat – hoewel ek ’n bietjie met die Here gestoei het hieroor. Eers praat ek oor my verslawing, nou moet ek oor my geestessiekte en ADHD praat? Die mense gaan dink: Hoe screwed up is hierdie ou! Ek skryf oor my reis. Ek wil nie debatte of oorlog veroorsaak nie. Ek wil mense net bewus maak dat daar baie aspekte is wat in ag geneem moet word.

Gebruik jy natuurlike middels vir jou ADHD?
Ek gebruik wat ek “intelligente aanvullings” noem. Daar is nie ’n kitsoplossing, of net een wonderformule nie. Die werklikheid is dat ADHD ’n holistiese benadering benodig. Dit kan nie net ’n pil wees nie; dit kan nie net gebed wees nie; dit kan nie net gesond eet en oefening wees nie. Daar is soveel aspekte wat in aanmerking geneem moet word en medikasie moet met ontsaglike wysheid toegedien word. Dit moet die laaste opsie wees.

Is daar praktiese wenke vir lesers in die boek?
Die boek is baie prakties. Min ouers weet dat Ritalin en Concerta nooit die probleem sal oplos nie. Dit kan net die simptome bestuur, maar die newe-effekte van die medikasie kan astronomies wees. Net omdat ’n kind nie kan fokus nie, beteken nie hy moet op skedule ses-medikasie geplaas word nie. Ek wil ouers aanmoedig om eers ander opsies te oorweeg. Dieet en intelligente aanvullings speel ’n groot rol. Trauma, verslawing aan sosiale media en die ouers se rol is dinge waarna gekyk moet word. Probeer dalk ander leermetodes – dan floreer sekere kinders. Die wêreld het so verander; jy kan nie meer vir ’n kind sê: “Gaan speel met ’n dolos, want ek het met ’n dolos gespeel nie.” Jy moet die kind se wêreld verstaan.

Hykie, wat is jou mening oor die pandemie en wat dit aan mense doen?
Ek glo vas die Here gebruik COVID-19 om ons van ons trapmeulens af te haal. Mense het begin besef wat belangrik is. Oral waar ons in die Bybel lees oor vrede, is daar iets wat dit voorafgegaan het wat ons moet doen. En die meeste van die tyd behels dit om God te ken. Kyk na Psalm 1: “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie … maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.”
Hy (die Psalmdigter) begeer God meer as enigiets anders. As jy dít doen, kom die vrede oor jou, dan is geld nie meer die belangrikste nie. Paulus sê: “Ek het alles gehad en ek het min gehad. Ek het Jesus, dit is al wat saak maak” (Fil 4:11-13). Die ironie van vryheid is, dit verg dissipline. Of dit nou in jou finansies of gesondheid, enigiets is, dit verg altyd dissipline. Bestee tyd saam met God – dit lei tot vryheid en vrede.

Wat staan ouens te doen wat hand in die hare is?
“There is no motivion like desperation!” En ek weet waarvan ek praat. Ek was ook al daar. Ek lewe volgens dié filosofie. Dit is nie wat met jou gebeur in die lewe wat saak maak nie – want wat met jou gebeur, gebeur met almal – dit gaan oor jou reaksie daarop. As jy wil hê dinge moet verander, moet jy verander. As jy wil hê dinge moet verbeter, moet jy verbeter. Verander! Jy is nie ’n boom nie. God het ons die vryheid gegee om te kan kies. Jy kan besluit waarnatoe jy wil gaan. Jy kan óf glo dat alles mét jou gebeur óf dat alles vír jou gebeur. Dit alles begin by jou denke en jou ingesteldheid.
Die wetenskap het bewys jy gaan ’n kombinasie word van die vyf mense saam met wie jy die meeste tyd deurbring. Jou waardesisteem, die manier hoe jy praat, jou geloofsisteem, jou bankrekening, selfs die klere wat jy aantrek. Julle deel die sg. “mastermind principle”. Die enigste manier hoe jy dit kan verander is deur dit wat jy lees, waarna jy kyk en luister, die mense met wie jy jou omring te verander. Dit is hoekom die Bybel sê “bewaak jou hart” (Spr 4:23), jou siel, jou gedagtes. Dit is die stryd vir ons gedagtes. As jy jou gedagtes met gemors vul, gaan dit ’n uitwerking op jou hê. As jy jouself kan dissiplineer om goeie persoonlike ontwikkelingsboeke te lees van leiers, om biografieë te lees en jy begin luister, sal dit ook ’n uitwerking op jou hê. My hele kar is ’n oudiobiblioteek. Jy belê so in jouself. As jy só begin tyd bestee saam met ouens wat baie slimmer en meer ervare as jy is, sal jy sien – jou lewe sal begin verander.

Jy het ’n kostelike siening oor probleme, deel dit met ons.
Ons is geneig om probleemgedrewe te wees. Ons het die doughnut probleem, ons kyk na die doughnut, maar ons praat net oor die gat. Op die oomblik ís die gat groot, maar dit beteken die doughnut is net soveel groter!

Baie mense sit vandag weens die pandemie sonder werk. Hulle is dalk depressief of moedeloos. Wat is jou slotgedagtes?
Die Here praat met jou op twee maniere: deur groot druk of groot teenwoordigheid. Wanneer die druk groot druk is, word ons gedwing om te verander. Jy het nie beheer oor die wêreldekonomie nie, maar jy het beheer oor jou eie persoonlike ekonomie. Jy moet proaktief wees; leer dalk ’n nuwe vaardigheid aan om meer waardevol in die markplek te wees.

Dit gaan nie oor die wind nie; die wind waai oor almal van ons. Dit is hoe jy jou seile span wat jou bestemming gaan bepaal.

HYKIE BERG is beskikbaar as gasspreker. Indien jy meer inligting wil hê oor besigheids-geleenthede en -seminare, kontak hom gerus by hykieb@gmail.com


9 Junie 2022

 

 

Click here to KEEP UPDATED on the latest news by subscribing to our FREE weekly newsletter.

VRYWARING: Joydigital-nuus ’n Christen-nuusportaal wat voorafgepubliseerde artikels publiseer wat deur skrywers wêreldwyd geskryf is. Elke artikel word aan die oorspronklike bron gekoppel en elke artikel word met die naam van die outeur gekrediteer. Hoewel ons baie artikels publiseer wat deur JUIG! Of JOY!-joernaliste geskryf is, produseer ons nie eksklusief ons eie inhoud nie. Enige sieninge of standpunte wat op hierdie webtuiste aangebied word, is uitsl uitlik dié van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)
More quality content if you check those pages xxx; filme porno; xnxxfr.org; xxnxx; xvideosxnxx.org